Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Laat, o laat die kindertjies na My toe kom
Annelie Botes

Vroeg in 2019 het ’n bestuurslid van die Care Haven Psigiatriese Sentrum in die Baai my genader om as spreker op te tree by ’n geldinsamelingsgeleentheid wat hulle in die lentetyd beoog. Sy het trots daarop aangedring dat ek my prys moes maak.

Haar regopheid het meegebring dat daar by my geen sprake was van prysmaak nie. Só het dit gekom dat Care Haven se bestuur dit op hul skouers geneem het om ’n lente-bekendstelling vir my bootreisboek, Kammaland, te organiseer.

Dit het verlede Vrydagaand in die statige Grand-hotel in die vervalle Sentraal gebeur – ’n klipgooi skuins oorkant Care Haven, die ankerplek van mense wat tydelik, soms permanent, hul greep op die lewe verloor het.

Oor die sukses van die aand wil ek niks sê nie, want dan klink dit of ek my bors uitdruk. Al wat ek kan sê, is dat die fakkeldraers van Care Haven, die oudste psigiatriese instelling in die Oos-Kaap, hul kneukels nerfaf gewerk het.

Wat my sal bybly, is hoe die bestuur die pa­siënte betrek het.

Níks was te veel moeite nie. Nóóit het hulle gekla of suurgesig geloop nie. En heeltyd het dieselfde refrein opgeklink: “Ter wille van Care Haven . . .”

Opmerklik in die aanloop tot die aand was dat elke vergadering waarby ek was, met gebed geopen is. So ook op die groot aand. Want hulle reken as dit nie vir die genade van God was nie, sou Care Haven se knieë lank reeds geswik het.

Wat my sal bybly, is hoe die bestuur die pa­siënte betrek het. Niemand is agter ’n gordyn weggesteek nie. Daar was ’n handwerkuitstalling waar pasiënte hul kunstalente te koop aangebied het. Ek het my geskaam omdat ek nie sulke skitterstandaarde verwag het van mense wat geestelik onstabiel is nie.

Van die manlike pasiënte het galant opgetree as motorwagte. Die pasiënte wat kon, het as gaste die aand bygewoon.

Kort voor die amptelike aanvang het ek oor die etende, geselsende skare heen gekyk en vele Care Haven-gesigte tussen dié van professore, literatore, doktore en hoëprofiel-sakemense uitgeken. Ek moes ’n snik terugsluk, want nog nooit het ek op sosiale vlak só ’n mengsel van mense gesien nie.

Skouer aan skouer met God se skadukinders.

Mense. Almal net mense. God se geseëndes. Skouer aan skouer met God se skadukinders. Skadukinders geseën met die vrywillige liefdesversorging van ’n bestuurspan par excellence.

Vanuit nêrens het ’n hallelujalied in my opgeklink: “Laat, o laat die kindertjies na My toe kom!” Juis toe kom staan ’n middeljarige pasiënt by my met sy bordjie eetgoed.

Hy lag met skrefiesoë en sê: “Weet tannie, dis die beste aand van my lewe. Ek was nog nooit by ’n book launch nie . . .”

In die laataandkoelte op pad huis toe het ek God gedank dat Hy die web so geweef het dat Care Haven my pad moes kruis.

Ek het die aanhaling voor in Riddle Child onthou. ’n Inskripsie op ’n muur in Nineve uit 6 v.C.: “Heed those with troubled minds, for they have strange wisdom.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.