
Aniki Joseph
Kleintyd was die jaarlikse landbouskou en die koms van die sirkus altyd die hoogtepunte op die dorp se kalender.
Weke vooraf is die stuk aarde waarop die verrigtinge sou plaasvind, gelyk geskraap en as die eerste stofwolke soos ’n rieldans op ’n grondpad rooibruin opslaan, het die opgewondenheid saam gestyg. Dit was kompleet asof daar nuwe hoop en lewe in die dorp geblaas is. Die afwagting en energie was oral aanvoelbaar!
Deelname was die sleutelwoord wat ’n hele gemeenskap kon saamsnoer in die beplanning en voorbereiding van die landbouskou. Daar is gebak, gekook, gebrei, gehekel, naaldwerk en houtwerk gedoen, vrugte ingelê, kunswerke geskep, blommerangskikkings gedoen en vele meer.
Skole, kerke en bykans elke vereniging en individu op die dorp het inskrywings vir die skou opgelewer. Die boere het van heinde en ver kom spog met skoudiere en kraakvars plaasprodukte.
Op die dag wanneer die skou open, het die skool die leerlinge vroeg verskoon om die skou by te woon. Sommige administratiewe kantore het selfs gesluit vir die groot dag. Die verrigtinge is met skriflesing en gebed geopen, die burgemeester – goue ketting om die nek – sou ’n toespraak lewer. ’n Skoubeampte sou die lint knip en dan het die pret begin.
In daardie oomblikke was bekommernisse en hartseer vergete.
Die skoolkadette het gesorg vir ’n pragvertoning, die trompoppies het hoog geskop en fyn getrap en vir die skool se gimnastiekvertoning het leerlinge passies uitgevoer met hoepels en linte.
Die uitstallings van implemente, plante, gewasse en voertuie het groot aandag getrek. Daar is uitbundig gelag, gekuier en meegeding. Laatmiddag, wanneer ’n stukkie braaivleis met yskoue tuisgemaakte gemmerbier afgesluk is en die deelnemers hul pryse ontvang, was die gemeenskap se harte en beursies weer boepensvol.
Later was daar die reisende geselskap van narre, akrobate, dieretemmers, perde en ruiters van die rondgaande sirkus. Plakkate is lank voor die tyd oral in die dorp aangebring. Vroegmiddag kon die dorpenaars op ’n veilige afstand aanskou hoe die diere versorg word en iewers langs die helderkleurige karavane het daar wasgoed in die wind gewapper. Gedurende die vertonings in die ovaalvormige tent met sy opgestapelde sitplekke het mense gesnak na hul asems wanneer die koordlopers optree en geskaterlag vir die narre se verspottighede. In daardie oomblikke was bekommernisse en hartseer vergete.
Daar is heilsaamheid in samesyn en lekker lag. Die wyse Salomo het nie verniet geskryf dat ’n vrolike mens ’n gesonde mens is nie. En in Chris Barnard se boek Paljas word die McDonalds se lewe en uiteindelik die hele gemeenskap, te midde van innerlike en uiterlike konflik, ten goeder trou verander met die koms van die nar in die klein Karoodorpie.
Humor, lekkerlag diep uit die maag en samesyn is helend en broodnodig.
- Joseph is ’n skrywer en reisiger van Pretoria.