Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kyk na Binding se EFF-hou en word baie wys

Nog nooit het een klein daad soveel gedoen om soveel te bereik nie.

Charles Smith

Eckhard Binding het eers die land verstom gehad met sy optrede en toe het die wêreld behoorlik gegons oor hoe hy die EFF stilgemaak het.

Die video waar hy die rommel doodluiters weer en weer optel wat twee skoonmakers met EFF-drag weer en weer uitgooi, het van hom oornag ’n held gemaak.

Almal is behoorlik keelvol vir die sinlose aanvalle, ontwrigting van klasse en vandalisme op kampusse. En veral vir die EFF- en Black First Land First-skurke wat alles wil breek en verwoes.

En hier kom een ou en sonder om iets te sê, gooi hy die EFF en hulle hele beleid en optrede in Suid-Afrika se asblik. Nie een van die politieke partye se ellelange manifeste vol beloftes en regrukplanne kon dié reaksie ontlok nie.

Dit is so doeltreffend en skerp dat die feit dat hy wit is en hulle swart, hy ’n man is en hulle vroue, en ook dat hy ’n student en hulle skoonmakers is, nie groot kwessies is nie. Dit het te doen met hoe jy op uitlokkende gedrag reageer en boelies beetkry waar hulle dit die minste verwag.

As Binding dit as AfriForum-lid gedoen het, hoekom nie? Dit is ’n klassieke persoonlike en politieke protesaksie.

Terwyl almal breek, gaan ek bou. Terwyl almal mors, gaan ek skoonmaak. En as julle my vloek en uitlok, ignoreer ek julle.

Sy optrede is egter ’n groot les vir ons almal.

Baie wat hom loof en prys, sou nie dieselfde gedoen het nie. Hulle sou op die vroue geskreeu het, die vullis in hul gesigte gegooi of hulle aangerand het.

Ek het die toets op myself en my seun gedoen. Ek het getwyfel in wat ek sou doen. Ek sou beslis nie die vullis optel nie. My seun was dadelik aggressief. Ek kon dadelik vir hom sê: Kyk na sy optrede en leer ’n baie groot les.

En ons almal kyk weg as ander mors, plunder en verwoes.

Die vorige week moes ek ’n geval hanteer waar hy so kwaad was vir ’n maat se optrede dat hy in trane was. Hy wou net vuiste inlê. Ek het gesê daar is baie sulke mense in die land. Jy moet leer om hulle te hanteer en kalm te bly.

En jy mag nooit slaan nie. Nooit nie.

En dit is ons almal se storie.

Ons is só lus vir mekaar dat ons mekaar nie hoor nie. Ons is so gefrustreerd dat ons eerste aksie geweld is. Ons is só bevoorreg of bevooroordeeld (wit én swart) dat om sélf skoon te maak, ons laaste oorweging is.

En ons almal kyk weg as ander mors, plunder en verwoes.

As ek Binding is, begin ek ’n politieke beweging soos #CleanUPtheRubbish of #MaakSkoon. Maak die land skoon van gemors en skurke sonder geweld. Wees die beter mens. Word ’n leier wat nie praat nie, maar doen.

Ek sal Binding steun.

Vir wie om te stem, twyfel ek. Niemand kry soveel reg deur niks te sê nie soos hy.

Meer oor:  Charles Smith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.