Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kyk versigtiger na mense se ras en intelligensie
Wilhelm Jordaan

James Watson (90), ’n Nobelpryswenner en mede-ontdekker van die oorerwingsmeganisme DNS, is onlangs van sy eretitels gestroop weens sy uitlatings dat swart mense intellek­tueel minder vaardig as wit mense is.

Hy reken dit lê in die gene, en intelligensie-, of IK-toetse, bevestig dit. Op Netwerk24 reageer lesers byna eenstemmig in ’n koor van verontwaardiging: Ons weet hy is wetenskaplik reg. Wetenskap maak tog nie ’n fout nie. Deesdae gee die waarheid mos aanstoot enso(elementêr, my liewe Watson)voort.

Hoe kundig Watson ook al is wat DNS betref, vereis sy uitsprake versigtige vertolking in die lig daarvan dat gene altyd in wisselwerking met omgewingsfaktore is, juis in die geval van ’n komplekse eienskap soos intelligensie.

Wie sinvol oor intelligensie en ras wil praat, moet allereers besef wetenskap word dikwels ideologies beoefen.

Die oorerwingsideologie beweer intelligensie word grootliks deur ’n mens se geenpoel bepaal en dat IK-toetse ’n regstreekse meting daarvan verskaf. Hiervolgens is swart Afrikane se IK gemiddeld 15 punte laer as dié van wit mense en Asiate. Dít word as die oorsaak van elke aantoonbare agterstand by swart mense vertolk. Watson en vele ander onderskryf dit.

’n Belangrike beswaar daarteen is nie dat die IK-metings foutief is nie, maar dat die vertolking daarvan nie die volle rol van omgewingsfaktore verreken nie.

’n IK-toets meet nie genetiese intelligensie nie.
.

’n IK-toets meet nie genetiese intelligensie nie. Dit is ’n aanduiding van wat jy reeds geleer het en nog kan leer oor die oplossing van probleme wat intellektuele vaardigheid en insig vereis. Dit beteken omgewingsfaktore soos opvoeding, skoling en leesvermoë – dinge wat byna vanselfsprekend in die Westerse denkwêreld is – is belangrik om jou genetiese intellektuele vermoë te verwerklik.

Met gunstige omgewingsfaktore verhoog mense se leervermoë én hul IK-telling, en algaande is hulle al hoe beter tot intellektuele prestasie in staat. Dít geld alle mense, ongeag jou ras.

Juis dié soort bevinding lê aan die wortel van ’n omgewingsideologie. Hiervolgens is omgewing die eintlike bepaler van IK en word byvoorbeeld kolonialisme, apartheid en uitbuiting as die enigste redes vir swart mense se laer IK en ander agterstande voorgehou.

Albei ideologieë se vertolkings van IK-bevindings is bedrieglik én gevaarlik. Buiten dat dit olie op die rassismevuur gooi, is dit eintlik ’n vorm van pseudowetenskap waar ’n ideologiese bril bepaal hoe jy na die feite kyk.

Die werklik wetenskaplik verdedigbare alternatief behels ’n kompromis: Genetiese faktore plaas ’n “plafon” op alle mense se intellektuele poten­siaal, terwyl omgewingsfaktore, volgens die wisselwerkingsbeginsel, bepaal hoe naby jy aan jou plafon sal kom.

Daar is geen klinkklare bewys dat die plafon van sommige rasse as ’n groep hoër of laer as dié van ander rasse is nie.

Jordaan is ’n buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Ras  |  Dns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.