Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Leef nou, betaal later’ eis sy tol

Dis ’n uiters kommerwekkende prentjie wat finansminister Tito Mboweni Woensdag in sy me­dium­termynbegrotingsraamwerk geskets het.

Te midde van ’n aanpassing in die verwagte ekonomiese groei vir vanjaar – van 1,5% in Februarie se begroting tot net 0,5% – groei staatskuld ook skerp en kan dit teen 2023 meer as 70% van die bruto binnelandse produk (BBP) beloop. Dít vergeleke met die minder as 60% wat nog in Februarie verwag is.

Dawie

Rente op skuld is teen 13,7% steeds die bestedingsitem wat tot 2023 die vinnigste groei en dit is teen R796 miljard oor dié tydperk meer as wat die staat aan gesondheid, ekonomiese ontwikkeling, veiligheid en gemeenskapsontwikkeling of algemene openbare dienste bestee. Net aan onderwys en welsyn word meer bestee as aan rente op skuld.

Dié krisis is in hoofsaak te wyte aan Jacob Zuma se nege jaar aan die stuur van die land. Nadat hy aan die bewind gekom het, het regeringskuld van 21,8% van die BBP in 2008-’09 tot 46% in 2017-’18 gestyg.

Nou sit Mboweni met die gebakte pere en ofskoon hy streng besparingsmaatreëls aangekondig het, is dit helaas nie naastenby genoeg nie.

Die een tikkende tydbom waaroor Mboweni bykans niks gesê het nie, is die onvolhoubare maatskaplike toelaes aan sowat 17 miljoen begunstigdes. Uitgawes hierop is met 8 persentasiepunte verhoog van R162,8 miljard in die 2018-’19-boekjaar tot R175,1 miljard vir die 2019-’20-boekjaar.

Trevor Manuel het reeds toe hy nog minister van finansies was, gewaarsku die een ding wat van Suid-Afrika “ ’n tweede Zimbabwe” kan maak, is onvolhoubare maatskaplike besteding. Manuel het dit ’n benadering van “leef nou, betaal later” genoem.

Hierdie toelaes het ’n tweesnydende swaard geword. Enersyds is dit ’n noodsaaklike vangnet vir die heel armes wat nie daarsonder kan oorleef nie, maar andersyds het dié bestedingskategorie só gegroei dat dit nie meer lank volhoubaar sal wees nie.

Deel van die probleem is dat die aantal mense wat toelaes ontvang, jaarliks meer word. Dit neem dus ’n al hoe groter hap uit die begroting en beteken minder geld is beskikbaar vir infrastruktuur en projekte wat werk skep.

Om al hoe meer geld te leen ten einde die betaling van die toelaes in stand te hou is geen uitweg nie.

Om die toelaes te staak is uiteraard ook nie ’n opsie nie, want dit sal armes in ’n nóg dieper ellende dompel en bes ­moontlik op ’n revolusie uitloop. Wat staan die regering dan te doen in hierdie knyptang waarin hy hom bevind?

  • Die enigste werkbare oplossing is drasties versnelde ekonomiese groei. Daar is geen kitsresep nie, maar ’n paar eenvoudige stappe kan in ’n kort tyd reeds ’n groot verskil maak: Bevry die arbeidsmark deur arbeidswetgewing minder beperkend te maak. Gee meer buigsaamheid in minimum lone, en breek die mag van vakbonde.
  • Beperk rompslomp vir kleinsake en maak dit vir sakelui makliker om met die res van Afrika handel te dryf.
  • Privatiseer soveel moontlik staats­ondernemings.
  • Kry onderwys in die algemeen op ’n aanvaarbare peil waar resultate waarde bied vir die enorme bedrag wat jaarliks aan dié portefeulje bestee word.

Die vraag is ook wat die regering gaan doen om die mense te paai wanneer hy eenvoudig nie meer geld vir maatskaplike toelaes het nie. Dis hier waar onbekookte planne vir grondhervorming ’n groot gevaar word.

As die land eers dié koers inslaan, verander Suid-Afrika van ’n land met miljoene toelaag-afhanklikes en baie skuld in ’n land met miljoene toelaag-afhanklikes en baie skuld wat nie kan kos produseer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.