Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kyk: Hanlie Retief gesels met prof. Mark Solms
‘Niks doen is ’n groter risiko’
Op Solms-Delta, waar die werkers 45% van die plaas besit, is daar nie meer base en klase nie. Hier is Solms saam met Adam Pietersen.

Op hul webtuiste, bo-oor ’n volskermfoto van rye wingerde welbehaaglik in die goue middagson oor die Franschhoekvallei, lees jy: Welkom in Solms-Delta. Soveel meer as ’n wynlandgoed.

In Engels, natuurlik.

Skakels kliek jou na Ons Storie – van ’n professor-doktor wat “nuwe lewe” in die “verwaarloosde” Delta-plaas kom blaas het en saam met sy filantropiese Britse buurman die plaaswerkers red uit die spiraal van historiese agtergeblewenheid.

Jy lees: This is how a doctor understands what needs to be put right.

Jy lees oor die Museum van de Caab met sy opgegraafde artefakte en die Music van de Caab met sy musiekprojekte. En dan die laaste skakel: Sakeredding.

Ghoemp. Daar sink die transformasiesprokie soos ’n R395-Solms-Deli-piekniekmandjie tussen die waterlelies van die nabye Dwarsrivier. Sober dokumente, beëdigde verklarings en amptelike stempels vertel die klassieke storie van ’n plaas wat bo sy vermoë leef: te veel uitgawes en te min inkomste.

Solms-Delta is die heel eerste 50-50-plaas in die Wes-Kaap waar boere die helfte van hul plaas aan werkers gee.

Desember was Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, daar met ’n tjek vir R65 miljoen uit die Nasionale Bemagtigingsfonds om die werkers se aandeel van 33% te verhoog tot 45% (die staat hou eers 5% “om te kyk of die ding gaan slaag”) en met dié finansiële inspuiting die plaas te red van bankrotskap. Nkwinti was vol lofliedere oor hoe dié 325 jaar oue plaas die vlagskip vir grondhervorming is.

Solms, ’n wêreldbekende psigoanalis, noem homself nie ’n wynboer nie, maar ’n wyndenker.

In Solms-Delta se historiese eetkamer huiwer die koffiekan waarmee hy ons koppies vul as ek vra: Psigoanalise help toe nie vir vrot balansstate nie?

“Ek het nie gedink dinge gaan so uitdraai nie. Maar ek is nie spyt hieroor nie. Ek is ook nie verras nie. Ek is nie ’n boer nie. Ek is nie eens náástenby ’n boer nie. Maar soos dinge geleidelik ontvou het, het ons gesien, gosh, ons gaan meer kapitaal benodig as wat ons gedink het.”

Faal en flop is egter nie woorde wat dié professor met die effens deurmekaar hare aanstaan nie. Hy is gebelg oor Rapport en Sunday Times se berigte oor Solms-Delta, waar sakeredding nét betyds gekom het.

Baie mense is teen grondhervorming – hulle wil gráág kan sê dit werk nie sodat alles dieselfde kan bly.

’n Kommersiële bank was op die punt om die plaas te laat likwideer.

“Mense maak nou of dit ewe skielik ’n onverwagte katastrofe is, maar dis nie die geval nie. Dis nie oor ons misluk het nie, maar omdat ons begin sukses behaal het.”

Dis Schadenfreude, sê die prof.

“Baie mense is teen grondhervorming – hulle wil gráág kan sê dit werk nie sodat alles dieselfde kan bly.”

Hy en Richard Astor, sy buurman, het in 2007 verbande op hul plase geneem om ’n derde plaas langsaan vir R46 miljoen vir hul werkers te koop.

In die hoogs mededingende wynbedryf het die R6 miljoen bankrente jaarliks – plus hope transformasieuitgawes – te straf geraak.

Hy sê dis onwaar dat die bemagtigingstransaksie met die regering op ’n groot hoop skuld gebou is.

“Ons moes eenvoudig daai massiewe klomp skuld maak om die plaas te koop. Ons glo transformasie sónder ­eienaarskap is nie transformasie nie.”

Die vorige eienaar van die plaas het destyds vir hom gesê hy is mal om so ’n groot risiko te loop en “dat ek aan my kinders moet dink”.

Natuurlik is daar ’n risiko, sê hy. Maar om dit nié te loop nie, is ’n groter risiko. “Die wynbedryf is 99% steeds in wit hande. As óns (plaaseienaars) nie iets daaromtrent doen nie, gaan ánder dit doen.”

