SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
‘Lae Lande’ inderdaad nie 'n Anglisisme nie
Gerhard van Huyssteen

Merk iemand genaamd Leser in ’n SMS aan Beeld die afgelope naweek op: “Ek geniet Gerhard van Huyssteen se rubriek . . . Soos vele ander praat hy verkeerdelik van die Lae Lande. Hierdie gedrog is ’n baie goeie voorbeeld van ’n Anglisisme. Die regte term is Neder Lande (sic).”

Beste Leser

Eerstens: Baie dankie vir die kompliment en dankie dat jy my se rubriek lees. Ons nie­politieke rubrikante is maar te bly as mense ons skryfsels lees, want soms is ons bang lesers is slegs geïnteresseerd in menings oor die Zuptas, die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Cheetahs. (Die Bulle is helaas nie meer nuuswaardig nie. Treurige dae . . . )

Tweedens: Dankie ook vir die kritiek – dis altyd welkom en waardevol!

Derdens: Ek moet helaas van jou verskil oor die naam “Lae Lande”: Dit is nié ’n Anglisisme nie. Trouens, “die Nederlande” (vas geskryf, want “neder-” is nie ’n losstaande woord in Afrikaans nie) sou dalk eerder ’n Anglisisme kon wees as dit gebruik word as vertaling vir “the Netherlands”, net soos wat “Unie­geboue” (in plaas van “Uniegebou”), “Kaapse Wynlande” (in plaas van “Kaapse Wynland”) of “KwaZulu-Natalse Middellande” (in plaas van “KwaZulu-Natalse Middelland”) puriste die herrie in maak.

Maar hoe staan sake met die benaming “die Lae Lande” (Nederlands: de Lage Landen; Engels: the Low Countries)?

Die Lae Lande verwys hedendaags meestal gesamentlik na Nederland en België; soms slegs na Nederland en Vlaandere (die noordelike deel van België); soms na Nederland, België en Luxemburg (die sogenaamde Beneluxlande); soms na die Beneluxlande plus die Franse Nederlande (die Franse gebied bo die Somme). “Die Lae Lande” is dus ’n bietjie soos “die Derde Wêreld”: in­herent meerduidig, aangesien dit nie na ’n vaste staatkundige gebied verwys nie.

Histories gesien is die benaming nóg moeiliker. Ek het ure lank deur my geskiedenisboeke en Wikipedia gewaad en ek is min wyser. Daar was die Spaanse en die Oostenrykse Nederlande; die Noordelike en die Suidelike Nederlande; die historiese Nederlande (meervoud) teenoor die hedendaagse Nederland (enkelvoud). (Siestog, sterkte vir hulle as daar ooit grondhervormings­eise sou wees!)

Ek het ure lank deur my geskiedenisboeke en Wikipedia gewaad en ek is min wyser.

Die Romeine het na ’n deel van dié grondgebied verwys as Germania Inferior (Onder- Germanië of Neder-Germanië) – teenoor die deel ten noorde van die Ryn, ­Germania Supe­rior (Bo-Germanië of Opper-Germanië). In dié gebiede, weet die Romeine te vertelle, was teutonicus die taal; verder noord- en ooswaarts was germanicus die gangbare taal.

Teutonicus se paadjie loop terug na theodiscus, wat verder terugloop na die Germaanse byvoeglike naamwoord þeudisk. Dít het “volks-”, soos in “volkstaal”, beteken. Uit þeudisk ontstaan die Middelnederlandse variante duutsc en dietsc, wat nog later Duits en Diets word, en waaruit die ­Engelse hul Dutch kry.

Geografies is onderskei tussen Hoogduits (die taal in die hoogliggende suide), Middelduits (van die middelste deel van die gebied) en Nederduits (die taal in die laagliggende noordweste).

En so, beste Leser, sit ons hede ten dae steeds met die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Daardie “Nederduits” verwys dus na die taal van die Lae Lande en het in wese weinig met Duitsland, die Duitsers of die taal Duits (soos ons dit vandag ken) te doen.

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.