Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Laat ons nie van Rwanda vergeet
Amanda Gouws

Die indringing deur gewapende rebelle of terroriste in die noorde van Mosambiek duur al vier jaar, maar die wêreld het nou eers daarvan bewus geraak omdat buitelanders dood is en weens groter nuusdekking. Sowat 700 000 mense is reeds verplaas en onlangs het 11 000 uit Palma gevlug.

Daar is ’n dispuut of dit terroriste van die Islamitiese Staat (Isis) is en of dit die verpolitisering van griewe van landelike inwoners is wat in die provinsie Cabo Delgado in ongelooflike armoede en staatsverwaarlosing lewe. Hulle beleef nou nóg meer verarming weens die ontwikkeling van ’n gasaanleg in die gebied. Die aanleg word deur Total bestuur, maar nie tot voordeel van die plaaslike bevolking nie.

As ons terugkyk na die volksmoord in Rwanda, sien ons dat daar ongeveer drie maande lank geen intervensie was in die gruwelmoorde wat daagliks gepleeg is nie. Lande soos Frankryk, België en die VSA, asook die Verenigde Nasies (VN) was deeglik bewus van wat aangaan, maar wou nie betrokke raak nie. Ook Afrikalande het onbetrokke gebly. Die VSA het die “skadu van Somalië” as rede vir sy onbetrokkenheid gebruik.

Dit verwys na 1993, ’n jaar voor die Rwanda-volksmoord, toe die VSA ’n taakmag na Somalië gestuur het om ’n faksie in die burgeroorlog by te staan. Dit het gelei tot die Black Hawk Down-voorval, waarin Somaliese milisies twee helikopters van die VSA afgeskiet het. 18 Amerikaanse troepe is in die voorval dood en 73 gewond – ’n ondervinding wat die VSA ontmoedig het om in Afrika betrokke te raak.

Teen die tyd toe die buiteland wel betrokke geraak het, was ongeveer 1 miljoen mense in Rwanda reeds dood.

Teen die tyd toe die buiteland wel betrokke geraak het, was ongeveer 1 miljoen mense in Rwanda reeds dood. Die skadu van Somalië, wat ook daartoe gelei het dat die VN nie dadelik wou ingryp nie omdat dit toekomstige vredesmissies kon ondermyn, min buitelandse belange in Rwanda en die gebrek aan buitelandse nuusdekking het tot die volksmoord bygedra.

Die situasie in Mosambiek is nie dieselfde as in Rwanda nie en is miskien meer gekompliseerd weens die gasontwikkeling. Daar is ontleders wat meen dit is verkeerd om die indringing terrorisme te noem, omdat lande betrokke sal raak om terrorisme met geweld te stop, terwyl die situasie eerder humanitêre hulp vereis.

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het reeds vergader om te besluit of lidlande betrokke gaan raak. Suid-Afrika het hulp aangebied, maar een van die beginsels wat hier geld, is dat lande net betrokke sal raak as hulle deur die Mosambiekse regering gevra word. Die Mosambiekse regering het reeds aangedui dat hulle net betrokkenheid sal toelaat as dit nie die land se soewereiniteit skaad nie. Intussen lei die Portugese weermag en 60 Green Berets uit die VSA Mosambiekse troepe op.

Feministe wat internasionale betrekkinge bestudeer, is al jare lank krities oor die feit dat lande sekuriteitsbeleid koppel aan staatsoewereiniteit, eerder as aan die sekuriteit van mense.

Die verdediging van soewereiniteit maak dit nie noodwendig veiliger vir mense nie, maar op die lang duur meer onveilig. Die situasie in Mosambiek is ’n goeie voorbeeld hiervan. Terwyl daar gekibbel word oor soewereiniteit is daar grootskaalse verplasing van mense, honderde is dood, waarvan baie onthoof is, en vroue en meisies is verkrag.

Weer staan die wêreld eenkant om dit toe te laat terwyl private sekuriteitsmaatskappye, wat aan niemand verantwoordbaar is nie, die gaping neem.

Waarvoor die Mosambiekse regering verantwoordelikheid moet neem, is die swak regeerkunde, die korrupsie en die verval van sy weermag.

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Rwanda  |  Massamoord  |  Etniese Moord  |  Feministe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.