Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kyk tog Die Kat uit die boom

Het Suid-Afrika ’n Nommer 2? En waar is hy?

David Mabuza, oftewel Die Kat, soos hy homself noem, beweeg nou nie eintlik die naald as die land se adjunkpresident nie. ’n Mens kan beswaarlik onthou wat die man gedoen het sedert hy vanjaar ingehuldig is.

Johann Maarman

Cyril Ramaphosa het Mabuza wel onlangs Moskou toe gestuur as Suid-Afrika se spesiale gesant om Wladimir Poetin te gaan gelukwens met sy herverkiesing tot president.

Verder het Mabuza nog net mondelinge vrae in die parlement beantwoord – iets wat in elk geval een van die adjunkpresident se kritiese prestasieareas is.

Die enigste werklike toespraak wat hy gelewer het, was op Menseregtedag in Sharpeville – en toe was Ramaphosa in die buiteland. En daai toespraak het ook nie opspraak gewek nie.

Mabuza is eintlik baie nader aan Jacob Zuma as wat hy aan Ramaphosa is. Mabuza was tot voor sy verkiesing tot adjunkpresident van die ANC een van die voorste imbongi’s van die Nkandla-man. In 2007 was hy instrumenteel in Zuma se verkiesing tot president van die ANC.

Soort soek soort.

Toe Zuma op 14 Junie 1999 as adjunkpresident van die land ingehuldig is, was hy ook nóg warm nóg lou. Hier was ’n man wat in sy eie woorde nie in die presidentskap van die land belanggestel het nie. Hy het te kenne gegee dat hy maar teen sy sin tot adjunkpresident van die ANC verkies is en daarmee ook tot de facto-adjunkpresident van die land.

Hy het op die ou refrein gehamer dat hy maar dien waar die ANC hom ontplooi. Hy was dolgelukkig om die land se Nommer 2 te wees en in Thabo Mbeki se skadu te beweeg.

Sy taak as adjunkpresident van die land was om vrede te probeer bewerkstellig tussen die Hutu’s en die Tutsi’s in Burundi.

As adjunkpresident van die land was hy ook leier van die regering se morele program. Het ons toe maar geweet dat die man later immoraliteit sou versinnebeeld.

Dit was dus ’n taamlik maklike joppie. Neem so nou en dan waar in die baas se plek as dié dalk op ’n staatsbesoek oorsee gaan of lewer ’n toespraak namens die baas. Heel eenvoudig, dus. Geen sweet, geen pyn.

Net soos Zuma word hy van korrupsie en tenderbedrog beskuldig. Dis ’n lelike klankie wat maar net nie wil wyk nie.

Ons weet hoe die episode later afgespeel het. Zuma is deur Mbeki afgedank en Phumzile Mlambo-Ngcuka is in sy plek aangestel. Maar die destydse
Nommer 2 het mag geproe. Hy was
een trappie daarvan om Nommer 1 te word.

Toe hy afgedank is, hy het op ’n offensief gegaan en die ANC se linkervleuel se steun gewerf wat vir hom die poorte na die Uniegebou oopgemaak het.

Nou sit ’n mens met Die Kat as Nommer 2. Mabuza is gesien as kompromiskandidaat as adjunkpresident om die strydende faksies in die ANC tot bedaring te bring.

Maar Mabuza het te veel met Zuma gemeen. Net soos Zuma word hy van korrupsie en tenderbedrog beskuldig. Dis ’n lelike klankie wat maar net nie wil wyk nie.

Net soos Zuma gee hy te kenne dat hy ook maar teësinnig adjunkpresident van die land geword het. Maar ons weet nou uit die Zuma-ondervinding dat as die Nommer 2 mag geproe het, kyk hulle met verlangende oë na wanneer hulle Nommer 1 kan word.

Tot die volgende ANC-verkiesing sal Mabuza fyn dopgehou moet word. Hy is ’n politieke swendelaar en kan ’n tweede Zuma word. Het ons regtig lus om weer daardie pad te stap? Ons moet die kat maar goed uit die boom bekyk.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.