Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Leef voluit, reg waar jy nou is
Elmarie Dercksen

As ’n mens 70 jaar oud word, leef jy ongeveer 25 550 dae (sonder die skrikkeldae waarvan 2020 ook een het).

Dis ontstellend min. Dink daaroor: Die lekker dae vlieg verby, maar die moeilikes wens ons verby. Ek wil dit nie meer doen nie, want ons het eintlik min tyd en elke dag is die moeite werd, selfs die moeilikes.

Vier koppies vol rys is omtrent so-veel korrels soos ons lewensdae. Ek hou van die vier-koppies-idee en gooi vier koppies koringkorrels in ’n glas-houer op ’n kombuisrak waar ek dit kan sien, na aanleiding van ’n skets van die skrywer Ann Voskamp. ’n Halwe koekiefles vol gort, dis my lewe.

Die Bybel is vol wyshede hieroor: Ons is stof; Ons is woestynblomme wat verdwyn as die wind daaroor waai; en: Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.

Aan die begin van die jaar is ons vol planne. Voornemens, idees en heerlike uitdagings vul ons gedagtes. Maar ek het al genoeg korrels gebruik om te weet: Dis nie die planne wat sukses bring nie. Dis nie die determinasie of vasbeslotenheid wat ons laat slaag nie, maar eerder goeie beplanning en ’n daaglikse happie van die olifant.

Dis of die fles vol gort met my praat, my aanmoedig: Leef ligter.

Dus het vanjaar effens anders begin. Natuurlik programmeer ek my lewe om beter keuses te maak, soos almal maar doen in Januarie. My tekkies is langs my bed en nie in die kas nie, die yskas is vol groente, my kalender is nog netjies en my laaie reggepak. Maar in my gemoed, vir my innerlike lewe, wou ek nie nog iets byvoeg nie. Geen nuwe planne of voornemens nie. Dis of die fles vol gort met my praat, my aanmoedig: Leef ligter.

In Joh. 12 verduidelik Jesus die koringkorrel-beginsel: As ’n koring-korrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een, maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in. Jesus verwys na sy eie lewe en sterwe, maar Hy verduidelik ook ’n geestelike beginsel waarvan die Nuwe Testament deurtrek is. My lewe is nie myne nie. Dit help nie ek klou daaraan vas nie, want die korrels gáán, een vir een, met elke sonsondergang. Ek moet dit weggee.

As ek daarop fokus om God eerste te ag, om my medemens te dien, sterf my daaglikse koringkorrel. Dan begin my nalatenskap betekenis kry, dan plant ek om te oes. Dit is wel waar dat die fokus verskuif, weg van my alleen. Ek doen nie meer alles sodat ek daarby kan baat of myself verryk nie.

In my dagboek het ek drie vrae neer-gepen wat my gaan help ligter trap in 2020:

* Wat kan ek gee? (In plaas van: Wat kan ek hieruit kry?) Ons meet gewoon-lik situasies en geleenthede aan hoeveel dit ons gaan baat. Vanjaar wil ek net eers vra of ek iets het om te gee. Mis-kien geld en goed, maar ook tyd en aandag.

* Wat kan ek wees? (In plaas van: Wat kan ek doen?) Die meeste van ons het genoeg vaardighede om ’n reuseverskil te maak. Ek hoef nie op te daag eers as ek perfek is nie. Wat jy nou is, is genoeg om God mee te eer en jou medemens te dien. Jy hoef selde iets te doen om dit beter te maak, jy kan maar net wees. Maar om regtig teenwoordig te wees, aandag te gee, te luister, is dikwels moeiliker as om iets te gaan doen. Ek wil nie meer fokus op presteer nie, ek fokus op wees.

* Hoekom is ek hier? (In plaas van: Waarheen kan ek gaan?) Ons glo so dikwels die avontuur is elders. My lewe gaan egter nie noodwendig beter word op ’n ander plek nie, want ek neem myself saam. Ek kan net sowel fokus op my roeping waar ek nou is. As die be-geerde beroepskuif of die vakansie by die see of die skip wat moet inkom eendag realiseer, goed en wel, maar tot dan moet ons kan voluit leef op die plek waar ons nou is.

Elmarie Dercksen is leraar by die NG kerk Bloubergstrand in Kaapstad.

Meer oor:  Geloof  |  Leefstyl  |  Sielsgoed  |  Nuwejaarsvoornemens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.