Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Leopold Scholtz: Apartheid had nie Nazi-wortels

‘As daar nou ’n kru slagspreuk is wat rassisme die beste uitbeeld, is dit dié van die NP ten tyde van die verkiesing van 1948: ‘Die kaffers en boesmans op hulle plek, die koelies uit die land.’

“Die bedoeling agter hierdie slagspreuk was om ná die NP se verkiesingsege wetgewing uit Adolf Hitler se Duitsland in te voer. Die Ontug- en die Groepsgebiedewet het dalk in Duitsland ander name gehad, maar het dieselfde gewettigde rassisme as dié van die Derde Ryk vergestalt.”

Ek het eergisteroggend byna in my pap gestik toe ek dié kategories bewysbare historiese leuen van die ANC-veteraan Ahmed Kathrada lees.

Ek het op sigself begrip vir Kathrada se pleidooi teen rassisme, wat inderdaad ’n verwerplike houding teenoor medemense is. Maar jy hoef nie leuens, wat al male sonder tal deur swaargewig-historici as vals bewys is, opnuut te herhaal en te publiseer nie.

Sonder om apartheid enigsins moreel te verdedig: Dit het ’n heel ander, eiesoortige historiese voedingsbodem as Hitler se Nazisme gehad. