Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Leeu van buite en ’n onseker baba van binne
Die skrywer Dana Snyman.Foto: DENVOR DE WEE

Die Baas maak nie foute nie. Die Baas is altyd reg.

Neem die Baas dalk ’n swak besluit en iets gaan verkeerd, is dit omdat iemand vir die Baas verkeerde inligting gegee het of die Baas se opdragte nie korrek uitgevoer het nie. Dit is nooit die Baas nie se skuld nie, dit is altyd iemand anders se skuld.

Die Baas glo daar is mense wat hom doelbewus ondermyn en tot ’n val wil bring, elke dag, die hele dag. En daarom probeer die Baas knaend uitvind wie is vir hom en wie is teen hom, en het dit nie dalk al weer verander nie. Die Baas hou nooit op om bedreig te voel nie.

Die Baas vertrou niemand nie. Hy is agterdogtig oor almal, ook oor sy eie raadgewers en die ander naaste aan hom. Die Baas glo almal kom vir hom, hulle kom vir hom.

Daarom ontspan die Baas selde. Hy lag nooit hardop nie en drink selde ’n drankie. Wanneer hy wel ’n grappie maak, is dit ten koste van iemand anders. Die Baas wil altyd ten volle in beheer wees, en onbevange die ondermyn van vreugde beheer.

Die groepie funksionarisse rondom die Baas het hulself al so onderdanig aan die Baas gemaak hulle weet presies wat om hom vir hom te sê sodat hy nie oor hul lojaliteit moet twyfel nie. Met die tyd het die Baas se wense hul eie wense geword, sy vrese hul vrese.

Tog dank die Baas gedurig mense af of stoot mense uit sy kring, en kry nuwes in.

Tog dank die Baas gedurig mense af of stoot mense uit sy kring, en kry nuwes in.

Die Baas is nooit tevrede nie. Hy speel mense teen mekaar af. Hy glo instinktief hoe meer die mense rondom hom mekaar wantrou, hoe meer lojaal sal hulle aan hom wees. Die Baas verdeel en heers.

Die Baas haat kritiek, tog is hy gedurig besig om ander te kritiseer, en vir mense van wie hy nie hou nie, verkleinerende byname te gee.

Die Baas gee net komplimente vir die mense wat hy weet bereid is om vir hom ook komplimente te gee. Hy was al meer as een keer getroud, en elke keer is die nuwe vrou jonk en baie onderdanig aan hom. Die Baas glo jy moet jou plek ken, en hý sal besluit waar jou plek is.

Die Baas is ’n weerbarstige leeu van buite en ’n onseker baba van binne. Hy moet altyd sy sin kry en voel hy is die mooiste en beste, anders raak hy knieserig.

Die Baas wil nie vriende hê nie, die Baas soek ondersteuners. Hy sal enigiets doen om nog ondersteuners te kry wat sy manier van doen nie kritiseer nie.

Die waarheid is vir die Baas net waar as dit vir hom waar is. Die res is leuens versin deur dié wat hom wil sien ondergaan.

Die Baas sê vir sy ondersteuners presies wat hy weet hulle wil hoor, en gee vir hulle wat hulle wil hê, sodat hulle vir hom kan gee wat hy wil hê: Totale beheer.

Hoe meer beheer die Baas oor jou het, hoe meer begin jy soos die Baas praat en doen en optree, want die Baas maak nie foute nie. Die Baas is altyd reg.

Meer oor:  Baas  |  Dana Snyman  |  Leeu  |  Gemoedstoestand  |  Baba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.