Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Laat die emosies eerder agterweë

Hoe moet die geskiedenis benader word? In Dinsdag se Die Burger was daar ’n voorbeeld van hoe dit nié gedoen moet word nie.

Dit was ’n skerp aanval van die Stellenbosse filosoof prof. Anton van Niekerk op dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, na aanleiding van die “Penkopmonument” naby Parys om die dood van 22 000 Afrikaner-kinders in die Anglo-Boereoorlog te gedenk. Dié wat oorleef het, aldus Langner, het in ’n “onvriendelike Engelse wêreld” Afrikaanse skole en universiteite, kultuurorganisasies en ekonomiese voorspoed geskep.

Leopold Scholtz

Van Niekerk wys op die ander kant van die munt, “die ganse apartheid-konstellasie van wette” vir die “beeltenis van ’n selfgemaakte konin­kryk . . . waar wit Afrikaners en Engelssprekendes gebaai het in die eksultasie van selfbevoorregting ten koste van verreweg die grootste deel van die bevolking”. Waar is die eer aan die swart jeug wie se rol dié van “houthakkers en waterdraers” was?

As ’n mens die emosionele veroordeling in Van Niekerk se tirade ignoreer, het hy deel van die waarheid beet.

Dis interessant dat die geslag Afrikaners wat regstreeks by die oorlog betrokke was, relatief gematig was; die radikalisering van die Afrikanernasionalisme in die jare 1933-’48 was afkomstig van die eerste geslag ná die oorlog, van die oorlewendes van die kampe.

Kom ons kyk nugter na faktore wat Van Niekerk sélf ignoreer.

Eerstens: Die geskiedeniswetenskap hou hom nie besig met emosionele veroordelings nie. Die Franse historikus Marc Bloch sê daar is ooreenkomste en verskille tussen ’n regter en ’n historikus. Albei soek na die waarheid, maar as die historikus dit gevind het, hou sy taak op. Die regter s’n begin dan eers, want hy moet iemand skuldig of onskuldig bevind en ’n straf oplê.

Waarvoor ek pleit, is dat die rol wat die konsentrasiekampe en die oorlog in die radikalisering van die Afrikanernasionalisme gespeel het, behoorlik in ag geneem word, en dat ons die emosie agterweë sal laat.

As die historikus hom in sy soeke na die waarheid laat lei deur die passie van die hede, vorm dit ’n filter wat die verlede skeeftrek. Jy sien die verlede deur die bril van die hede, pleks daarvan dat jy die verlede vir homself laat spreek. Dis natuurlik nie die volledige verhaal nie, want die geskiedenis, soos die Nederlandse historikus Pieter Geyl gesê het, is ’n “diskussie sonder einde”. Verskillende vertolkings is – binne redelike perke – moontlik op grond van dieselfde feite.

Dit lei ons na die volgende punt. In ’n diep verdeelde land soos Suid-Afrika gaan jy onmoontlik één historiese kanon kry; jy kry selfs verskillende waarhede. Dis soos Tafelberg, wat heeltemal anders lyk afhangende van waar jy staan as jy na hom kyk. Van Blouberg lyk dit na ’n ander berg as die een wat jy vanuit Tygerberg sien.

Gemeenskappe stel eerder belang in die geskiedenis van hul eie gemeenskap en hul eie voorvaders as in dié van ander. Jou gemiddelde – sê maar – Argentyn sal nie ’n passie hê vir die Japanse oorheersing van Korea nie, maar die gemiddelde Koreaan juis wel.

Net so is dit logies dat Afrikaners ’n monument vir gestorwe kinders in die konsentrasiekampe oprig, en dat swart mense eerder een vir die kinders wat in die opstand van 1976 gesterf het, sal bou. Daar is niks mee verkeerd nie; dis eenvoudig ’n feit van die lewe.

Wat ’n probleem is, is wanneer ’n akademiese filosoof van wie jy beter verwag, só emosioneel te kere sal gaan om die FAK (en die geslag konsentrasiekamp-kinders) te demoniseer.

Let wel, ek verdedig nie die FAK nie – hulle kan dit baie beter as ek doen. Waarvoor ek pleit, is dat die rol wat die konsentrasiekampe en die oorlog in die radikalisering van die Afrikanernasionalisme gespeel het, behoorlik in ag geneem word, en dat ons die emosie agterweë sal laat.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Prof. Anton Van Niekerk  |  Aanval  |  Geskiedenis  |  Fak  |  Emosies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.