
Wilhelm Jordaan
Negentien jaar gelede het ek en my vrou die blomroete deur Namakwaland en die Weskus gedoen. En beleef hoe oomblikke van verrukking ’n belewenis van verskrikking word.
Dit was die dag van 11 September 2001 toe selfmoordvlieëniers met passasiers aan boord teen die torings van die World Trade Center vasgevlieg het. Nog een het die Pentagon-gebou getref, en nog een het in Pennsilvanië neergestort.
Ek sal my vrou se trane dié dag nooit kan vergeet nie. Want sy het uitgeroep: “Pluk al die blomme en giet dit oor die hele wêreld uit sodat elke blom ’n gebed teen boosheid word!”
Nou reis ek en van my kinders en kleinkinders deur die blommeprag en, as nagedagtenis, strooi ons haar as op baie plekke uit.
Destyds het my vrou met groot noukeurigheid ’n plakboek gemaak om die verrukking én die verskrikking vas te vang.
Op die middaguur van 11 September was ons in die Goegap-natuurreservaat naby Springbok. Ons klim uit en kyk en kyk. Benoem uitgelate die soorte, soos Adam en Eva dit glo in Eden gedoen het. En luister saam in die byna-stilte na die geruis van die wind wat van die Bliksemberge af kom.En is verwonderd oor dié digter-God wat tuin maak waar Hy wil.
Drie-uur se kant vat ons die pad Springbok toe en skakel die radio aan. Toe kom die verskrikking. Boosheid se bliksemstraal en later op TV die herhalende skrikbeelde.
Drie-uur se kant vat ons die pad Springbok toe en skakel die radio aan. Toe kom die verskrikking. Boosheid se bliksemstraal en later op TV die herhalende skrikbeelde.
Weke later verskyn ’n koerantfoto van ’n man wat grond toe val nadat hy uit die brandende World Trade Center gespring het. Met ’n opskrif daarby: “Sy naam was Norberto”.
En in ’n beriggie ’n skamel biografie: Norberto se van was Hernandez, 42 jaar oud en ’n boorling van Puerto Rico. ’n Groot, stil man wat net gepraat het as mense eerste met hom praat; 1,85 m lank, 92 kg swaar; met ’n bokbaardjie en groot hande waarmee hy fyngebak gemaak het in die restaurant op die 107de verdieping.
Van hom het sy broer, Tino, gesê: “Hy was ’n nederige mens – só betroubaar dat sy bynaam Bybel was.” En die fotograaf Richard Drew het gesê: “Ek het nie sy dood afgeneem nie – dít was deel van sy lewe.”
My vrou het die foto in haar plakboek geplaas en gevra dat ek iets skryf wat daarby pas. Ek het oor en oor daarna gekyk asof die kyk sin sal gee aan die sinloosheid van 11 September 2001. Miskien het dit. Want ek het gesien hy spring met eerbied vir die lewe. Hy val nie met drama nie, maar met vertroue en presisie. Met die knieë effens gebuig en die arms gestrek teen die lyf. In sy laaste sekondes is hy waardig in die volmaakte simmetrie van lewe en sterwe.
Ek skryf toe by die foto: “Sy naam was Norberto / met bynaam Bybel, /prominent in die koerant geplaas / vertikaal /met die beeltenis van hoe stil / hy loodreg val /ín die swaartekrag van God; / hoe rustig is sy tuimel /grond toe / finaal / na God toe.”
- Jordaan is ’n buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.