Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Laat Kalahari se son in oë van kinders blink

Dink vir ’n oomblik aan klein Ben se lang reis gister en vandag van Blinkwater na Ceres, terug na hul plaas in die mooiste Boland waar die reën en sneeu die week soos trane geval het.

Ons is almal saam met klein Ben Davin in die Kombi of bakkie waar hy styf op ma Wilmien se skoot sit en kyk na die Noord-Kaapse winterveld wat tot aan die einders voor sy ogies afspeel.

Op pa Frans se profielfoto op Facebook staan hy met blonde lokke en kaal lyfie tussen die honde agterop die bakkie. Dis ’n foto wat spreek van plaas en gesin en sonskyn en suiwer plesier. Jy kan die seuntjie uit sy magie hoor lag.

Pa Frans wat saam met oom Hendri Carstens en oom Stefan Bauer die houthuis teen die duin ingestorm het om die slapende kinders te red. Maar nou is hulle ver vooruit op ’n lang reis na die Boland van die hart. Ons is almal saam met klein Ben in die voertuig en wil soos ma Wilmien ’n hand vertroostend na hom uitsteek as hy in sy slaap huil en tannie Madeleine Bauer ook ingedagte oor sy rug vryf.

Ons is die Bauers, die Davin- en die Carstens-gesin elke dag orals met geluk en toeval en genade wat ons veilig hou.

Die reis deur die pynste pyn van bó na onder deur ons land laat ons elke oomblik meer sprakeloos en net met die tonne vrae, al is die net ’n klein bietjie van die vrae wat deur Wil­mien en Madeleine se harte maal. Ons wil dit so graag van hulle oorneem en in sakke aflaai by elke klein halte langs die pad, maar ons is magteloos. Dit is net die stofwolke en dwarrelwinde wat opwaai en met die kraaie en die trietsige dag oor die veld hang wat ons deur klein Ben se ogies sien as hy wakker is.

Dit is ons in ons Kombi’s en bakkies vol kinders na wildtuine en seevakansies en plase met honde wat agter die kinders op hul fietse aan hardloop en blaf; ouers wat teen skemer asemskep, die kinders deur die bad jaag en terugsit en ontspan. Dit is ons almal by daardie langtafel op die Blinkwater-lodge se stoep met kinders wat eet en lag en die son wat oor die rooi Kalahari-duine sak.

Ons is die Bauers, die Davin- en die Carstens-gesin elke dag orals met geluk en toeval en genade wat ons veilig hou. Nou ry Wilmien en Madeleine terug na die huise van hul liefde en drome met hul ontsettende pyn. Net die Car-stens-huis is heeltemal stil.

Dis orraait, wil ons sê, ons is met julle, ons eer die dapper pa’s en ma Dané Carstens wat vir hul kinders in die vlamme gehardloop het en na bui-te wou dra. Ons wil só graag help, as ons net kan. Maar weet, ons is daar.

Voor in die lang pad deur die newels van pyn sien ons klein Ben wat leer fietsry, met sy tassie na die Ligstraaltjie-kleuterskool toe gaan, met sy honde speel, hoërskool toe, leer lewe, dalk boer word soos sy pa.

Maar ons is nie magteloos nie. Ons kan elke dag uitreik en omgee vir ons kinders en hulle ’n kans gee om te lewe soos dié drie pa’s en ma’s dit vir hul kinders gegee het. Ons weet nie wat agter môre se rooi duine wag nie. Laat die Kalaharison vandag in die kinders se oë skyn.

Meer oor:  Charles Smith  |  Dood  |  Tragedie  |  Treurspel  |  Kalahari-Tragedie  |  Kinders  |  Gesin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.