Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lady Macbeth se raad vir ANC

Ek is bly dat die ANC in die afgelope verkiesing nie eens naastenby by ’n 60%-stempersentasie uitgekom het nie.

Insgelyks is ek bly dat die politieke fatwa wat daardie politieke draak van die EFF, Julius Malema, oor die ANC uitgespreek het, nie voltrek is nie en dat die ANC steeds sy hande op die hefbome van die regering het.

Die ANC het myns insiens dus nou eers ’n volwaardige politieke party geword. Want voorheen het die ANC altyd bevestig dat hy nie ’n politieke party wil wees nie, maar eerder ’n bevrydingsbeweging wat ’n tuiste geword het vir allerlei botsende ideologieë en standpunte. Dus: die sogenaamde “broad church”-beginsel.

Die ANC as ’n struggle-beweging se grootste mikpunt was om ’n politieke tuiste vir almal te wou wees en die narratief wat die ANC in ons koppe ingeprent het, was dat hy die enigste organisasie is wat die leeu en die lam bymekaar kan laat lê. Onder die ANC tel inmiddels vryemarkmense en heftige sosialistiese Rooi Vlag-swaaiers, swart nasionaliste en internasionale, konserwatiewe en geswore Marxiste, sommige met ’n Stalinistiese trek.

Die veelheid van stemme binne die ANC waar elkeen daarop reken dat hy of sy oor die geheime resep beskik, maak dat hy talle dringende beleidsbeslissings uitstel en uitstel, wat in wesensbelang is vir die land se toekoms.

Die ANC se grootste nagmerrie op hierdie oomblik is nie die DA wat die amptelike opposisie is nie, maar eerder die linkse sosialistiese EFF.

Vat maar die gronddebat. 'n Mens het omtrent ’n dekodeerder nodig om te probeer ontsyfer wat nou die amptelike beleid van die ANC is. Die een dag word grond sonder vergoeding gevat en dan word daar weer jakkalsdraaie gegooi en gesê grond gaan nie sommer goedsmoeds afgevat word nie.

Die ANC se grootste nagmerrie op die oomblik is nie die DA wat die amptelike opposisie is nie, maar eerder die linkse sosialistiese EFF. Maar die ANC se groot skild hierteen is dat hy hom nog altyd en steeds as ’n tipiese uhuru-beweging beskou en verkoop. Daarmee volg die ANC soos ’n slaapwandelaar soortgelyke bewegings elders in Afrika.

Wat van die ANC egter ’n bedenklike variant van die uhuru-model maak, is dat hy boonop ’n rasseorganisasie in ’n veelrassige omgewing is. Gaan kyk maar na die jongste meningspeiling voor die verkiesing en kyk waarvandaan het die ANC se stemme grootliks gekom. Daar is geen beduidende groep wit mense en bruin mense wat dink dat die ANC sy sake doeltreffend bestuur nie.

Die uitslae van die pas afgelope verkiesing dwing vir die eerste keer die ANC om introspeksie te doen. ’n Bevrydingsparty het nog nooit onderhandel nie. Mugabe se Zanu-PF het nooit onderhandel oor mag nie. Die ANC ook nie. Die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) was maar ’n simboliese gebaar wat van Nelson Mandela af gekom het. Om dit brutaal te stel: Die NP was maar die gaste van die president in die kabinet en ordentlike gaste is spaarsaam met die politiek.

Die ANC ís kwesbaar as politieke party. Waar die ANC aan die begin verseker was van ’n volstrekte meerderheid in munisipaliteite, metro’s en provinsies, is dit nie meer die geval nie. In verskeie munisipaliteite regeer die ANC met behulp van kleiner partye. Metro’s soos Tshwane en Johannesburg is in opposisiehande. Johannesburg – die ekonomiese hartland – is uit ANC-hande en amper het die ANC ook Gauteng verloor.

Die ANC kan homself nog red voordat dit te laat is, maar nie met mense soos Ace Magashule nie. Soos lady Macbeth sou sê, moet dié “damned spot” eers wyk.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Anc  |  Opposisie  |  Eff  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.