Hulle was nie “sommer net twee rich kids met ’n wynplaas nie” – hulle wou die werkers eienaarskap gee.

“Jy kan nie vir arm mense sê: ‘Dis jul grond dié, maar julle skuld miljoene en eers jul kleinkinders sal eendag die vrugte pluk’ nie. In dié land vertrou mense nie sulke stories nie.”

Dus het hulle ingespring met nuwe wingerde en ’n kelder en “net die keldervloer kos klaar miljoene”.

“Die werkershuise was in ’n aaklige toestand, sonder behoorlike riolering; dit het net so in die grond gesypel,” trek sy gesig.

“Toe bou ons aangename huise waar jy ’n gesin kan grootmaak sonder om hulle te traumatiseer.”

Krag, internet, DStv, volle mediese sorg vir die werkers, voorskoolse onderrig, remediërende klasse, die lys is lank. Onderwysers het selfs die kinders smiddae kom help met huiswerk.

“Hulle het gesê die skole waarheen die kinders gaan, is nie goed genoeg nie, toe koop ons busse en ry die kinders na die skole op die dorp.”

Een is ’n private skool.

“Die hoofding is, alles kos geld. Wat baie mense nie besef nie, is dat ons tien keer beter sou vaar as ons nie die plaaswerkers se situasie so verbeter het nie. Ons wynverkope het gestyg en ons wyne het goeie resensies gekry.”

Iewers langs die pad kom hulle toe agter die uitgawes en winslyne se paaie skei dramaties . . . “Ons besef toe ons gaan nie betyds ’n wins maak nie.”

Effens onoordeelkundig met hul geld?

Nee, sê hy.

“Jy kan tog nie sónder ’n kelder, wingerde en bottels nie. En as dit verkeerd was om te veel vir die werkers te doen, sal ek dit weer presies so doen.”

En net toe, op sy 50-50-witperd, verskyn minister Nkwinti met dié nuwe beleidsraamwerk. Solms het skaars op Talk Radio 702 kommentaar gelewer oor dié “wonderlike” beleid, toe bel Nkwinti se kantoor wat hom gehoor het en hulle sê: “Kom ons praat.”

“En ek sê dis presiés wat ons ook nodig het.”

Met belastingbetalersgeld sou hulle die werkersaandeel kon vergroot tot 50%, van hul skuld ontslae raak én die plaas herkapitaliseer.

“Hul (die regering se) houding was heel korrek: ‘Kyk, julle ouens is duidelik nie sakemanne nie. Jy’s ’n professor en Richard is ’n filantroop. Julle het groot drome oor wat julle wil bereik, maar die besigheid kan waarskynlik beter bestuur word.’

“Die belastingbetaler het nie die plaas gefinansier nie,” beklemtoon hy.

“Die grond behóórt aan die belastingbetaler. Met die nuwe sakeplan, wat deur ’n onafhanklike assessor opgestel word, gaan die regering ’n baie klein bykomende belegging maak in ’n plaas wat ’n model vir grondhervorming gaan wees.

“As die belastingbetalers nié sulke grondhervorming finansier nie, gaan hulle die gevolge dra. Dis die regering se verantwoordelikheid om toe te sien dat grondhervorming lewensvatbaar is.

“Die mense ondersteun nie vir my en Richard nie, maar ons is gewone mense wat alles op die spel geplaas het om ’n grondhervormingsmodel te ontwikkel wat wérk,” sê hy en jy hoor die heroïsme in sy stem.

Hy vertel hoe hulle in die beginjare private beleggers gesoek het – “mense wat veronderstel was om verlig en progressief te wees”. Maar sodra beleggers hoor daar’s nie geld te make nie, maar mense word gehelp, dan verdwyn hulle vinnig. “Dis hoekom ons ons na die regering gewend het, want dis hul verantwoordelikheid.”

Hulle, asook die regering, het ’n verdere bydrae van R7,5 miljoen gemaak.

“Dit sal ons deurhelp na winsgewendheid.”

Ook net betyds. Die krediteure was al ámper by Solms-Delta se imposante ingangshekke. “Tot gister het geen krediteure ons nog gedagvaar nie. Hulle sal hul geld nou binne twee weke kry.”

Die les wat hy geleer het?

“Moenie tot op die laaste wag voordat jy die regering nader om hulp nie. Ek kritiseer nie die regering nie, ek is dankbaar vir hul steun, maar hul wiele draai stadig. Dis boonop die eerste keer dat so iets gedoen word.”

