Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Langlewemelk op ’n melkplaas in Vrystaat

In Vrede vra ek rond. Hou net reguit aan, beduie die man by die vulstasie. Doer voor draai jy regs, dan links. Jy sal die plaas sommer sien.

Dana Snyman

’n Kilo of vyf verder, op regterhand, is die lang ysterhek, met ’n hoë rousteenmuur weerskante daarvan. Nêrens ’n naambord nie. Nêrens ’n opstal nie. Ek draai daar in.

Dit is een van daardie hekke wat elektries voor jou behoort oop te skuif, maar die wag kom uit sy kantoortjie en skuif dit met die hand oop. Ek klim uit die bakkie. Die wag lyk heel paraat, donker uniform, verkyker om die nek, maar hy is ’n gawe kêrel.

“Wat gebeur hier?” vra ek.

“Dis die plek van die TV en die koerante: Estina Dairy.” Hy lag.

Miskien moet ek liewer sy naam verswyg.

“Hulle melk beeste hier.” Hy wys na ’n gebou in die oopte. “Hulle moet kaas ook maak – alles. Maar niemand kan die masjiene werk nie. Nou roes dit. Hier’s baie geld gemors hier. Baie. Baie.

Vrede se mense sal elke dag ’n gratis glas melk kan drink, het Magashule by die opening in 2012 gespog.

“Niemand bly hier nie. By die planne is mos huisies, alles. Maar nou’s hier niks nie. Die mense kom elke dag met die bakkie. Ek ook, ek bly nie hier nie.” Hy moet sy eie vervoer van die dorp af kry om hier te kom.

“Hier by die Vrystaat hulle steel net. Hierdie hek is twee miljoen rand. Die mense kom hier, dan vra hulle: ‘Waar’s daai hek van twee miljoen?’ ” Dis die bedrag wat die kontrakteur glo betaal is om die twee ongepleisterde mure en die waghuisie op te rig.

Uiteraard was Ace Magashule al hier; dié plaas het alles met hom te doen, met hom en sy vriende die Gupta-broers, wie se Estina-maatskappy die plaas sou bedryf het. Om werk te verskaf en die armes op te hef. BEE.

Vrede se mense sal elke dag ’n gratis glas melk kan drink, het Magashule by die opening van die projek in 2012 gespog.

“Daar oorkant is ’n ashoop. Partykeer die beeste eet die plastiek.” Die wag stap al pratende by die hek in om my die kantoortjie te wys. “Die ander koeie is droog.”

Die kantoortjie het net genoeg plek vir ’n plastiekstoel en ’n tafel. Deur die venster kan jy baie van die bietjie sien wat hier gebeur. Links die gebou waarin nie kaas gemaak word nie, regs ’n afdak waaronder trekkers staan, doer ver wei beeste, en oor alles hang ’n stilte – die oorverdowende stilte van R288 miljoen wat hier geboue en werkgeleenthede moes word, maar in die Guptas en ander korruptes se sakke beland het.

“Hulle was hier, die Guptas. Een het ’n Citroën. Nou hulle los ons hier. Die mense huil.”

Jy kan dit nie miskyk nie: Op die tafel, by ’n sakkie suiker en ’n blikkie koffie, staan ’n kartondoos: Spar full cream long life milk. Langlewemelk op ’n melkplaas, ’n simbool van die Ace-bewind in die Vrystaat.

’n Rukkie later groet ons, ek en die wag, en terwyl ek wegry, waai ek vir hom en hy vir my. Hy waai en hy waai, hy waai steeds vir my.

Meer oor:  Deurloop  |  Dana Snyman  |  Meningsberig  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.