Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lat, paplepel en borsel verban na museum

‘Enige pak slae nou verbode,” staan dit in groot, vet letters in my koerant.

En ek stem heelhartig daarmee saam, want as die Springbokke van hier af aan nog enige verdere pak moet kry, is ons kas toe. Maar toe sien ek dié berig is op bladsy nege van my koerant en dis nie eens halfpad sportbladsye toe nie. En nee, dis toe nie rugby nie, maar kinders grootmaak.

Hoofregter Moegenoeg Moegenoeg het nou die rottang, haarborsel, paplepel, leerbelt, kweperlat en selfs die plathand verban na Amsterdam se grillerige martelmuseum, waar hulle nou saam met die guillotine en pynbanke ’n ereplekkie gaan kry.

En daarmee het onse agbare hoofregter kinders grootmaak in hierdie ou mooi landjie nog ’n gatslag toegedien, al sê ek dit met die nodige respekte teenoor u, my Kroon. Jy mag nou dagga in jou huis aanhou, maar nie ’n paplepel nie, as ek u reg verstaan.

Nee, mammie, as jy nou daai klein mannetjie ’n ligte oorveeg gee oor ’n tantrum in ’n speelgoedwinkel, is jy in die tjoekie en maak pappie die klein karnallie alleen groot.

Ek dink die geweldenaars wat professionele vroue- en kinderslaners is, sal maar net kaalvuis agter die toe deure aanneuk.

Ek verstaan waar u vandaan kom, my Kroon, maar ek dink die geweldenaars wat professionele vroue- en kinderslaners is, sal maar net kaalvuis agter die toe deure aanneuk, want hulle lees nie bladsy nege nie omdat hulle klaar alles weet.

Nou ja, liewers oor na bladsy 24, wat ná Saterdag ook maar taamlik grillerig lyk. Ons het Saterdag al vroegoggend ’n plekkie by ’n kuierplek met groot TV’s (Toks en Kobus Wiese pas albei in) gaan afpen, maar moes toe noodgedwonge drie wedstryde sowel as ontbyt én middagete deurwerk voordat ons kon huis toe gaan.

En ook net nadat ons toe eers met die nodige aandag die weerkyke, kykwere, stadige aksie en nabetragtings bestudeer het.

Dat die volgende ses weke groot stremming op huwelike gaan plaas, dié is nou maar wors, behalwe as jy vir poplap met ’n Springboktruitjie saamvat.

Saterdagmiddag, ’n uur of wat nadat die doodsklok vir die Bokke gelui het, hoor ek ’n ou by die tafel langsaan praat: “Skat, hulle het ’n kompetisie hier in die kroeg vir die ou wie se vrou die oulikste is. Jy is nou al in die halfeind, so ek wag net vir die ‘finals’, dan kom ek.”

Neef Bartel, weer, sit langs my en tik ’n watse-aap vir liefie: “Engeltjie, ek is oor 40 minute tuis. As ek dan nog nie daar is nie, lees net weer dié boodskap.”

Soos Dik Daan sê, dis sulke tye dat die ou koeie uit die slote klim. “Dis hoekom daar nie eintlik vroueskeidslegters by die manne se wedstryde is nie, want hulle sal jou maklik ’n rooikaart gee vir iets wat jy drie jaar gelede aangevang het”, verduidelik hy.

Ja, mense, vandag is Fanusdag (hy sou 91 gewees het) en môre Braaidag en daar is drie wedstryde wat wag.

Harde werk, harde werk!

Meer oor:  Blouwillem  |  Lyfstraf  |  Vroueslaners  |  Vrouegeweld  |  Rugby  |  Tugtig  |  Paplepel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.