Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Swartbord
Leierskap bly die sleutel tot sukses in skole

Ek was die kringbestuurder van Stellenbosch toe ’n nuwe skool vir die Kayamandi-hoërskool gebou is. Nadat mnr. Ntshanga en sy leerlinge uitgetrek het, is honderde leerlinge tydelik in die ou skoolgebou gehuisves. En so is die Makupula-hoërskool gebore. Charles Ndlebe, toe adjunkhoof van Kayamandi, is as hoof aangestel.

Vandag is dit ’n skool van uitnemendheid. Ondanks die pandemie het Makupula – net soos in 2019 – ’n matriekslaagsyfer van 94% behaal. Toegewyde onderwysers, gemotiveerde leerlinge, ondersteunende ouers en ’n dinamiese hoof en het gewys dis nie die geboue nie, maar wat binne die skool gebeur wat tel. Dié dinamiese skoolhoof het nou afgetree.

Maar nie alle skoolhoofde wat aftree, het soos Ndlebe aftree-ouderdom bereik nie. Weens die pandemie is menige skool, veral dié in arm gemeenskappe, gekonfronteer met uitdagings wat ontsaglike druk op hoofde geplaas het, soos finansiële krisisse en verhoogde administratiewe verpligtinge. ’n Stellenbosse skool kon verlede maand nie sy personeel in beheerliggaamposte betaal nie. Die nieregeringsorganisasie waarby ek betrokke is, kon gelukkig help. Die alternatief, om die onderwysers te laat gaan, sou tot groot ontwrigting lei. Dit was egter net ’n eenmalige reëling.

Partners for Possibility (PfP) bied antwoorde op dié uitdagings. Dié nasionale, multidissiplinêre inisiatief, gegrond op die Nasionale Ontwikkelingsplan, ondersteun meer as 2 000 skoolhoofde en is al deur pres. Cyril Ramaphosa vereer. Saam met onderwysowerhede tree PfP op as fasiliteerders tussen skole en die private sektor. Vennootskappe word met sake­leiers gesluit wat leiding verskaf aan hoofde oor beplanning en finansiële bestuur. Hoofde is nie opgelei in finansies nie, maar moet besluite neem oor miljoene rande.

Daar is talle suksesverhale, soos die Pieter Langeveld Primêre Skool in Stellenbosch. Ná sy aanstelling as skoolhoof het Shafiek Jacobs met PfP en ’n sakeleier se hulp goeie tweedehandse naaimasjiene bekom. Pleks van bakhand staan, raak ouers betrokke by hul kinders se opvoeding deur self maskers te maak.

Covid-19 plaas opnuut die fokus op die kritieke rol van leierskap in onseker tye.

Nóg drie Stellenbosse skoolhoofde het die e’Bosch-toekenning ontvang: Carin Venter (Kylemore Sekondêr), Anthea Williams (Dorothea Spesiale Skool) en Ronald Frans van Klapmuts Primêr. Danksy die vaardighede wat hulle deur die PfP-program verwerf het en die ondersteuningsnetwerke waarop hulle kon steun, kon dié skoolhoofde die uitdagings suksesvol aanpak. Frans, wat ook met die Nelson Mandela- lewenslange toekenning vir uitnemende leierskap bekroon is, het onlangs afgetree.

Covid-19 plaas opnuut die fokus op die kritieke rol van leierskap in onseker tye. Dit vereis visioenêre skoolhoofde met dryfkrag. ’n Nuwe generasie skoolhoofde is op die voorgrond gestoot en by die diepkant ingegooi. Hulle benodig dringend ondersteuning en leiding. Daarom maak dit net sin dat organisasies soos PfP, die private sektor en die universiteit hande vat met die onderwysdepartement in ons soeke na volhoubare oplossings.

Saam kan ons die pandemie oorwin. Want leierskap is ’n spanpoging.

  • Prof. Le Cordeur is hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement kurrikulumstudie.
Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.