Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
KZN is Mafia-staat, wys onrus

Die onlangse geweld het een ding duidelik laat blyk: KwaZulu-Natal is ’n Mafia-staat, skryf Christi van der Westhuizen.

Die polisie skiet tydens die onlangse onrus en plundering op plunderaars in Eshowe, KwaZulu-Natal. Foto: Mlungisi Louw

Inwoners van KwaZulu-Natal en Gauteng probeer werkplekke en woonbuurte opruim en herstel ná die ongekende openbare geweld van twee weke gelede. Maar die geweld het ’n stand van sake blootgelê wat nie maklik skoongemaak kan word nie.

Kortom: KwaZulu-Natal (KZN) is ’n Mafia-staat, met ’n groot genoeg bevolking en strategiese ligging op ’n primêre ekonomiese aar om Suid-Afrika in chaos te dompel. Veral dié provinsie word eintlik regeer deur parallelle skadunetwerke waaroor die staat min of geen beheer uitoefen.

Openbare verteenwoordigers soos raadslede is waarskynlik lid van dié netwerke, soos aanduidings van hul betrokkenheid in vandeesmaand se geweld suggereer. Die plaaslike en provinsiale regerings is byspelers in ’n teater van misdadigheid gemik op eie gewin.

Terwyl pres. Cyril Ramaphosa se ministers stry oor wie die skuld vir die gemors moet kry, blyk dit dat minstens Bheki Cele, minister van polisie, deel van die probleem is. Gegewe sy sentraliteit in KZN-politiek is dit moeilik om te sien hoe hy onbewus kon wees van die beplande terreur.

Dat die aanvalle nie net by plundering gebly het nie, maar ook brandstigting ingesluit het, dui op ekonomiese terreur.

Twee wenke het van die begin van die geweld vandeesmaand gedui op georganiseerde skadufigure. Die een is dat die geweld volgens ou patrone versprei het; die ander is dat strategiese handelsinfrastruktuur geteiken is.

Die pakhuise en verspreidingsentrums op die peri-stedelike rande wat geteiken is, is dikwels nie eens aan plaaslike mense bekend nie. Die uitsnuffel van dié plekke dui op mense met kennis van die ligging en waardevolle inhoud van die pakhuise.

Dat die aanvalle nie net by plundering gebly het nie, maar ook brandstigting ingesluit het, dui op ekonomiese terreur. Dit suggereer dat wat gekonfronteer word, nie opstand teen die staat is nie, maar ’n poging om meer misdadige beheer oor die ekonomiese sektor te verkry.

Dié indruk word versterk deurdat georganiseerde boewe die vrywillige opruimingswerk by minstens een winkelsentrum stopgesit het met dreigemente van geweld indien hul “eie” mense nie gebruik word nie – teen betaling, natuurlik.

Hierdie praktyk gebeur al lank in die konstruksiebedryf in KZN, waar belhamels by groot bouprojekte opdaag en “beskermingsgeld” eis. Dit is tog die basiese manier waarop Mafias werk: Óf jy betaal my óf ek skiet jou en brand jou plek af.

Geweld volg patrone van vroeër

Bheki Cele, minister van polisie, kyk in die middestad van Durban hoe die polisie op geplunderde goedere beslag lê. Foto: Gallo Images

Betreffende die geografiese patrone van verspreiding, die geweld het dieselfde roete gevolg as geweld in die laat 1980’s en 1990’s: vanaf KZN na dele van Gauteng waar groot getalle Zoeloes woon. Dié plekke sluit in die ou trekarbeider-hostelle in Johannesburg en townships aan die Oos-Rand wat deesdae dikwels deur meestal werklose mense bewoon word.

Die felste geweld in Gauteng was aan die Oos-Rand, buiten dié in Alexandra en Soweto in Johannesburg. Die geweld het ook die patroon van xenofobiese geweld in die laat 2000’s en die 2010’s gevolg, toe die Oos-Rand ’n brandpunt was.

Bronne beraam die aantal slagoffers van die sluipmoordaanvalle op sowat 90 mense sedert 2015 in KZN.

