Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kyk net mooi, daar is engele oral om ons
Annemarie van der Walt

Skrik ek drieuur in die nanag wakker met so ’n koue gevoel op die krop van die maag: Bestaan Samson Shabangu regtig? Werk hy inderdaad by die werkwinkel in Letaba? Sê wie?

Voel-voel in die donker na my selfoon, en bekyk vir die hoeveelste keer Samson se Whats­App-profielkiekie. Daar staan hy op ’n strand, wie weet waar, met ’n groot glimlag en sy arms om ’n mooi vrou. Só lyk die man aan wie ek die vorige aand etlike duisende rande oorbetaal het.

Ek skuif onder die dun gewaste kakiekleurige lakens uit, verby die badkamer met die simpel stort wat so effentjies water uitdeel – dit vat ’n mens hoe lank om sjampoe uit jou hare te spoel; gaan staan buite op die stoepie.

Luister of ek ’n hiëna of leeu hoor, maar doer in die verte is dit slegs ’n skopsuil se purr-purr. Hier is ek nou in Mopani-ruskamp pleks van Shingwedzi en skyn die maanlig in alle glorie op ou Rooies, my motor geparkeer by die motorhawe naby die kamphek, alternatorloos.

Gelukkig was ek pas uit Mopani toe al wat ’n liggie begin flikker, die spoed- en brandstofmeter tjoeps val tot nul. Omgedraai en dit net-net gemaak tot by die brandstofpompe.

Hy sal vir Ezekiël moet bel, sê die groot man daar. Dié daag op, toets die battery en sê wa-wa-wag, hy dink ek sit met ’n groter probleem. Verder ry gaan ek dié dag nie.

Drieuur in die nag is dit net so vrek moeilik om blinde vertroue te behou.

My moed sak in my skoene. Daar is geen manier waarop ek die staptog gaan mis waarvoor ek die rieme dunner as ’n laevet-swoerdrepie moes sny nie. Ek wil huil, maar Ezekiël gee my een kyk en sê trane het nog niemand met ’n gekrokte kar gehelp nie. Wat is my plan?

Wel, daar is toevallig familie in Shingwedzi . . . miskien moet ek vra of hulle my motor kan kom sleep? Ezekiël skud sy kop. Hy het ’n beter plan. En bel terstond vir Samson Shabangu in Letaba.

’n Uur later is ’n kwotasie uit Phalaborwa gekry, die geld oorbetaal, en klou ek aan die belofte dat Samson die volgende dag sal opdaag en regmaak. Ja, belowe hy toe ek die soveelste keer bel, môre is jy op die pad, betyds om nog aan te stoot tot doer na Pafuri-grenskamp.

Drieuur in die nag is dit net so vrek moeilik om blinde vertroue te behou.

Ek sit in die donker en bring die voëlkyklysie op datum: Sekretarisvoëls, gompoue, boskorhaan, rooipootelsie, berghaan.

Samson daag die volgende dag op nadat hy teen eerste lig al die pad Phalaborwa toe is vir die onderdeel. Vriendelik, saaklik – hy hét mos belowe, dan nie?

En daardie skemeraand kyk ek uit oor die landskap van Pafuri na die swerms rooibekkweleas wat soos gordyne in ’n bries heen-en-weer, heen-en-weer. ’n Lugballet.

Kyk, wys iemand uit, die swerms lyk elke nou en dan soos ’n engel teen die laaste strale van die son. En ek knik ja, engele is inderdaad oral om ons.

  • Van der Walt is ’n vryskutskrywer van Kaapsche Hoop.
Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Hoop  |  Hulp  |  Vertroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.