Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Laat Ace, Zwane, Rockman getuig
Gert Coetzee

As daar ooit twyfel was, blyk die noodsaak ná Dinsdag se publi­sering van Gupta-bankstate daarvan dat die Zondo-kommissie betrokkenes moet ontbied om oor die astronomiese duur “suiwelprojek” van die Guptas en die Vrystaatse provinsiale regering (VPR) te kom getuig, nou dwingender as ooit te wees.

En dat die Valke, in soverre hulle in staat is, opnuut tande in die ryk en lekker melksous moet vasslaan, sodat substansiële inligting die mislukte ondersoek hierna ongedaan kan maak. Om die openbare beskermer (OB) se halfgebakte verslag nie eens te opper nie.

Deeglik bewus daarvan dat die uit­­kalwing van die Valke, nasionale vervolgingsgesag (NVG), die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID),  die OB en ander instansies ’n voorbedagte modus operandi van staatskaping was.

Die punt is die vrotmelkskema behoort tot op die been oopgevlek te word sodat die NVG die kans kan kry om sy gestaakte hofoptrede daadwerklik te hervat. Vir eens stem ’n mens saam met die EFF, by monde van Thilivhali Mulaudzi (LP), wat in die parlement die opskorting van die hofondersoek na die Estina-projek as ’n “regsdwaling” weens swak werk deur Busisiwe Mkhwebane, OB, bestempel het. Die OB het wel beloof om ondersoek in te stel na Ace Magashu­le en Mosebenzi Zwane, onder wie se skepbeurt as onderskeidelik Vrystaatse premier en Vrystaatse LUR vir landbou, die skema bekook is, maar sover niks.

’n Gesoute melkboer sou met minder ’n gedugte melkboerdery aan die gang kon kry.

Al stotter die regsondersoek en is die hofsaak (eers) gestaak, staaf bankstate dat minstens R342 miljoen van die VPR, via sy departement van landbou, in die Gupta-rekening in die Bank of Baroda in Dubai gepomp is. Klaarblyklik is bitter min hiervan aan die Guptas en die VPR se Estina-suiwelprojek by Vrede bestee. As dit R10 miljoen was, is dit baie.

’n Gesoute melkboer sou met minder ’n gedugte melkboerdery aan die gang kon kry. Terwyl die Vrede-plaas, wat steeds R1 miljoen per maand sluk, nou ’n mislukte boerdery sonder opbrengs is.

Nie dat dit bedoel was om te slaag nie. Estina is as basismodel vir staatskaping ingestel, as dopmaatskappy of ’n afvoer­kanaal vir staatsgeld na tendersame­sweerders wie se bankrekening by die Bank of Baroda in Indië volgestop is. Van hier is dit blitsig hergekanaliseer.

Ook terug na plaaslike sakke. Dit blyk nou deur ’n fluitjieblaser hoe politieke aanvoorders (van A tot Z) beloon is – met goue kredietkaarte van R20 miljoen, ingevolge onwettige diensvoorwaarde-ooreenkomste, sodat die spoor nie gevolg kan word nie. Die skade blyk groter te wees as wat eers geraam is. Hou in gedagte die afge­voerde R342 miljoen op die state was vir 2014 tot 2016, terwyl aftappery in 2013 begin is.

Die belang van die melkkomplot spruit daaruit dat dit die Guptas die eerste keer direk met staatskaping verbind het – toe Volksblad in 2013 onthul het Estina behoort aan hulle. Hierna het dit duide­lik geword hoe dinge inmekaar­steek.

Met Zwane wat (as Vrystaatse LUR!) die toutjies vir die Gupta-landing op Waterkloof getrek het. As beloning is die ministerskap van minerale en energie aan hom toegeken. In die skoonmakery van Cyril Ramaphosa (nadat die interne ANC-stryd op die spits gedryf is), is Zwane uit die pos verwyder. In die Vry-staat bly hy hoog op die se ANC-kandidate­lys.

Die afgelope jare is ’n amptenaar vermoor en het ’n skootrekenaar met inligting misterieus verdwyn.

Op 26 Mei 2015 het Magashule, toe premier, in sy kantoor aan my en kollega Charles Smith gesê sy Hlasela-projek is net vir versnelde diens, terwyl die eerbare Vrede-projek melk vir armes moet lewer. Minstens hy, Zwane en Elzabe Rockman, eers Vrystaatse direkteur-generaal en nou LUR vir finansies, moet uit hoofde van hul poste hul weg oopsien om voor die Zondo-kommissie twyfel oor beweerde ongerymdhede uit die weg te gaan ruim.

Coetzee is die redakteur van Volksblad

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Vrede  |  Ondersoek  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.