Sakeredding, benadruk hy, “beteken nié die plaas het misluk nie, dis om seker te maak dit misluk nié. Dit koop vir jou die tyd om al jou planne reg te kry.”

In 2001, toe hy ná 14 jaar in Engeland die plaas oorgekoop het, was hy naïef in sy droom vir Solms-Delta, erken hy. En hy lyk skielik ’n bietjie soos Gérard Depardieu in die fliek Jean de Florette – waar ’n deurmekaarhaar-intellektueel ’n Franse plaas erf en naïef en noodlottig met konyne begin boer.

In hierdie einste Kaaps-Hollandse eetkamer het hy heel aan die begin die plaas se sewe werkerfamilies ontmoet.

“Ek het vir hulle gesê ek is nie ’n boer nie, hoe kan ons hierdie plaas saam verander?”

Die werkers se reaksie? Hulle het na die blink vloer – al van voorouertyd skroppend en polerend hul handewerk – gestaar en onder mekaar gefluister: “Waar val hierdie oom uit . . .”

Toe Solms boonop ruim dienskontrakte aanbied, het hulle begin laat opdaag vir werk, Maandae weggebly, gedoen net wat hulle wil.

“Hulle het gedink ek is ’n idioot.”

Dit het hom ontnugter. “Hulle het selfs die pomp uit die rivier gesteel en verkoop. En ek dog: Hier probeer jy die goeie outjie wees en daar steel hulle jou rot en kaal. My buurman hét my gewaarsku hulle vat met die regterhand en steek jou met die linkerhand.”

Hy voel skuldig, want hy’t sy dogter en seun uit “weelderige omstandighede” in Engeland gehaal en hier kom neerplak.

Maar as jy werklik wil stoei met die gemors in hierdie land, die gemors in ons siéle, die manier hoe ons ís met mekaar, ons morele waardes – moet jy dit in die oë kyk en aanpak. Sê die professor.

Dis wat hulle op Solms-Delta gedoen het. Saam met historici het hulle die plaas oopgegrawe tot by sy slawe­wortels. “Dit het die verhoudinge op die plaas heeltemal verander.”

In sy beëdigde verklaring sê Craig MacGillivray, Solms-Delta se uitvoerende hoof, daar was te veel klem op maatskaplike kwessies ten koste van winsgewendheid. Te veel bestuurders, te veel oorhoofse uitgawes.

“Ons moes nou alles erg besnoei om deur die oog van die naald te kom,” erken Solms.

Aan produksiekant is alles nog dieselfde, maar die werkers betaal nou self hul DStv en dra meer by tot mediese sorg. Van die kinders is uit die private skool terug in openbare skole.

Solms-Delta span nou saam met Boschendal vir beter tariewe vir internettoegang en skoolhulplesse, asook voorskoolse onderrig.

In Rapport se berig verlede week sê ’n plaaswerker hulle wil graag weet waar is hul geld (dividende), want hulle het “geteken om aandeelhouers te wees”. Is dit nou weer volsirkel met werkers wat vloer toe kyk in Solms-Delta se eetkamer? Dividende was nooit ter sprake nie, verduidelik hy. Die werkers weet hulle is nie aandeelhouers in eie naam nie en dat die trustees sal besluit oor dividende, mits die maatskappy winsgewend is.

Dit is eintlik tragies, sê ’n kenner in die wynbedryf, want die idee is edel, maar die konsep gedoem. Solms-Delta is te klein om volhoubaar in die wynbedryf te wees. “Die model was altyd gebou op ’n filantroop wat dit uit eie sak sou moes finansier.”

Dit was net ’n fout as jy dink hulle het misluk, en hulle het nie, sê Solms.

“Dis die begin van Solms-Delta se sukses. Dit verstom my eintlik, maar ons het nog ’n geleentheid in hierdie land vir die transformasie van ons landbougrond. Ons moet dit máák werk.”

* Die nuwe reeks van ’n Halfuur met Hanlie skop af met ’n onderhoud met Leon Schuster. Hy vertel van sy groot fliekgrappe, die dag as die swart hond jou gryp en hoekom Die Liefde wegkruipertjie met hom speel. Sondagaand om 20:00 op via (DStv 147).

Meer oor:  Solms-Delta  |  Grond  |  Sakeredding  |  Plaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.