Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kyk tog weer hoe tenders toegeken word

Suid-Afrikaners is byna flou omdat hulle al so lank asem ophou vir strafregtelike vervolgings wat verband hou met tenderbedrog.

Die afgelope twee weke het ons tonele gesien uit lokettreffers, met wetstoepassers wat toegesak het op politici, sakelui en staatsamptenare weens hul beweerde betrokkenheid by bedrog.

Raymond Willemse

Maar van ons weet alte goed hoe die rolprent eindig. Die aanvanklike gebeure word opgehemel en daar is hoë verwagtinge, maar niks gebeur nie. En net ’n paar weke later word dieselfde storielyn met ander hoofspelers aan ons opgedis.

Tenderbedrog is die een pandemie waarvoor ons nog nie ’n entstof het nie. ’n Mens sou verwag dat die werk van die Zondo-kommissie, wat sedert Augustus 2018 ondersoek instel na staatskaping, as ’n afskrikmiddel sou dien, maar korrupsie met tenderprosesse ten tyde van die Covid-19-pandemie vertel ’n ander verhaal.

Nie eens die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur en verkrygingsprosesse skrik amptenare af om met tenders te konkel en sake vir eie gewin te beïnvloed nie.

Net in Gauteng ondersoek die spesiale ondersoekeenheid (SOE) bewerings van bedrog met kontrakte van R7,5 miljard wat ten tyde­ van die Covid-19-pandemie deur die provinsiale regering toegeken is.

Dit moet ook ’n vereiste wees dat diegene wat vir ’n diens tender, die nodige ervaring het om die diens te lewer.

Die kantoor van die openbare beskermer bekyk miljarde rande se ongerymdhede wat met die verkryging van persoonlike beskermende toerusting verband hou.

Doeltreffender meganismes moet ingestel word om plundery ten tyde van die tenderproses te bekamp. Die toekenning van tenders is ’n manier om voorheen benadeelde groepe te bemagtig, maar dis duidelik dat net diegene met politieke bande grootliks daaruit voordeel trek.

En dan word tenderpreneurs se spogwonings en luukse vuurwaens onder gewone belastingbetalers se neuse gevryf terwyl die meeste Suid-Afrikaners sukkel om ’n eerlike bestaan te voer.

Die toekenning van tenders, veral waar belastingbetalers se swaarverdiende geld gebruik word om vir goedere of dienste te betaal, moet ’n openbare en deursigtige proses wees.

Die belastingbetaler het die reg om te weet wat die inhoud van ’n tender is, wie daarvoor tender en aan wie dit toegeken is. En ook, om ’n botsing van belange en onreëlmatighede te voorkom, watter amptenare die tender uiteindelik goedgekeur en toegeken het.

Dit moet ook ’n vereiste wees dat diegene wat vir ’n diens tender, die nodige ervaring het om die diens te lewer.

Dis verder ook hoog tyd dat munisipaliteite self die dienste lewer wat hulle kan verrig en minder van tenders gebruik maak.

Belastingbetalers se koffers is byna leeg.

Daar kan nie nóg tyd verspil word op ’n praktyk wat jaarliks daartoe lei dat miljarde rande verspil word nie.

  • Willemse is ’n senior redaksielid van Beeld.
Meer oor:  Raymond Willemse  |  Standpunt  |  Tenders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.