Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Laat die Matie-manne tog toe om hartstogtelik te sing – in Afrikaans!

“Hoe verkwiklik, hoe verruklik is ’n lied uit Stellenbosch.

Voel jy olik, word jy vrolik.

Dit gaan kop toe net soos mos.

Ja, bepaald, so ’n lied hoor jy net uit Matie-kele.

Dis hul kroon en bly altyd ewe mooi.

Die beste wat jeug en die lewe bied.

Wat laat van ons hart alle weemoed wyk?

Die klinkende, singende vrolikheid-bringende, weemoed-bedwingende Matie-lied.”*

Is daar enigiets meer romanties as ’n man wat onder jou venster kom staan en sing?

Is daar enige man op aarde wat sal sing vir ’n vrou wat voorskryf wat en in watter taal hy moet sing?

Terwyl Afrikaans op Stellenbosch besig is om sy laaste asem uit te blaas, bereik feminisme blykbaar ’n ongekende hoogtepunt.

’n Selfaangestelde godin van wysheid stuur ’n WhatsApp vanuit Minerva-koshuis waarin sy aan troebadoers voorskryf in watter taal hulle durf sing.

Romeo is waarskynlik die bekendste man wat in die nag sy liefde onder ’n balkon gaan verklaar het. Juliet was tevrede met sy belydenis in Engels en het nie op Latyn aangedring nie: “But soft! What light through yonder window breaks? It is the east, and Juliet is the sun.”

Vir die beroemdste minnesanger van alle tye, die Oostenryker Walther von der Vogelweide, is daar selfs ’n standbeeld in Suid-Tirool opgerig.

Ander tye, ander sedes en gewoontes. Ou romantiek het verdwyn en tradisies word onder die mat ingevee.

In 1972 het ’n serenade gemoedere ontlont wat baie hoog geloop het op die Stellenbosch-kampus. ’n Groep mans het voorgestel dat damestudente se stemreg weggeneem moes word.

Die vroue was onmiddellik op die oorlogspad. Die Burger het selfs onderhoude met al die primarias gevoer en ’n berig oor die oproer op Stellenbosch gepubliseer. Kort daarna het die mans verklaar dat alles net ’n grap was. Vrede is bereik toe Johan Stemmet, die einste, onder die venster van elke primaria se kamer kom sing het: “Liefling, jy weet dat ek nie sonder jou kan bestaan nie. . .”

Die Kraaie van Wilgenhof, gestig in 1934, was die elite-serenadegroep. Hulle het slegs een maal per jaar, net voor die eksamen, kom sing. Hulle het selfs ’n klavier vir begeleiding op ’n waentjie saamgesleep. Met volstruisvere op hul hoede en kamerjasse bo-oor hul klere het hul stemme, in perfekte harmonie, die meisies uit hul slaap gewek: “Ons loop in die nag, soos ’n uiltjie op jag, ’n liedjie te sing in die nag. Die nag is so stil en ons doen wat ons wil, ’n liedjie te sing in die nag . . .”

Die Kraaie se slotlied het finalejaarstudente daaraan herinner dat die uurglas van ongebonde studentelewe besig was om leeg te loop: “Nog ’n jaar is verstreke in ou Matieland. Die jare gaan so snel verby. Eersdaags bied ons in afskeid mekaar weer die hand. Soet herinneringe sal steeds by ons bly . . .”

Afrikaanssprekende damestudente, laat hang jul hare soos Raponsie by die venster uit en laat die manne toe om vir julle te sing soos ’n mens dit net in Afrikaans kan doen: “My hart klop tjoklits!”* “Lied aus Wien”, vertaling C.G.S. de Villiers

Meer oor:  Universiteit Stellenbosch  |  Rubriek  |  Sing  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.