Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kyk: Hanlie Retief gesels met Pieter Mulder
Honourable Mulder groet

Nou gaan hy vir altyd huis toe, sê dr. Pieter Mulder op die laaste dag van 2017 se parlementsitting.

Ná 29 jaar en nege maande, nadat hy sewe verkiesings oorleef het, is dit die eindstreep van die parlementêre pad vir dié langsdienende lid.

Die laaste toetrek van A34 se voordeur, die huis in Akasiapark waar sy vyf kinders grootgeword het.

Hy het as gr. 2-seun in dié parlementêre buurt kom bly toe sy pa, dr. ­Connie Mulder, LP geword het.

Toe die parlement in ’n spesiale debat van Pieter Mulder afskeid neem, was daar twee staande toejuigings en die lede het een vir een vertel watter waardige gentleman honourable Mulder is.

Die heel mooiste boodskap kom toe van die Pan-Afrikanis Themba Godi: dat Pieter Mulder se karakter altyd verby sy politiek geskyn het.

Vir oulaas neem hy ons op ’n toer van die parlement. Op die trappies buite die Marksgebou gaan staan hy stil.

“Daar oorkant, op die trappe van die ou Volksraad, het die pasverkose NP-leiers altyd uitgestap gekom met die juigende skare onder hulle.

“Ná ’94, met die NP in opposisie, het Marthinus van Schalkwyk as nuwe NP-leier nie daar nie, maar uit die Marksgebou gestap, sonder enige fanfare.

“As ek hier staan, herinner dit my elke keer: dis hoe magsverlies lyk.”

Op die hoek van die Marksgebou gly sy vinger oor ’n holtetjie in die sandsteen. “Op pad parlement toe het genl. Smuts altyd sy knipmes hier geslyp.”

Binne is die parlement byna leeg, die aandag is noord, by Nasrec by die lotsbepalende ANC-leiersverkiesing.

In die ou Volksraad stap Mulder tot by die groen agterbank waar hy in 1988 begin het.

Connie Mulder, Pieter en sy broer De Wet.

“Dis ’n harde, rowwe plek dié, dit neem jou ’n goeie tien jaar tot by die voorbanke. Die ou voorbankers het vir ons gesê: ‘Julle het twee take, julle moet beleid verduidelik, julle máák dit nie, en julle moet pepermente aanstuur vir die voorbankers.’ ”

Dit is onbillik om ’n politikus sonder dié ervaring ’n leier te maak, sê hy.

“Mmusi Maimane is ’n oulike domineetjie, maar hy is in die diepkant ingegooi.”

Hy en Corné, sy broer en ook ’n LP, het in die Tuine gaan stap toe hul mede-KP’s destyds teen die onderhandelinge gestem het. “Ons was pro-onderhandelinge en het gesê die trein gaan vertrek sonder ons.”

Verwoerd is in dáárdie bank vermoor, wys hy.

“Toe ek hier gekom het, was hier nog ’n matjie oor die bloedkol op die tapyt. Dit was tog ’n bietjie skokkend.

“My pa het daar agter gesit, en my ma was in die galery. Sy onthou die jong bode met die donker krulhare, want gewoonlik was hulle ou omies.

“Verwoerd het geglimlag en sy hand uitgesteek vir die nota, en toe slaan die man op sy bors en toe hy terugtrek sien sy die mes.”

Sy ma is al 90, maar sy hou elke middag vir Pieter en Corné op TV dop in die parlement. “En dan bel sy my as my das nie by my hemp pas nie,” glimlag hy.

Van 1958, behalwe vir tien jaar, was daar ononderbroke Mulders in die parlement. As dit van hom afhang, is hy en Corné die laastes.

“Opposisiepolitiek is swaar. Jy kan nie mense lok met poste nie, jy werk net vir ’n ideaal,” sê hy terwyl ons vinnig in ’n hysbak spring.

As ’n trosie het hy elke aand, ná ’n lang sitting op pad terug Akasiapark toe, eers vir hom ’n roomys in Canal Walk gaan koop voor hy na sy “koue, kale huis” ry.

“Dis ’n eensame lewe, partykeer.”

