Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Laat dit juig as dit reën in Namakwaland
Johan van Wyk

Die Namakwalanders se manier van sê as reën ná ’n strawwe droogte uitkoms bring, vat mooi saam wat ná milde winterreën vanjaar ook van die Boland gesê kan word.

Wanneer hulle wêreld ná ’n lang, strawwe droogte aan’t reën gaan, sou hulle sê: “Laat dit juig!” My koshuiskamermaat van lank gelede was een in murg en been. Wanneer gerugte van goeie reën in Namakwaland bekend geraak het, het hy inderdaad gejuig.

Dit het beteken dat ’n sakgeldjie op pad is.

Nie dat dit geld gereën het nie. Ons weet mos dit reën nie geld nie.

Reën bring wel uitkoms, maar ook nuwe uitgawes en probleme. Vra maar vir die Bolandse saaiboere. Dis ook waarom skaapboere in die Karoo sewe jaar van droogte kan vat, maar nie sewe dae van reën nie. ’n Skaap is nie ’n vis nie, maar ’n woestyndier. As jy hom nie een gee nie, maak hy self een.

Maar hoe is in ’n koshuis nie uitgesien na ’n koevert met ’n nootjie nie! Amper meer as na ’n skoenboks met beskuit, biltong, droë perskes en ’n blikkie kondensmelk.

Toe ek uitvra oor hoe dit met hom gaan het hy met so ’n skewe laggie net gesê: “Ons kap maar aan . . .”

Hoe is nie gejuig wanneer die brief van die huis af oopgeskeur is en ’n nootjie tussen die velle blou papier van jou ma se Croxley-skryfblok val uit nie.

My kamermaat het dit nie uitgespreek nie, maar ek het geweet hy sal nie weer ’n pakkie West Eighty Five kon koop as ’n brief met ’n nootjie hom nie gou per pos bereik nie.

Soos myne in die noordwestelike Karoo, was sy mense veeboere in Namakwaland waar ’n pennie met die Engelse koningin Victoria se kop op tydens swaar droogtes so gedruk is om hulle kinders op kosskool en universiteit te kon hou dat haar oë getraan het.

Toe ek hom baie jare later die eerste keer ná ons koshuisdae op Springbok raakloop waar hy op die familieplaas geboer het, was daar van lang tye se onvervulde uitsien na om oor reën te kan “juig” ’n dowwigheid in sy oë en ’n harde trek om sy mondhoeke.

Toe ek uitvra oor hoe dit met hom gaan het hy met so ’n skewe laggie net gesê: “Ons kap maar aan . . .”

Dalk kon die Bolandse koringboere ná die afgelope swak oesjare ook so sê. Maar as jy my vra, gaan hulle vanjaar die hele pad bank toe lag. Ons gun hulle dit van harte! Dit beteken brood op die tafel van ’n geteisterde land en samelewing.

Die groot vraag nou is wat om met al die geld te doen. Dit hou my snags wakker, want ek het self op my Karooplasie ’n oesie op die land. Hopelik sal ek die versoeking weerstaan om ’n nuwe John Deere te koop.

Wat my nog meer verheug, is dat die uitstekend verwagte Bolandse koringoes ook vir die Karoo se veeboere, in hulle sewende jaar van droogte, hoop inhou – tienduisende bale koringstrooi as voer.

So was die een hand die ander.

jvwstop1@telkomsa.net

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Namakwaland  |  Koshuis  |  Geld  |  Droogte  |  Boere  |  Bank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.