Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Van Alle Kante
Lekker eetgoed verdryf dikwels die wanhoop
Johan van Wyk

Vir die doemprofete wat ons voortdurend vertel Suid-Afrika val stadig maar seker uitmekaar, sal dit sekerlik kinderlik naïef klink, maar gee my ’n pannekoek, ’n sosatie en sewe soorte jellies met vla op ’n kerkbasaar en ek sien ’n lig in die tonnel wat nie dié van ’n aankomende trein is nie.

Lekker eetgoed verdryf mos wanhoop. Vat nou maar ’n begrafnis. Nie nou se “viering” van die oorledene se lewe met ’n video en staaltjies nie, maar ’n rêrige begrafnis met ’n kis in ’n lykwa, die soet reuk van begrafnisblomme, die dodemars en wenende naasbestaandes in swart om ’n oop graf. Dis mos hoe dit was – smart en droefnis in beweging.

Maar wanneer die kis op die wysie van “Bly by my, Heer” gesak het (boonop met jakkalstroudruppels op die blink deksel as bevestiging van ’n geseënde lewe), is die trane afgedroog en die treurende rouklaers met ’n hoopvolle blymoedigheid by heerlike eetgoed besiel.

Klein frikkadelletjies, souttertjies, reënboogbroodjies, hoendervlerkies, gerookte worsies, rolletjies ham, groen en rooi uitjies en ’n stukkie kaas geryg op ’n tandestokkie. En soetgoed: koeksisters, ystervarkies, melktert­jies en skuinskoek. Nie op ’n bordjie nie, want dan sien die mense hoe kwaai jy laai. Soos met vry, wei jy in die bondel. Jy sit ook nie, jy pik so staan-staan. Dis ’n tegniek wat ek oor die jare vervolmaak het.

Hoe vertel jy dit vir ’n graadeentjie met ’n R100-noot in sy handjie en ’n bekkie wat water vir ’n pannekoek in druppende suikerstroop? Jy swyg.

Ten spyte van my hoop dat die stukke weldra opgetel en Suid-Afrika weer soos ’n legkaart aanmekaargesit sal word, sukkel ek wel om tussen kindertjies nie weemoedig te word by die gedagte dat dit waarskynlik nie in my leeftyd sal gebeur nie – die wanbestuur en verval het te ver gegaan. Maar dan hopelik in dié van my kinders en kleinkinders.

By ’n verkoping verlede week ten bate van die Strooidakkerk by die Laerskool Courtrai in die Paarl het ek juis stilletjies ’n traan afgevee toe 650 kleintjies met groot onskuldige oë, boksterte, borselkoppe en dun beentjies die tafels gelaai met soetgoed stormgeloop het. Onder meer 275 pannekoeke.

Nie net vanweë die onsekere toekoms wat op hulle wag as die afgryslike wanbestuur nie tot ’n einde kom en Suid-Afrika tot sy sinne geruk word nie, maar ook omdat ’n oormaat soetgoed van kleins af ’n kortpad na ’n lewe van diabetes, vetsug en selfs ’n vroeë dood is.

Hoe vertel jy dit vir ’n graadeentjie met ’n R100-noot in sy handjie en ’n bekkie wat water vir ’n pannekoek in druppende suikerstroop? Jy swyg.

Maar as ’n seuntjie met hartseerogies met net R4 in sy handjie pleitend in jou oë kyk vir ’n pannekoek van R5, huil jy innerlik en gee hom twee vir die prys van een.

Hopelik sal die Strooidakkerk my die ligte mistykie vergewe. Dankie, dominee, ek sal die naweek op sy groot kerkbasaar met 26 000 sosaties uit Williston, en seker net soveel pannekoeke, daarvoor opmaak.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Van Alle Kante  |  My Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.