Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kyk só na sertifikaat

Die huidige skoolkurrikulum berei leerlinge nie voor vir ’n beroep nie. Michael le Cordeur verduidelik in watter omstandighede ’n algemene onderwyssertifikaat ’n oplossing kan help bied vir Suid-Afrika se groeiende werkloosheidsyfer onder die jeug.

Leerlinge van die Laerskool Jubilee op Uitenhage loop in hul klaskamer in.Foto: Deon Ferreira

Suid-Afrika is die mees ongelyke samelewing ter wêreld met 54% van ons 10 miljoen jongmense werkloos en vasgevang in die siklus van armoede. Daarom behoort ons almal baie harder te werk om nuwe oplossings te vind om die kinders van die armes op te lei. Hiervoor benodig ons ’n nuwe skoolkurrikulum.

Die afgelope week was daar ’n stortvloed van kritiek in die hoofstroom sowel as die sosiale media van individue wat hul kommer uitgespreek het oor die nasionale onderwysdepartement se plan om ’n Algemene Onderwyssertifikaat (AOS) in te stel, wat vanaf 2020 aan die einde van gr. 9 toegeken sal word.

Werklose gegradueerdes

Van die kritiek is dat die gehalte van onderwys sal afneem as leerlinge toegelaat word om die stelsel in gr. 9 te verlaat. ’n Ander punt van kritiek is dat talle lui leerlinge sou besluit om hul skoolloopbaan in gr. 9 te beëindig. Die groot getal werkloses onder gegradueerdes word as rede genoem waarom leerlinge nie ná gr. 9 die skool kan verlaat nie. Indien gegradueerdes nie kan werk kry nie, watter kans het ’n gr. 9-leerling? lui die redenasie.

Die departement is gevolglik bekommerd oor berigte dat die AOS bloot beskou sal word as ’n kans vir leerlinge om die skoolstelsel aan die einde van hul gr. 9-jaar te verlaat. Ek is geneig om met die onderwysdepartement saam te stem. Die AOS kan, indien dit reg geïmplimenteer word, juis die teenoorgestelde uitwerking hê en kan as teenvoeter vir werkloosheid dien. Laat my toe om ’n paar voorbeelde te noem.

Jong entrepreneurs

’n Paar dae gelede bel ek die plaaslike loodgieter om my badkamerkraan te herstel. Wanneer die jongman opdaag, groet hy my vrou spontaan: “Hello, Juffrou!”

Ek besef dadelik dat hy een van haar oudleerlinge moet wees. Hy het nie matriek voltooi nie, want hy het die skool ná gr. 9 verlaat. Al was hy toe ’n “dropout” het John vandag sy eie suksesvolle onderneming.

Ek wou ’n veiligheidstelsel by my huis installeer en ’n vriend verwys my na Brandon.

“Hello, Meneer,” groet hy vriendelik. Ek herken hom net effens. “Gr. 9, 1993 in Weltevrede Sekondêr,” herinner hy my. Brandon se sekerheidsmaatskappy is ’n florerende onderneming met verskeie spoghuise in Wellington op sy boeke.

Tydens die onlangse droogte wil ons ook water bespaar. Ek bel die plaaslike ysterwarewinkel wat my na Jason deurskakel. Hierdie 22-jarige entrepreneur het die geleentheid in die mark gesien en sy eie onderneming begin deur Jojo-tenks by huise te installeer. Sy kliënte koop die benodigdhede by die winkel en in ruil daarvoor verwys hulle die kliënte na hom. Hy sorg dat die tenks al die grys- en reënwater opvang, van waar dit na die tuin en toilette gepomp word.

Ek sou nog talle sulke voorbeelde kon noem. Hierdie jong entrepreneurs het vir hulself ’n loopbaan geskep. Geeneen se skoolkurrikulum het hulle voorberei vir hul beroep of onderneming nie. Vandag is hulle suksesvolle sakemanne; nie danksy die onderwysstelsel nie, maar ten spyte daarvan.

Dit dwing ons om eerlik na te dink oor wat leerlinge op skool leer.

Almal is nie akademies nie

Volgens Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sal die toets vir die inwerkingstelling van dié sertifikaat in Julie 2020 voltooi wees.

Die AOS is gegrond op die wêreldwye onderwysbeginsel dat nie alle mense akademies aangelê is om ’n graadkursus aan ’n universiteit te volg nie. Sommiges beskik oor tegniese en praktiese vaardighede en sal baie beter in ’n beroepsgerigte kurrikulum vaar.

