Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Leon Wessels: Grondwet is ryp vir hersiening

Diegene wat dink die groot vrae is in die 1980’s en 1990’s gevra en beantwoord, moet weer dink. Die stemme vir die wysiging van die Grondwet moet ernstig opgeneem word, skryf Leon Wessels.

Leon Wessels

Het Suid-Afrika ’n grondwetlike of ’n politieke krisis? Te midde van die politieke storms wat tans woed, is dit ook belangrik om ’n debat oor grondwetlike hersiening te voer. Daar is tans net te veel Grondwet-afvalliges. Geen grondwet kan in watte toegedraai word nie; dit moet voortdurend blootgestel word aan die rukke en plukke van openbare gesprek.

Die stemme vir wysigings aan die Grondwet moet ernstig opgeneem word. Is die Grondwet die struikelblok of is swak beleid en uitvoering van grondwetlike ideale die vlieg in die apteker se salf? Die Grondwet moet in sy geheel teen die agtergrond van twee dekades se ervaring getoets word.

Thomas Jefferson, Amerikaanse staatsman, het aangevoer dat een generasie nie ’n ander mag bind nie; daar moet ruimte wees om die Grondwet elke 19 jaar te hersien.

“If it be enforced longer, it is an act of force, and not of right.”

Die Suid-Afrikaanse Grondwet is nou 20 jaar oud en ryp vir hersiening. Die Grondwet maak in art. 45 (1)(c) voorsiening vir so ’n stap.

Wanneer Grondwet-afvalliges die Grondwet suksesvol gebruik en in die konstitusionele hof slaag met eise help hulle om die Grondwet ’n lewende dokument te maak. Die reg is wat die regters sê dit is. Die konstitusionele hof het sedert 1994 631 uitsprake, ná skerpsinnige en beleefde gedagtewisseling tussen regters en advokate, gelewer. Die boekrakke in regsbiblioteke kreun van al die dik boeke. In die konstitusionele hof se biblioteek staan daar 86 000 boeke.

Hierdie saak is nie net vir die regsgeleerdes nie. Die roete wat die Grondwetskrywers geskep het – gereelde besinning deur ’n parlementêre komitee – word nie doeltreffend deur Grondwet-afvalliges benut nie. Die parlement self veroorsaak dat dit ’n aspoestertjiekomitee is. Jaarliks word uitnodigings aan die publiek gerig om voorstelle vir wysigings na die komitee te bring. Die komitee behoort self ook meer te doen om brandende strydpunte aan die orde te stel.

Die populiste meen die gebreke in die Grondwet is onherstelbaar.

Daar sal nie ’n tweede Kodesa of Grondwetskrywende vergadering wees nie. Dit sal slegs gebeur indien die parlement totale legitimiteit verloor en die staat geheel en al in duie stort.

Die braaivleisvuurwyshede is belangrik, maar dit moet neerslag vind in betekenisvolle voorleggings aan die parlement. Maak nie saak hoe chaoties die parlement soms funksioneer nie – die vereiste parlementêre meerderhede moet dáár gedemonstreer word en nie met grootpratery op die straathoeke nie wanneer die Grondwet gewysig word.

Om met grondwetlike wysigings te slaag, sal slim alliansies aangegaan moet word. Wanneer die grondwetwysigingsorkes die “kom ons kort die presidensiële magte in”-melodie aanhef, is dit interessant om te sien hoe mense wat ideologies teenoor mekaar staan ’n paringswals doen. Wanneer die orkes luidrugtig met die “geen vergoeding vir grondonteiening” begin, is die dansmaats skaam vir mekaar.

Tyd vir ’n verrassing

Dit is die aard van demokrasie: teenstanders ding mee vir die aandag van die kiesers – hulle werk saam of opponeer wanneer daar politieke wins te maak is. In teenstelling hiermee harmonieer ’n grondwet botsende belange.

Diegene wat dink die groot vrae is in die 1980’s en 1990’s gevra en beantwoord, moet weer dink. Andersdenkendes wat glo dat daar nie in hierdie tydperk gedink is nie en dat Nelson Mandela en FW de Klerk twee uitverkopers was, moet begin om hul voorleggings vir die parlement voor te berei.

Die populiste meen die gebreke in die Grondwet is onherstelbaar. Hierdie tekortkominge spruit volgens hulle uit die ongelyke magsverhouding, eeue gelede, tussen destydse kolonialiste en die inheemse bevolkings. Enigeen wat dink (hoop) die debat sal oorwaai, is in vir ’n verrassing.

Die idee van grondwetlikheid en regsoewereiniteit sal die felste aanslag van die populiste oorkom. Indien die armoedevraagstuk in Suid-Afrika egter nie bygelê word nie, sal dit altyd grondwetlike gesprekke vertroebel.

Dit plaas onnodige druk op die pilare van die Grondwet.

* Dr. Leon Wessels is die direkteur van die Sentrum vir Menseregte aan die Universiteit van die Vrystaat en ereprofessor aan die departement publieke reg aan die Noordwes-Universiteit.

Meer oor:  Leon Wessels  |  Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.