Benewens dat xenofobiese geweld dikwels met die hostelle verbind word, raak die verband met dié soort geweld duideliker wanneer ’n mens vandeesmaand se afskopplek in ag neem. Die Mooirivier-tolplaza op die N3-snelweg is reeds op 9 Julie aangeval, net meer as ’n dag ná oudpres. Jacob Zuma se inhegtenisname.

Dié tolplaza is die afgelope jare ’n teiken vir aanvalle op vragmotors, veral vragmotorbestuurders van ander Afrika-lande. Aanvalle is in 2018 en 2019 geloods op vragmotors by Mooirivier en op verskeie ander roetes. Meer as 300 vragmotors is die afgelope jare gebrand.

Christi van der Westhuizen

Aanvalle op Afrikane van elders het in 2008 losgebars, maar het reeds vroeër op kleiner skaal voorgekom. Die dryfveer hier is gewoonlik plaaslike ekonomiese belange, waar kleinhandelaars en ander sakelui meen hulle kan nie teen ander Afrikane meeding nie, en dan geweld en plundering van buitelandse ondernemings deur plaaslike gemeenskappe aanhits.

Die ander aanduiding dat KZN ’n Mafia-staat geword het, is die hoë voorkoms van wat “politieke sluipmoorde” genoem word. Maar dié misdade moet eerder “staatskorrupsie-moorde” heet, want dit behels strydende groepe – dikwels raadslede – wat om die plundering van staatskoffers meeding.

Bronne beraam die aantal slagoffers van die sluipmoordaanvalle op sowat 90 mense sedert 2015 in KZN. Die slagoffers is óf lid van ’n opponerende groep skurke óf fluitjieblasers en getuies wat uit die weg geruim word.

Maar ’n 2018-verslag deur Global Initiative, ’n onafhanklike organisasie wat spesialiseer in navorsing oor georganiseerde misdaad, wys dat dié soort sluipmoorde landwyd voorkom, hoewel in kleiner getalle as in KZN.

Wat ’n mens by die volgende bron van kommer bring.

Wees versigtig vir taxiverenigings

’n Lid van ’n taxivereniging verjaag plunderaars by die Chris Hani-winkelsentrum aan die Oos-Rand. Foto: Gallo Images

Die geweld het in die week van 12 Julie voortgewoed, met polisiebeamptes wat die plundering gade slaan sonder om op te tree. Die weermag is te laat en is aan die begin in te klein getalle ontplooi.

Soos die sterftesyfer gestyg het, saam met die rookwolke van brandende geboue, het vrese hoog geloop dat die geweld na provinsies buite KZN en Gauteng sou uitkring. Alle aanduidings is dat dít slegs gekeer is toe die taxiverenigings besluit het om saam met die staatsowerhede te werk om die geweld te stuit.

Om die samewerking van taxi-eienaars te kry, is soos om een bende boewe met ’n ander bende boewe te probeer verslaan. Geweld is ’n kenmerk van dié bedryf sedert die deregulering van taxivervoer in die laat 1980’s.

Die staat het gewis nie die monopolie op geweld nie.

Mededinging vir taxiroetes lei tot moorddadige aanslae op bestuurders en passasiers, soos weer in die Wes-Kaap ondervind word.

Dat die staatsowerhede hulself moes wend tot die taxiverenigings om te keer dat mense in ander provinsies by die orgie van geweld aansluit, bevestig twee dinge. Eerstens, dat die omstandighede en die plaaslike politieke elites in ander provinsies heeltemal vatbaar is vir dié soort geweld. Dit word ook gewys deur die voorkoms van korrupsie en geassosieerde sluipmoorde in ander provinsies.

Tweedens, dat die staat gewis nie die monopolie op geweld besit nie. Hierdie eienskap word in die politieke teorie as ’n basiese kriterium vir ’n moderne staat beskou. Ramaphosa se projek van herbouing sal tot op plaaslike vlak deurgevoer moet word.

Soos die gebeure hierdie maand gewys het: Gewone Suid-Afrikaners sal moet inspring om die rampspoedige verwikkelings hok te slaan.

• Van der Westhuizen is medeprofessor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie aan die Nelson Mandela-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Bheki Cele  |  Gauteng  |  Soweto  |  Kwazulu-Natal  |  Geweld  |  Xenofobiese Geweld  |  Plundery  |  Taxi-Verenigings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.