Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Leierskap in SA skiet nog tekort
Henry Jeffreys

In die week waarin ons Mandeladag herdenk het, is ons ongelukkig daaraan herinner dat ons eintlik groot leemtes aan die leierskapsfront ervaar, en nie net wat die politiek betref nie.

Dié leemtes kom voor in byna alle sektore van die samelewing. Ons fokus gewoonlik op politieke leierskap omdat politici se optrede so ’n regstreekse uitwerking op ons lewe het.

Verlede week is ons ook daaraan herinner dat ons Nelson Mandela nie genoeg waardeer nie. Ons praat graag oor die rol wat hy in ons geskiedenis gespeel het, maar ons doen hom dit nie graag na nie.

Ons het Mandela ook verhef tot ’n bomenslike figuur, net om hom weer af te breek tot iemand wat ons kwansuis uitverkoop het aan die belange van die wit minderheid of die gegoede dele van die samelewing.

En nou doen ons iets soortgelyk met pres. Cyril Ramaphosa (hoewel hy waarskynlik die eerste sal wees om toe te gee dat hy g’n Mandela is nie).

Oudpres. Thabo Mbeki het glo gesê hy het nooit daarna gestreef om in Mandela se skoene te staan nie, omdat hulle (die skoene) glo te lelik was.

Oudpres. Thabo Mbeki het glo gesê hy het nooit daarna gestreef om in Mandela se skoene te staan nie, omdat hulle (die skoene) glo te lelik was. Ramaphosa beskik egter oor baie van Mandela se leierseienskappe, soos integriteit, eerlikheid, die vermoë om goed te kan kommunikeer, verantwoordbaarheid, visie en empatie.

Tog word hy deesdae geweeg en te lig bevind, veral deur kamerade wat reken die staat is daar om geplunder te word vir eie gewin. Dit behoort niemand te verras nie dat Ramaphosa se teenstanders in die ANC ook ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma was of steeds is. ’n Geval van soort soek soort?

Kritici van Ramaphosa is nie duidelik oor wie hulle hoop om hom mee te vervang nie. Daar is twee moontlike opvolgers wat sterk figureer: die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, en die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma. Albei is egter ondersteuners van Zuma en sal sukkel om gepaste en voorbeeldige opvolgers vir Ramaphosa te wees.

Magashule se tyd as Vrystaatse premier word onthou as een van wydverspreide en openlike korrupsie in die provinsie. Hy word verdink van betrokkenheid by staatskaping, en was ’n bondgenoot van die Guptas.

Hy ontken enige betrokkenheid by korrupsie en het selfs gedreig om die uitgewers en skrywer van ’n boek wat hom as korrup onthul het, te dagvaar. Dit het net by dreigemente gebly.

Toe Dlamini-Zuma in 2017 om die pos van ANC-leier teen Ramaphosa meegeding het, was daar sterk vermoedens dat sy bloot ’n soort Zuma 2.0 in die Uniegebou sou wees.

Toe Dlamini-Zuma in 2017 om die pos van ANC-leier teen Ramaphosa meegeding het, was daar sterk vermoedens dat sy bloot ’n soort Zuma 2.0 in die Uniegebou sou wees.

In 1995, toe sy minister van gesondheid was, het Dlamini-Zuma wederregtelik ’n kontrak van byna R15 miljoen aan die akteur en regisseur Mbongeni Ngema toegeken vir die maak van die rolprent Sarafina! 2.

Die rolprent het nooit die lig gesien nie en dit word beskou as een van die vroegste voorbeelde van grootskeepse korrupsie in die nuwe Suid-Afrika.

Die land het ’n duidelike behoefte aan etiese leiers in die politiek sowel as in ander sektore. Instellings soos sakeskole kan ’n groot bydrae lewer om ’n verskil te maak aan die gehalte van leiers wat die land, en nie net hulself nie, kan dien. Daar kan ook baie meer in ons skole gedoen word om die beste leierskapseienskappe so vroeg moontlik by jong, belowende leiers in te skerp.

Intussen is Ramaphosa dit aan die land verskuldig om minstens sy termyn deur te sien en moontlike opvolgers te identifiseer en aan te moedig. Die land kan nie bekostig om in die hande van leiers met verdagte instinkte te val nie.

Die prys wat ons vir Zuma betaal het, is eenvoudig te duur.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Thabo Mbeki  |  Mandela  |  Politiek  |  Regering  |  Leierskap  |  Presidentskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.