Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Woord en Perspektief
Lees méér Bybel en préék minder

Op my rak is ’n boek: Handleiding by die erediens. Dit fokus op baie soorte eredienste, maar sê niks oor ’n staat van inperking nie. Die voorwoord maak wel ’n belangrike opmerking: Die verskillende vorme van eredienste het een doel: die uitdrukking van geloof in die Here.

Virtuele eredienste is nie onbekend nie. In grendeltyd word meer mense hieraan blootgestel. Dit het die platform vir geloofsbyeenkomste geword.

Dit het duidelik geword predikers is baie innoverend in die aanbied van eredienste. Virtuele eredienste, en ander vorme van kerklike bediening, mag dalk aanvanklik vreemd wees, maar een saak is duidelik: Die Evangelie of die Goeie Nuus kan nie agter slot en grendel geplaas word nie.

Laetus O.K. Lategan

Menings verskil of kerke in ’n krisistyd soos hierdie gesluit of ten minste gedeeltelik geopen moet word. Baie argumente gaan op dat kerklike aktiwiteite ’n noodsaaklike diens is. Ander weer is bewus van gemeentes se risikoprofiele of hoe sosiale afstand beoefen kan word.

Hoe ’n mens ook al hieroor wil redeneer, kan die belangrikheid van die erediens nie geïgnoreer word nie. Onge-ag die wyse van aanbieding.

Ek blaai weer deur my boeke oor die erediens. My oog val op ’n gemeenskap-like opmerking – ’n deurlopende tema, sou die studieveld oor kerklike bedie-ning dit noem: die ontmoeting met die Here. Ek delf verder in hierdie opmer-king. Enkele sake val op: Ontmoeting is altyd ’n bewuswording van ’n Teen-woordigheid wat nie onder woorde gebring kan word nie. Psalm 84 is ’n mooi voorbeeld. Die verlange om weer in die Teenwoordigheid van die Here te wees. Die psalmdigter se verwysings-raamwerk is die tempel – daar waar die ontmoeting plaasvind. Sy opmerking is aangrypend: eerder ’n dag by die drumpel van God se huis, as om te woon in huise sonder God.

Terug by virtuele eredienste. Kan ons werklik sê God is nie ook in die kuber-ruim teenwoordig nie? Uit die perspek-tief van die Nuwe Testament bely ons immers dat God alomteenwoordig is. Die vraag vir gemeente en prediker is: Is ons ingestel op die ontmoeting met God ongeag die platform? Dié platform is nie sommer net ’n gesprekskamer nie. Dit word nou die ruimte waarbinne God ontmoet word om gesamentlik ons geloof in Hom te bely.

Soos ek deur boeke oor die erediens blaai, word ek weer herinner aan die genadeverkondiging. Ons ontmoet God kollektief om weer te hoor dat wanneer ons tot Hom nader, Hy ons in genade sal aansien. Ek hoor al hoe minder die woord “sonde” in ons prediking – dit pas nie in ons moderne rasionaliteit in nie.

Vir my bly Jesaja 1:18 se verkon­diging altyd aangrypend: Kom, laat ons die saak uitmaak. Die erediens moet – in watter vorm ook al – ons weer wys op ons onsinnige, hartelose en onetiese optrede (Jesaja 29:13). Ons moet ook Christus hoor sê: “Sondig nie meer nie” (Johannes 11:8). Die erediens moet vermaan – die staat van inperking is goeie preekmateriaal!

My boeke herinner my ook dat nie-mand sonder hoop die erediens kan verlaat nie. Christus se belofte in Matteus 28:20 gryp my aan die hart: Ek is by julle al die dae van die wêreldge-skiedenis.

Die erediens is ook ’n feesgeleent-heid. Gaan sy poorte binne met lof, lui Psalm 100. Die Psalms is vol van liedere wat oor God gesing kan word. Ons kan Psalm 150 gerus onthou.

Amper vergeet ek: My boeke is baie duidelik dat die erediens eintlik oor God en Sy stem gaan. Nie oor my nie.

Uit my studentedae onthou ek ’n waardige professor se opmerking: Dit sal die kerk goed doen as ons meer uit die Bybel lees en minder preek!

Meer oor:  Preek  |  Lees  |  Bybel  |  Rubriek  |  Minder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.