Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kyk uit vir die pakkie van ’n vermuftejan
Jana Luther

Altesaam 600. Soveel keer staan “kewer” in die eerste 14 dele van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Móói, dié insekname. Nie direkte oornames of bloot leenvertalings nie, maar ook eg Afrikaanse skeppings wat van fyn waarneming getuig.

Die WAT definieer die orde Coleoptera, skildvleueliges of skildvlerkiges, as insekte met bytende monddele en voorvlerke wat tot horingagtige vlerkbedekkings of dekskilde gewysig is. Volgens Wikipedia is tot 40% van alle insekte kewers. Tot ’n miljoen verskillende spesies, word geskat, waarvan net sowat 300 000 – in Suid-Afrika 50 000 – reeds beskryf is. Bas- en speldegatkewers, boktorre, dwaal-, glans- en grootkaakkewers, houtpoeierkewers, kniptorre en draadwurms, mierneskewers, miskruiers, pragkewers, rondekophoutboorders, snuit- en tierkewers, toktokkies, vuurvliegies en glimwurms, waterhondjies en waterkewers is van die families wat genoem word.

“Ek voel die kewers in my skedel knaag / en die knaagsels / in die holtes van my voete val” (Marlene van Niekerk, “madame marnette”).

Van die vlieënde soorte word “torre” genoem. Soos die geelbruin, wollerige (boer)kainja, wat in die grond woon. Kainjas kom saans uit, deur lig aangetrek.

Die ghannaghoetjie, blinkswart, plat, klop-klop met sy gepunte agterlyf teen die grond. Die wit kolletjie onder sy maag, sê party, is ’n briefie.

Die duinhardlopertjie is ’n hardloperbesie, ook bekend as “sibbie”. Die askleurige oudak, weer, loop stadig, in warm streke op onweersdae, omtrent so groot soos ’n toktokkie, maar met ’n platterige, klewerige rug waaraan stof en gronddeeltjies vasklou. Vir kewers met so ’n “pak” op die rug staan in die WAT verskillende volksname opgeteken: kombers, ouvelskoen, pakos(sie), paksaal, reëngogga, skimmeljan(tjie), -japie, soutpannetjie, veldskoonmaker, vermuftejan . . . Fytjie-abbakaros, omdat die skimmeldons aan die velkombers laat dink waarin ’n vrou haar baba op haar rug vasbind.

Die ghannaghoetjie, blinkswart, plat, klop-klop met sy gepunte agterlyf teen die grond. Die wit kolletjie onder sy maag, sê party, is ’n briefie. In Riversdal, Mosselbaai, George is hy die briewedraertjie, die padlopertjie, doodhouertjie, doodhoubesie, dooitoktokkie, want raak jy aan hom, hou hy hom dood. Anders as die bombardeer­kewer, die loopkewer met die volksnaam “poepga(a)tjie”, wat hom verdedig deur met ’n hoor­bare knal druppels uit sy agterlyf te stoot.

Die briljantkewer, ook diamant- of juweel­kewer, se borsstuk is fluweelswart met ’n goudgroen groef. Op sy dekskilde skitter riffies soos juwele. Klein, metaalgroen-goue kewertjies heet goudhaantjies. Die larweagtige glimkewerwyfie se agterlyf gee lig.

Malkopkewer, geelbonttorretjie, kanferfoeliegalmaker, gaffelneus-, renosterkewer. Die goliat- en herculeskewer, miskruiers van die skarabee-familie, is die grootstes. Vir die antieke Egiptenare was die skarabee heilig: “die klein kewer / wat belas met die misballas / dit kruie, soos ’n aardkloot voor hom uitstoot, / dit bêre in die aardskoot vir weer begin – nuwe lewe wat uit die verrotting klim” (Trienke Laurie, “Sirkel”).

  • Luther is ’n mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.
Meer oor:  Jana Luther  |  Woorde  |  Taal  |  Insekte  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.