Hy vertel hoe ’n bode hom eendag uit die sitting geroep het vir ’n dringende oproep. “Dit was my dogtertjie. Sy was vier jaar oud, sy wil gaan swem, haar ma het gesê sy moet ’n hempie aantrek, nou appelleer sy na haar pa toe. Moet sy dit aantrek of nie?”

Toe sy pa LP was, het hulle net drie oproepe per maand gekry. Die jong Pieter het vooraf ’n lysie gemaak om als in dié drie minute in te pas. “Tot die sentrale sê jammer, tyd verstreke.”

Pieter se pa, dr. Connie Mulder, wens hom geluk nadat hy sy eerste verkiesing as stadsraadslid gewen het.

By die Nasionale Vergadering gaan sit ons in die galerystoele. Dis hier, in die 23 jaar, waar hy – ’n professor in kommunikasiekunde – wérklik geleer het van verskillende kulture en waardes.

Toe Buthelezi nog in die kabinet was, het hy een naweek in Ulundi vir Mandela en die ANC vreeslik sleggesê.

Hier kom ’n skorsing, het Mulder vir sy kollegas voorspel.

Maar die Maandag was dit comrade-comrade-drukkies soos altyd. “ ’n Inkatha-lid verduidelik toe: daai plek (Ulundi) het vir daai woorde gevra, hierdie plek vra vir hierdie woorde en Mandela en Buthelezi verstaan dit albei.”

Dit is in die beleidskomitees waar partygrense afbreek en mense mekaar leer ken.

Een van sy eerste komiteesittings was ’n uitgebreide debat oor reiskaartjies, glimlag hy.

“Ons moes ’n beleid uitwerk oor reiskaartjies, wie kry hoeveel. Dit klink eenvoudig, maar as jy vier vroue het, kry jy vier keer soveel kaartjies? En jou mistress? Ek sê nog dis tog absurd, en hulle antwoord: ‘Nee, jy dink Westers.’

“Een keer bel ’n vrou van Durban-lughawe en sê sy kan nie vlieg nie, haar man het sy mistress op die lys gesit . . . Die groot vraag is: kan ek my eie waardes behou en respek afdwing, maar ook probeer verstaan dít wat anders is as myne?

“Dis miskien wat ek hier geleer het,” sê hy en kyk oor die rye en rye leë stoele.

“My truth and your truth,” het hy in sy afskeidstoespraak gesê en agterna ’n drukkie van ’n EFF-vrou gekry.

“Ek en sy het altyd in die hysbak gesels oor ons kinders. Op die ou end is verhoudinge alles.

“Die EFF het wild en vol vooroordele hier aangekom, maar iewers ontmoet ’n mens mekaar en vier, vyf jaar later het die plek jou geskaaf.”

Kan ek my eie waardes behou en respek afdwing, maar ook probeer verstaan dít wat anders is as myne?

Mulder se besluit in 2009 om adjunkminister in Zuma se kabinet te word, het gemaak dat van sy eie mense teen hom gedraai het. Daar is gesê hy’s die volgende Kortbroek, gekoöpteer tot oor sy ore.

“Eintlik wou ek nie, dit sou te veel spanning bring. Ons dagbestuur het tot laatnag daaroor in ’n telekon gedebatteer. Dan wys ek vir my vrou duim boontoe, dis ’n nee, en dan glimlag ons, en toe . . .”

Vyf jaar lank was hy ’n adjunkminister. Elke twee weke ’n kabinetsitting, elke ses maande ’n driedaglegotla.

Trevor Manuel, Naledi Pandor en ­Aaron Motsoaledi was “veral voortreflik”. Nou nog, as hy verby die banketsaal langs Tuynhuys ry, trek sy maag saam. Dis waar Zuma se super-groot kabinet vergader.

“Elke kabinetsvergadering was ’n ernstige krisis. Met my aanstelling het ek vir Zuma gesê ek gaan openlik van hom verskil, toe sê hy ek moet dit net vooraf in die kabinet sê. En dan is die agenda 400 bladsye, so ek sit tot drie-uur snags om te bepaal waaroor ek moet argumenteer.

“En dan vra hy: ‘Dr. Mulder, why are you so quiet on number 2?’ Dan sê ek: ‘Nee, ek wag vir jou by no. 4.’ Ek was ’n bietjie ’n skaap ter slagting.”

