Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Leierskap (en billike kritiek) binne konteks

Pres. Cyril Ramaphosa het die afgelope week onder erge kritiek deurgeloop.

Johanna van Eeden

Eers omdat hy niks gesê het nie en toe omdat hy baie gepraat het, maar steeds niks gesê het nie. Dis nou as ’n mens kyk na die algemene reaksie ná Woensdagaand se toespraak.

Al wat leef en beef was vasgenael voor die kassie om te hoor wanneer die ekonomie weer heropen gaan word en veral wanneer drank en sigarette weer beskikbaar gaan wees.

Ramaphosa gee nie gewoonlik detail in sy Covid-19-toesprake nie. Hy doen aankondigings in breë trekke en sê dan meer inligting volg binnekort.

Dis waar die knoop lê.

As die president kon staatmaak op ’n kabinet en senior amptenare wat bereid en bevoeg is om op die hoogste vlak te funksioneer, sou die regering onder baie minder kritiek deurgeloop het oor die hantering van hierdie pandemie.

Ramaphosa berei Suid-Afrikaners gewoonlik voor op “wat” gaan gebeur en verduidelik “hoekom” dit moet gebeur. Wanneer sy ministers die “hoe dit gaan werk” moet uitstippel, val die pap op die grond.

Hoekom verbaas dit mense? Wat is die een deuntjie wat graag oor Suid-Afrika gesing word? Dat ons briljante wetgewing en planne, raamwerke en gespreksdokumente het . . . maar wanneer dit by uitvoering of inwerkingstelling kom, sit die tjor vas in tweede rat. Ramaphosa ervaar nou eerstehands daardie aaklige gerev van ’n enjin wanneer ’n motor móét oorslaan na derde rat, maar niks gebeur nie.

Dis omdat jy nie die koppelaar intrap en die rathefboom verskuif nie (’n gebrek aan politieke wil). Of bloot omdat jy sit met ’n enjin met net twee ratte (onbevoegdheid of onvermoë om te funksioneer omdat probleme bokant jou vuurmaakplek is).

Die president het vandeesweek gesê: “Die regering werk harder en doeltreffender as ooit tevore.” As hy voorheen só gewerk het, dan was daardie ratkas teen dié tyd al mooi geolie.

’n Mens moet erkenning gee aan diegene in Ramaphosa se span wat wel uitstekend presteer, soos dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid.

Want dis maklik om kritiek uit te deel, maar ’n mens doen dit gewoonlik uit jou eie perspektief (en ongerief).

Dit en ’n hoogs aansteeklike virus wat reeds 300 000 sterftes wêreldwyd veroorsaak het.

Ons vergeet dat Ramaphosa se toesprake aan álle Suid-Afrikaners gerig word. Dit voel dalk of hy net met jou praat terwyl jy in jou warm huis sit en wag om te hoor of jy môre haarkapper toe kan gaan. In sinkhutte sit agt mense om ’n radio en wag om te hoor waar hul volgende bord kos vandaan gaan kom.

Dis makliker om leiding te gee as jy voor ’n homogene groep staan. Dit vereis kontekstuele leierskap om ’n gediversifiseerde gemeenskap soos Suid-Afrika te lei. Ramaphosa het vandeesweek erken daar is foute gemaak. (Dit sou gaaf gewees het as hy homself sover kon kry om “jammer” te sê.) Hy wys ook daarop dat ons weens die pandemie iets beleef wat niemand nog voor ons beleef het nie. Hy is reg. En die ergste lê nog voor.

Die ekonoom Iraj Abedian het die afgelope week op Twitter gesê­ regerings wêreldwyd kom agter dis makliker om ’n ekonomie te sluit as om dit te heropen. Dis een van Ramaphosa en sy span se grootste probleme.

Dit en ’n hoogs aansteeklike virus wat reeds 300 000 sterftes wêreldwyd veroorsaak het.

Die “afplatting van die kurwe” is nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. Ons gaan daardie golf nog leer ry in die maande (jare?) wat voorlê. En wie weet, dalk leer ons langs die pad om ook binne konteks te kritiseer.

  • Van Eeden is adjunkredakteur van Beeld.
Meer oor:  Johanna Van Eeden
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.