SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Laat konteks bepaal wat is nommerpas
Gerhard van Huyssteen

Honderd.

Dít is die syfer/nommer/getal/aantal/hoeveelheid rubrieke wat ek tot vandag vir Beeld geskryf het.

Watter een van die vyf keusewoorde is korrek in hierdie sinskonteks? Dink eers mooi na, voordat jy verder lees . . .

Ons kan hulle in twee groepies verdeel: (1) syfer, nommer en getal; en (2) getal, aantal en hoeveelheid.

Syfers (meestal digits in Engels) is streng gesproke daardie tien tekens wat die getalle nul tot nege in die Arabiese skrifstelsel voorstel: 0, 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8 en 9 is syfers.

Ons kan syfers kombineer om onder meer twee ander goed te vorm, naamlik nommers en getalle (wat albei meestal vertaal word met numbers in Engels).

’n Nommer is ’n kombinasie van ’n aantal syfers wat gebruik word om iets of iemand te identifiseer, byvoorbeeld die tien syfers in jou telefoonnommer, of die 13 syfers in jou ID-nommer. Jou motor se registrasienommer bestaan uit ’n kombinasie van syfers en letters (of as jy windgat en ryk is, slegs uit letters).

’n Getal druk ’n (hoe)veelheid of somtotaal uit. In “vyf maal vyf is vyf-en-twintig”, is “vyf” en “vyf-en-twintig” albei getalle wat deur telwoorde uitgedruk word, terwyl dieselfde getalle deur syfers uitgedruk word in “5×5=25”.

Nou kom ons by die tweede groepie. “Getal”, “aantal” en “hoeveelheid” is al drie selfstandige naamwoorde wat voor ander selfstandige naamwoorde geskryf kan word, byvoorbeeld “die getal studente”, “ ’n aantal studente”, of “die hoeveelheid water”. Maar wat hoort by wat, en wat is die verskil tussen die klomp?

Op die mees basiese vlak kan ons sê dat ons wêreld uit telbare en nietelbare goed bestaan.

Op die mees basiese vlak kan ons sê dat ons wêreld uit telbare en nietelbare goed bestaan. Honde, stoele en verkeersknope is telbaar, en ons kan dus van “twee honde”, “twaalf stoele” en “talle verkeersknope” praat. Daarteenoor is goud, suurstof en jaloesie nie telbaar nie en kan ons dus nie maklik na “twee goude”, “twaalf suurstowwe” en “talle jaloesies” verwys nie. Soort-, versamel- en maatnaamwoorde word gewoonlik vir telbare goed gebruik, terwyl massa- en abstrakte naamwoorde vir nietelbare goed ingespan word.

En al wat jy nou hoef te onthou, is soos wat “tal” by “tel” hoort, hoort “getal” en “aantal” by telbare goed. En die verskil tussen hulle? Goed wat reeds getel is, kry “getal”, en goed wat nog ongetel is, kry “aantal”. Ons verwys dus na “die getal studente wat geregistreer is” (ons weet presies hoeveel daar is), teenoor “nog ’n aantal studente wat moet registreer” (ons is nie seker hoeveel daar is nie, maar ons sou hulle kon tel). In Engels word die onderskeid slegs met die lidwoord getref: the number of students, teenoor a number of students.

“Hoeveelheid”, daarenteen, word saam met nietelbare goed gebruik, byvoorbeeld “die hoeveelheid water wat jy nodig het”, of “die hoeveelheid stres wat jy beleef”.

Die Engelse gebruik hier meestal a/the quantity of
water/stress
.

Hierdie selfde onderskeid tussen telbare en nietelbare goed word in Engels uitgedruk met many teenoor much: many columns provide much reading material.

In Afrikaans tref ons egter nie sommer die onderskeid nie – dis gewoon “baie rubrieke wat baie leesstof voorsien”.

Die regte antwoord op die vraag?

Honderd is die getal rubrieke wat ek tot vandag vir Beeld geskryf het.

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.