Die kabinetslede baklei dat die rookwolke staan, vertel hy. “Die faksies – kapitaliste, kommuniste, sosialiste, die vakbonders, die Pan-Afrikaniste, dié tussenin. En partykeer gryp hulle mekaar, en dit maak nie sin nie, hulle kom uit dieselfde groepering, tot ek hoor tien jaar terug het dié ou daai een se vrou afgevry,” grinnik hy.

Ná alles was dit die regte besluit om in die kabinet te dien, hy kon tóg beleid beïnvloed, sê hy en sy kakebeen trek styf op die Mulder-manier.

Buite die saal talm ons ’n oomblik by die vertaalhokkies. Dis ’n groot trots, dié vertaaldiens. Ná agt jaar se gestoei is 10% van die parlement se verversingsbegroting besnoei en nou is die debatte in al 11 tale.

Toe die kuns-en-kultuur-komitee die geldkrane vir dié “evil apartheidsmonument” wou toedraai, het Mulder ’n toer na die Taalmonument gereël.

“Daar kon ek die simboliek verduidelik, die invloede op die taal, en sommer byvoeg die meeste Afrikaanssprekendes is nié wit nie. En toe sê die voorsitter: ‘You know, this is a very ­honest monument.’ Die begroting is goedgekeur.”

Met die beleidskomitees doen die parlement vir die eerste keer sy werk soos die Amerikaanse Kongres, sê hy.

“Ons takel ministers. Of dit ’n nuwe benadering is, of net deel van die ­Zuma-Ramaphosa-geveg, sal ons nog sien.”

Op die balkon buite die parlement-restaurant kyk ons uit oor Tuynhuys en sy fop-Versailles-tuin. Middagete is verby. ’n Paar kombuistannies steek ’n dampie in die hoekie.

“Ai, doktor, ons gaan jou mís, maar maak nou die beste van die rus, nè,” sê een en skinder ’n bietjie by: wortelkoek is hierdie oom se groot swak.

En baie dae ook die hoogtepunt in dié droewe plek, beaam hy.

Later terg Triena Mulder haar wederhelf met wie sy 44 jaar getroud is. “My seun sal vir jou sê moenie hom ’n vraag vra nie, hy gaan jou antwoord en dit gaan lank wees.”

Hy wil nou ’n boek skryf, maar dis laag op Triena se agenda. Hulle gaan in Januarie Antarktika toe. Dié twee reis avontuurlik. Haar man se woorde was skaars koud dat hy die kanale wil sien, toe vaar hulle op die Panama-kanaal.

Pieter: “Maar vir die Suez-kanaal het ek gesê wag ’n jaar, daar’s oorlog.”

Triena: “Toe wag ek 12 maande, en toe’s ons daar.”

Pieter lag: “Ons moes drie dae binne bly vir die seerowers en oorlog. Toe besef sy dit is dálk ’n krisis.”

Sondae is die Mulders almal om een tafel in Potchefstroom, al vyf kinders en agt kleinkinders.

“Die desibels is baie hoog, maar ons is almal saam en hoor hoe gaan dit met elkeen se lewe.”

Pieter het as mens nooit verander nie, maar hy het grys geword tydens sy adjunkministerskap, sê Triena.

“As mense lelik oor hom praat, wou ek dit uitskree: dis nie die man met wie ek getrou het nie.”

Pieter: “Die ontvangkant van onbillikheid is swaar.”

Tydens die Muldergate-skandaal het die jong Pieter een dagbreek koffie en beskuit uitgedra vir die fotograwe waar hulle in die veld voor die Mulder-vakansiehuis in Yzerfontein gewag het.

“Hoe nader ek kom, hoe dieper sak hulle in die gras. Laat in die dag vra ek: ‘Is julle nie bang ons gryp julle nie? Ons wil eintlik vakansie hou . . .’

“Toe sê die een, ‘Nee, die Mulders is te beskaafd, julle sal ons nie gryp nie.’ ”

En nou, ’n halfeeu later, groet Themba Godi en die parlement hom: Gaan heen in jou stille waardigheid, honourable Mulder. Izwe Lethu iAfrika.

Meer oor:  Parlement  |  Aftrede  |  Vryheidsfront Plus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.