Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
KYK: Hoekom mag Serena nie 'n John McEnroe wees?

Sy wonder hoe sy sou opgetree het as sy Serena Williams was? vra Carryn-Ann Nel.

Serena Williams gil op die skeidsregter, Carlos Ramos, in die vroue-eindstryd van die Amerikaanse Ope teen Naomi Osaka van Japan. Foto: Danielle Parhizkaran/USA TODAY

Niks maak so seer as om te sien hoe jou sportheld dinge doen of kwytraak wat jou dalk nie gemaklik laat voel nie. Soms laat dit jou warm onder die kraag. En soms laat dit jou net dink: Ek wonder hoe ék sou opgetree het.

Vra my. Op skool het ek Herschelle Gibbs verafgod.

Dit was dus vir my moeilik om te sien hoe Serena Williams, een van my groot heldinne, haar Sondag in die eindstryd van die US Ope gedra het. Ek moet bieg: Haar optrede het my nie net laat regop sit nie, maar laat wonder of sy nie dalk oorreageer nie.

Nog belangriker: Dit was vir my moeilik om te sien hoe ’n 20-jarige Naomi Osaka haar oorwinning in trane moes aanvaar.

Sy is uitgejou omdat sy te groot is, omdat sy nie gebou is soos die “standaard-vrouetennisspeler” met die slanke bene nie.

Serena was nog nooit iemand wat stilgesit het en bloot toegelaat het dat mense oor haar loop nie. Vir haar was dit nog altyd belangrik om te baklei vir vroueregte, maar ook om te baklei vir regverdigheid. Vir dít wat sy telkemale moes hoor voor die deur van vrouwees gevee moet word. ’n Mens kan die oomblik hoor toe haar stem breek toe sy vir die skeidsregter gesê het: Genoeg.

Vandag kry julle my nie onder nie

Maar ondanks die ongemak wat ek gevoel het, moes ek myself uit die prentjie haal en in Serena se skoene plaas. Wás sy geregverdig in haar optrede?

Serena was vir jare reeds aan die ontvangkant van kritiek, nes ons eie Caster Semenya. Sy is uitgejou omdat sy te groot is, omdat sy nie gebou is soos die “standaard-vrouetennisspeler” met die slanke bene nie.

Sy baklei vir gelyke betaling. As sy teen ’n teenstander verloor, sien sy dit as: “My opponent didn’t win, I lost.”

Sy is nie op haar bek geval nie.

Deur alles weet ons een ding: Sy vra vir gelyke behandeling, of jy nou van haar hou of nie. En dit is ’n geldige versoek. Skeer ons asseblief almal oor dieselfde kam.

Dalk was daardie oomblik vir haar een van regverdigheid, ’n oomblik toe sy gevoel het sy moet nie net namens haarself praat nie, maar namens ’n groter gehoor. Dalk het sy net gevoel: Vandag kry julle my nie meer onder nie.

Ek het grootgeword met John McEnroe as hierdie rabbedoe, ’n half hardegatspeler wat nie geskroom het om sy sê te sê as hy geglo het dat hy onregverdig behandel is nie.

As ’n mens haar agtergrond verstaan, weet ’n mens, trouens verwág ’n mens, dat sy gaan opstaan vir haar regte.

In al haar onderhoude, ná haar nederlaag, sê sy dat sy nie dieselfde behandeling kry nie omdat sy ’n vrou is.

Ek het grootgeword met John McEnroe as hierdie rabbedoe, ’n half hardegatspeler wat nie geskroom het om sy sê te sê as hy geglo het dat hy onregverdig behandel is nie. Dit het van hom ’n superstar gemaak. Hy word in die geskiedenisboeke hiervoor onthou en selfs met nostalgie herdenk.

En dan kry ons vir Serena. Haar stem breek elke keer. Elke vrou ken daardie breek, want iewers in hul lewe het hulle al dit oorgekom. Dit gaan oor die pyn wanneer jy keer op keer vir gelykheid baklei.

Haar stem wat breek is die antwoord tot hierdie hele sage. Die “ek het nou genoeg gehad”.

Osaka moes die wedstryd gewen het en sóú gewen het, glo ek. Vir iemand om ná al hierdie drama steeds gefokus te bly, verg soveel deursettingsvermoë dat niemand daardie wen meer verdien het as sy nie.

Maar vir Serena gaan dit nie oor wen of verloor nie – maar om die spel van regverdigheid en geregtigheid.

Het sy dalk oorreageer? Dis vir ons elkeen om te besluit, maar dit gaan vir haar oor die groter prentjie: Gelykheid.

Behandel my dieselfde as wat julle mans behandel en ek sal dit aanvaar, is wat sy eintlik sê. Maar wees regverdig teenoor my en ander vroue in hierdie posisie.

Tennis is tog ’n spel van liefde, of hoe?

Meer oor:  Serena Williams  |  John Mcenroe  |  Us Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.