Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Laat ‘Die ander kant’ US se rektor koud?

Regstelling: In 'n vorige weergawe van hierdie rubriek het gestaan dat die dekaan van die Universiteit van Stellenbosch se mediese fakulteit, prof. Jimmy Volmink, aan die begin van die jaar gesê het dié fakulteit sal vanjaar lesings slegs in Engels aanbied. Die dekaan se kantoor het Rapport daarop gewys dat die stelling nié korrek is nie en dat Volmink geensins in sy verwelkomingstoespraak aan die begin van die akademiese jaar na die US se taalbeleid of toepassing daarvan by die fakulteit verwys het nie. Rapport vra om verskoning vir dié fout.




Hy én sy vrou het na die Luister-video gekyk en dit was ontstellend, want hy geniet dit nie om te weet dat studente – sy studente – swaarkry nie, het prof. Wim de Villiers, rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), in Augustus verlede jaar gereageer op Open Stellenbosch se kort dokkie oor rassisme op en om die Matie-kampus.

Hy het ook vinnig van hom laat hoor. ’n Dag nadat Luister op YouTube uitgereik is, en weer later by ander geleenthede.

In skrille kontras hiermee is Mercy Kannemeyer se video, Die ander kant, oor die miskenning van Afrikaans op dié kampus, met dawerende stilte begroet. Soos met Luister, hoor ’n mens van studente – die meeste van hulle bruin – wat gemarginaliseer en geviktimiseer voel. Die algemene strekking is dat Engels oorheers ondanks die bestuur se leë woorde oor hoe hulle Afrikaans steeds ’n plek gun; en verder dat veral arm swart en bruin Afrikaanssprekendes hierdeur benadeel word.

Die US het gereageer met ’n leë, burokratiese gebaar: Die van stapel stuur van nóg ’n sinlose meningspeiling. Van die rektor was daar egter geen blyke van belangstelling of simpatie nie. ’n Mens sou selfs kon bespiegel dat dit hom koud laat.

Toe De Villiers tydens die afgelope Woordfees in die Frederik van Zyl Slabbert-gespreksreeks gevra is wat hy van Die ander kant dink, het hy Kannemeyer beskryf as ’n “bondeltjie energie”, maar dat haar uitgangspunt verkeerd is.

...almal wat daardie dag in die gehoor was, weet dat Afrikaans as onderrigtaal meedoënloos uitfaseer word.

Behalwe dat dit chauvinisties is om ’n dapper vrou met sterk en genuanseerde menings op verminderende wyse af te maak as ’n “bondeltjie energie”, was dit ’n diep oneerlike reaksie. De Villiers weet, sy studente weet en almal wat daardie dag in die gehoor was, weet dat Afrikaans as onderrigtaal meedoënloos uitfaseer word.Dat Maties se rektor een ding sê terwyl presies die teenoorgestelde waar is, is onderstreep toe ’n student by die gespreks-reeks opgestaan en protesteer het dat De Villiers se bewerings nie klop met haar belewenis nie. Die student, Jeanice Janse van Rensburg, het haar argument prakties gestaaf met voorbeelde van ’n Afrikaanse chemievraestel wat minder gedetailleerd was as die Engelstalige een.

De Villiers se reaksie was sigbaar geïrriteerd en kortaf. Hy kan nie op anekdotes reageer nie, het hy geknor. Dit is opvallend hoe dikwels De Villiers juis vroue afjak, ignoreer of weier om met hulle in gesprek te tree. Hy het dit ook gedoen met ’n oudstudent wat uit die gehoor ’n billike vraag aan hom gerig het by die konvokasie se jaarvergadering vroeër vanjaar.

Sy reaksie is ook in ander opsigte sorgwekkend. As De Villiers dit ernstig bedoel met sy herhaaldelike versekerings oor Afrikaans, behoort hy belang te stel in die probleme wat ’n student soos Janse van Rensburg onder sy aandag bring. Die gepaste reaksie sou wees: “Ek is jammer om te hoor dat die beloftes wat ek pas gemaak het nie eerbiedig word nie. Kom sien my sodat ons dit kan oplos.”

Wanneer hy na “anekdotes” luister, is dit die anekdotes van studente in Open Stellenbosch se video. Vir “anekdotes” oor die ander kant is hy allergies.

Verlede jaar het De Villiers aan studenteleiers gesê dit pla hom dat Luister die indruk wek dat hy nie na studente luister nie en hulle uitgenooi om met hom en sy bestuur te praat. Sy optrede maak van sulke stellings ’n bespotting.

De Villiers bewys oor en oor dat sy woord nie sy eer is nie. Oor sy hantering van ’n sterk bydrae deur ’n formidabele student soos Kannemeyer draai sy voorganger, Russel Botman, waarskynlik in sy graf om. Frederik van Zyl Slabbert, wat konsekwent aangedring het dat die regte van Afrikaanssprekende studente eerbiedig word, ook. Dié van ons wat nog lewe, kan maar net ons koppe in ongeloof skud.

*Dr. Sonja Loots doseer letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.