Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Laat ons dieper dink oor dié ‘volkskritiek’

Dié rubriekskrywer se oog val hier met die aanvang van die nuwe werk- én denkjaar op ’n stelling deur die digter en filosoof N.P. Van Wyk Louw: “Die Afrikaner se gevoeligheid vir kritiek wat teen sy nasie gerig is, verbaas die buitestander altyd.”

Dit is die openingsin in sy “Volkskritiek”-opstel uit 1938. Dit word opgevolg met ’n verwysing na hoe “volkskritiek” elders ervaar word: “In ander lande is sulke kritiek niks ongewoons nie en lok dit selde teenstand uit.”

Heindrich Wyngaard

Net een ander land, het hy geglo, was so “kleinserig” soos die Afrikaners en so opstandig teen kritiek – Duitsland ná die Eerste Wêreldoorlog, “toe sy hele volksbestaan bedreig is”. “Net soos hy destyds, het ons kritiek nog altyd gevoel as ’n aanval teen ons bestaan (. . .) wanneer dit van ’n buitestander kom, en as verraad wanneer dit een van ons eie mense was wat gepraat het.

“Dit was nie bedoel om ons te verbeter nie, maar om ons te verniétig.” En veral: “Dit was veragting, verkleinering, uit-die-hoogte-op-ons-neersien, nie van mense wat ’n ideaal in ons tot deur-braak wou verhelp nie, maar wat ons uit die pad wou hê.”

Dié rubriekskrywer wonder – welwetend dat die konteks van die skrywe gans anders is – hoe dit sou klink as dit nie Afrikaners was wat in Louw se skrywe aan die ontvangkant van die “volkskritiek” was nie.

Wat as dit vandag se swart regeerders, uitvoerende hoofde of sportlui was? Hoe sou hulle hul gevoelens oor dié kritiek verwoord? Ook met gevoeligheid en teenstand? Dit as ’n aanval ervaar, as verraad selfs, as iets wat nie bedoel is om hulle te verbeter nie, maar om hulle te vernietig?

Sou hulle teruggekap het teen die “volkskritiek” oor werklike of veronderstelde onbekwaamheid, soms gewoon omdat hulle as “regstellende-aksie-aanstellings” in die werkplek of “kwota-insluitings” in sportspanne gebrandmerk word, as dat dit “veragting” en “verkleinering” is?

Nou kan jy sien hoe onbekwaam hulle is – anders as toe ons nog regeer het.

Sou dit vir hulle ook voel asof die kritiek kom van “volksgenote” wat “uit-die-hoogte-op-ons-neersien”; medeburgers wat nie ’n ideaal van ’n beter lewe vir álmal – en nie net Afrikaners of Afrikaanssprekendes nie – “tot deurbraak wou verhelp nie”, maar dat dié kritici “ons uit die pad wou hê”?

Nóg uit die Louw-opstel: “Wanneer hulle vir ons gesê het: ‘Julle Afrikaners is sus of so’ . . . dan was die dieper veronderstelling nie: ‘Dit is mý mense wat ek wil gésel totdat hulle uit die onrus ryk, mooi en menslik word nie,’ maar: ‘Ek is bly dat ek nie een van hulle is nie.’ (. . .)”

Die hedendaagse weergawe kan seker wees: “Nou kan jy sien hoe onbekwaam hulle is – anders as toe ons nog regeer het.”

Ons wat in Afrikaans “volkskritiek” pleeg, behoort aan onsself die vraag te stel wat die “dieper veronderstelling” van ons kritiek is. Is dit om ons landgenote te help “gésel” tot welvaart in alle opsigte van hul burgerskap of maar om te jubel oor ons nie “een van hulle is nie”?

Louw het ons immers ook uitgedaag: “Ons taak lê in die gebruik wat ons maak en sal maak van hierdie glansende werktuig.” Dié werktuig is Afrikaans, ons taal. Mag ons in 2020 behoorlik aan sy woorde gehoor gee.

  • Wyngaard is ’n sosio-politieke kommentator en TV-aanbieder.
Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Meningsberig  |  Standpunt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.