Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lamentasie van ’n 50-jarige, wit vrou in Afrika
Annemarie van der Walt

Dis of ons ’n land sonder ’n opgetekende verlede word, is die gedagte met die lees van die kosbare boek- en ander versamelings wat in vlamme opgegaan het by die Universiteit van Kaapstad.

Die enigste vonkie dankbaarheid is dat dié reuseverlies nie weens regstreekse kwaadwilligheid is nie. Terwyl ’n Twitter-koor in schadenfreude opklink oor die eindelike reiniging van die verrotte kolonialisme, is ek bitter bly nie een van die twieters had skynbaar die persoonlike genoegdoening om dié vuurhoutjie te trek nie.

Maar ek bly onvergenoegd aan die dool; die gemis is opeens aan soveel dinge – plekke, mense, toestande – wat jare der jare liefs ongenoem is.

Ek wil ’n weeklaag uitskreeu vir die 50-plus wit vrou wat ek is, in hierdie land, waaraan ek met die beste wil ter wêreld net mooi niks aan kan doen nie.

In my rouskrif sal ek die verlange na ’n stil, voorstedelike biblioteek opskryf. Een waar die jongste publikasies in my taal beskikbaar sal wees, waar die bib-personeel sal weet waar om dit te vind op die rak en waar ’n mens jong ouers en hul kinders sal sien instroom.

En as ek die dag nie lus is om hedendaagse, “betrokke” letterkunde te lees nie omdat my gemoed vervlaks oortrokke voel, wil ek ’n ou-ou boek kan raakvat op die rak, en die rugkant sal heel wees, en dit sal met daardie biblioteekplastiek oorgetrek wees, en miskien val ’n vorige leser se boekmerk uit en dit sal reg voel.

Ek wil nie meer my oë hoef toe te maak en terug­ te gryp na my skemer geheue om skoon sypaadjies te sien nie.

Ek wil nie meer my oë hoef toe te maak en terug­ te gryp na my skemer geheue om skoon sypaadjies te sien nie. Wanneer ek oor die treinspoor ry plaas toe, strek my verbeelding nie meer ver genoeg om nié die roestende infrastruktuur te sien nie, hoe dit maand ná maand tot niet erodeer. Ek het al vergeet van opgewonde wees om donkeroggend na ’n bestemming te vertrek, want geen mens dobbel so blatant met die lewe nie.

Gil gaan ek gil as ek nog een keer moet hoor iemand het ’n safe place – wat niks met vier mure­ en ’n slot aan ’n deur te doen het nie – nodig om ’n verskil in mening te process. Of as iemand skeef opkyk omdat ek nie die korrekte volgorde van LGBTQI kan onthou nie.

Ek wens daar was nog fietsloodse by skole en wipmatte sonder veiligheidsnette. Soms, wanneer daar gekuier word en die jong kinders stip na skerms staar terwyl daar sweerlik ’n seerowerskip onder die vyeboom se takke wag om op gespeel te word, maak ek dit af as ouderdom.

Myne.

Nou, in dié voorheen-middeljarige-50’s-maar-nou-die-nuwe-30’s (ag, hoepel tog ook op daarmee!) eggo ek al hoe meer dikwels my oupa se woorde: “Doe’ maar gewoon, dan doe’ je al gek genoeg.”

Die land en die wêreld is aan die gek word. En op hierdie doodgewone Donderdag is ek sat daarvan om te maak of als normaal is.

  • Van der Walt is ’n vryskutskrywer van Mbombela.
Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Herinneringe  |  Wit Vrou  |  Midfdeljare  |  Lamenasie  |  Sypaadjies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.