Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kyk terug om vooruit te kyk

Mense het verskillende emosies as dit by die terugkyk na en onthou van gister kom.

Laetus O.K. Lategan

Vir sommige is dit die herleef van mooi herinneringe. Baie verhale word met “onthou jy nog?” ingelei. Vir ander is dit die onthou van ’n slegte gebeurtenis. Ek wil liewer vergeet, is een van die reaksies. Nog ’n emosie is dat dit “water onder deur die brug” is. Wat gebeur het, kan nie ongedaan gemaak word nie. ’n Ander mening is dat met die “weelde van terugskouing” ’n saak dalk anders gesien of selfs beoordeel kan word.

Onlangs moes ek noodgedwonge ook terugkyk na gister. Ek was op soek na niks en wou ook nie van iets vergeet nie. Daar was eenvoudig net nie meer bergplek vir al die gisters se boeke, lêers en dokumente nie.

Die aanpak van hierdie taak het eers met ywer geskied, maar later het dit al hoe stadiger gevorder. Jy lees hier en daar, blaai deur, kyk foto’s, probeer name­ onthou. Wat onbelangrik is, word versnipper. Ander artefakte word gehou – hierdie keer net sorgvuldig ge­liasseer.

Die herinneringe van gister laat ’n mens skaterlag, glimlag en selfs bloos.

Ander roep rou emosies op. Jy wonder ’n oomblik hoe dit kon. Hoekom het dit? Erger nog of alles nodig was. Die hoop weggooigoed word al hoe groter; die hou al hoe kleiner. Gou begin ’n mens besef dat weggooi méér is as om net ruimte te skep. Ons almal het nodig om op te ruim. Soos jou ruimtelike spasie te min kan word, so kan ook jou emosionele spasie se kapasiteit opraak.

Soos ek bly wonder het oor hierdie oefening om op te ruim, het ek aan die filosoof Marthinus Versfeld se opmerking gedink. Versfeld het gesê opruim is ook ’n geloofsoefening. Dit leer jou om los te kom van die lewe – al is dit gister se lewe­. Opruim, sou ek verder kon sê, leer jou om te hou wat jy nodig het. Verder is nie alles waardeloos wat jy wegmaak nie. Dit waarvoor jy nie nou nut het nie, kan maar aangegee word. Vir ander het dit nuwe waarde en betekenis.

Jammer om te sê, maar nie alle verbintenisse of gebeure het goed of sonder hartseer geëindig nie.

Die opruim van gister beteken allesbehalwe dat jy klaar is met die verlede. Jy is wel klaar met die “bewysstukke”, maar nie met die lesse wat jy geleer het nie. Baie mense en gebeure kom oor die lewenspad. Ek het van almal en uit elke situasie iets geleer. Daar is diegene waarsonder jy nie jou lewe, persoonlik of professioneel, kan indink nie.

Daarom sal sommige boeke nie die rak kan verlaat of die brief uit die lêer verdwyn nie.

Jammer om te sê, maar nie alle verbintenisse of gebeure het goed of sonder hartseer geëindig nie. ’n Natuurlike reaksie­ is seker om alle herinneringe daaraan te vernietig. Jy kan dit doen, maar nie voordat jy die emosie of situasie ook hanteer het nie.

Die terugkyk het uiteindelik ’n geloofsreis geword. Gister vertel van baie planne, maar genadiglik het nie alles in plek gekom of uitgewerk nie.

Dankie daarvoor!

Die lewe neem dikwels ’n ander draai met jou as waarvoor jy beplan het. Die boek Spreuke is reg dat planne van die hart van die mense is, maar die Here gee die antwoord (Spreuke 16:1).

’n Bemoedigende vers bly: “Mense kan loot, maar die Here bepaal hoe dit uitkom” (16:33).

Teologiese begrippe oor God se voorsienigheid en Sy bestiering of vrae soos waar sy Hand in die geskiedenis is, kry betekenis in jou eie lewensverhaal: God sorg elke dag: Gister en ook môre.

Die klaende Israeliete in die woestyn word herinner: “Jou klere het in die veertig jaar nie verslyt nie, en jou voete het nie geswel nie” (Deuteronomium 8:4).

Dit is goed om terug te kyk. Jy kyk dan met nuwe oë vorentoe.

  • Prof. Lategan is senior direkteur: navorsingsontwikkeling en nagraadse studies aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie, Vrystaat.
Meer oor:  Geloof  |  Verlede  |  Toekoms  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.