Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Laat weet Bokke SA is desperaat
Rapule Tabane

Ek is nie juis sentimenteel nie en glo in feite en tasbare dinge. Maar elke nou en dan is dit te veel om te verduur en voel jy ’n bietjie sentiment kan help om ons beter te laat voel.

Waarvan praat ek? Ek praat van my gevoelens oor die land en waarheen ons op pad is. Die harde feite is neerdrukkend: die algemene gemoedstemming, misdaad, die ekonomie, emigrasie – dit alles skets nie ’n mooi prentjie nie. Derhalwe my versugting na iets wat ons gemoed ’n bietjie kan lig.

Ek het dié week gesien hoe die foto van aartsbiskop Desmond Tutu en sy vrou, Leah, saam met die vier maande oue Archie Mountbatten-Windsor die hartsnare van mense wêreldwyd roer.

Ja, soms is dit sulke klein oomblikke wat saak maak. Selfs vir hardekoejawel politieke diere wat daarop aandring dat Suid-Afrikaners, of Afrikane oor die algemeen, nie oor die koninklikes van ons voormalige koloniseerders opgewonde moet wees nie.

Simboliek is lankal nie meer belangrik vir Suid-Afrikaners nie.

Simboliek is lankal nie meer belangrik vir Suid-Afrikaners nie. Ons het maar net probeer deurdruk met ons lewe, ’n werk gekry, ons kinders grootgemaak en die beste opvoeding vir hulle probeer gee. Ek veronderstel dit is waaroor die lewe gaan: om te sorg vir onsself en diegene vir wie ons omgee.

Maar dit is moeilik om onsself af te sonder en met ons lewe aan te gaan sonder om geraak te word deur wat om ons gebeur. Om te sê solank ek veilig is en dit met my gesin goed gaan, gee ek nie om wat om my gebeur nie.

Ons het iets in die land nodig om ons uit die groef te kry. In Februarie verlede jaar het groot opgewondenheid geheers toe oudpres. Jacob Zuma uiteindelik gedwing is om te bedank. Die hele land was verlig. Daar was hoop dat die minsame Cyril Ramaphosa ons almal uit die wanhoop sou verlos. En hy hét ons geïnspireer met sy “Thuma Mina”-veldtog (daardie wonderlike liedjie van Hugh Masekela wat “stuur my” beteken).

Maar deesdae word al hoe meer gevra of hy aan die verwagtinge voldoen. Ten slegste wonder mense of hy vinnig genoeg beweeg. Derhalwe is hy gevra om te verwys na nog een van Masekela se liedjies, “Khawuleza”. Dit beteken “beweeg vinniger”.

In tye soos dié wend ons ons tot sport om ons hoop te gee. Maar ons het die laaste tyd met die meeste sportsoorte gesukkel, veral met krieket en sokker, van ons voorste sportsoorte.

In tye soos dié wend ons ons tot sport om ons hoop te gee.

Atlete het ons die laaste paar jaar bly gemaak met wonderlike vertonings by die Olimpiese Spele en die Wêreldatletiekbyeenkoms. Maar die twee sterre wat goud vir ons verwerf het, Caster Semenya (800 m) en Wayde van Niekerk (400 m), sal afwesig wees wanneer die IAAF se Wêreldbyeenkoms vandag in Doha begin.

Van Niekerk is beseer en Semenya word nie toegelaat om deel te neem voordat sy instem om haar testosteroonvlakke te verlaag nie. Akani Simbine (100 m) en Luvo Manyonga (verspring) sal ons vlag moet laat wapper.

Maar dit is rugby wat ons kan terugvoer na die dae toe oudpres. Nelson Mandela Bafana Bafana in die Afrika-nasiesbeker en die Springbokke in die Wêreldbeker-rugbytoernooi tot glorie geïnspireer het. Ons weet almal wat daardie oomblikke vir nasiebou beteken het.

Die Bokke het wel hul eerste wedstryd in die 2019-WB teen die All Blacks verloor, maar as hulle hul sokkies optrek en die res van hul groepwedstryde wen, kan hulle op koers na die eindstryd wees en ons die oomblik gee waarna ons almal smag. Ons is, trouens, desperaat vir ’n sege.

Kan iemand na aan die span vir hulle sê 55 miljoen Suid-Afrikaners het hierdie glorie nodiger as in enige ander tyd die afgelope 25 jaar? Asseblief?

Meer oor:  Rapule Tabane  |  Springbokke  |  Hoop  |  Rugby  |  Bokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.