Een van die redes waarom so baie gegradueerdes werkloos is, is na my mening juis dat hulle ’n graadkursus gevolg het wat baie min loopbaangeleenthede bied. ’n BA in drama kan net aan ’n beperkte aantal afgestudeerdes ’n beroep bied. Ek sien jaarliks hoe talle van dié studente hulle by die fakulteit opvoedkunde vir ’n onderwysdiploma kom inskryf.

Beroepsgerigte onderwys

Motshekga sê ’n raamwerk vir die AOS is ontwikkel en die tegniese beroepsgerigte vakke is reeds in ’n kurrikulum verpak.

Tans word assesseringsmetodes daarvoor ondersoek voordat dit vir goedkeuring na Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys, verwys sal word. Dit bied aan my die nodige gerusstelling omdat Umalusi se rol juis is om toesig oor die gehalteversekering van die skoolstelsel te hou. Die plan is om baie meer leerlinge na die tegniese beroepsgerigte onderwys te kanaliseer en om jaarliks 10 000 ambagslui aan die arbeidsmark te lewer.

Bewys dat hierdie prosesse nie in isolasie plaasvind nie, is dat die departement reeds nuwe vakke soos tegniese wiskunde en tegniese wetenskap ingestel het wat ’n relevante en ondersteunende rol sal speel by leerlinge wat in hierdie vakrigtings wil spesialiseer.

Toe ek vroeër vanjaar die matriekuitslae onder die loep geneem het, het ek juis geskryf dat die eerste eksamens in hierdie nuwe vakke reeds verlede jaar afgelê is. Die AOS is ook nie ’n nuwe gedagte nie aangesien besprekings hieromtrent reeds in Januarie begin het.

Die departement is van mening – en ek steun dit – dat die AOS die probleem dat honderdduisende leerlinge jaarliks die onderwysstelsel sonder enige nasionale kwalifikasie verlaat, sal oplos.

Meer as die helfte van die leerlinge wat ná gr. 9 verder leer, haal nooit matriek nie, hoofsaaklik omdat die huidige skoolstelsel steeds te akademies georiënteerd is, wat duisende leerlinge glad nie interesseer nie en hulle ook nie vir die wêreld van werk voorberei nie.

Die doel van die AOS is om ’n tasbare bewys te lewer dat leerlinge in die laaste tien jaar van hul onderwys ’n sekere stel vaardighede opgedoen het. Leerlinge kan dan besluit of hulle verdere opleiding wil ondergaan, byvoorbeeld aan beroepsgerigte opleidingskolleges.

Lewensvatbare opsie

Die gedagte is dus nie dat gr. 9 beskou moet word as ’n uittreevlak uit die skool nie, maar nie alle kinders het matriek nodig nie.

Daar is ’n voorwaarde: Indien leerlinge in gr. 9 die skool verlaat, moet daar genoeg beroepsgerigte opleidingskolleges wees waar jong entrepreneurs, wat as ambagslui opgelei wil word, geakkommodeer kan word. Dit moet so normaal wees vir die tegniese leerling om ná gr. 9 by ’n kollege in te stap soos wat dit normaal is vir die akademiese leerling om by die gr. 10-klas in te stap.

Dit vereis ’n gesofistikeerde infrastruktuur wat, is ek bevrees, nog nie bestaan nie. Voorts sal dit heelwat bewusmaking en bemarking deur die departement verg voordat ouers die paradigmaskuif weg van die tradisionele universiteit sal maak. Hier lê vir die onderwysdepartement nog baie werk alvorens die mooi en edele doelwit van beroepsgerigte onderwys ’n lewensvatbare opsie sal word.

Nog ’n voorvereiste

’n Tweede voorvereiste vir dié ambisieuse plan is dat die leerlinge indiensneembaar moet wees aan die einde van sy skoolloopbaan, of dit nou ná gr. 9 of 12 is. Jongmense moet dus verder opleiding ondergaan in hul belangstellingsrigting en ’n sertifikaat daarin verwerf.

Sodoende sal die AOS as bewys dien dat die leerling nie net verder in ’n spesifieke rigting opgelei is nie, dit sal ook dien as ’n geakkrediteerde kwalifikasie dat die leerling oor ’n stel vaardighede beskik wat hom of haar toelaat om ’n bydrae tot ons ekonomie te lewer.

Ek wil my dus vereenselwig met prof. Elda de Waal dat gr. 9 nie as ’n kind se einddoel gesien moet word nie, maar eerder as ’n geleentheid om verder te leer.

Nie almal hoef mediese dokters te word nie; ons benodig ook ambagslui om die hospitale te bou.

  • Prof. Le Cordeur is hoof van die departement kurrikulumstudie in die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Onderwys  |  Onderrig  |  Entrepreneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.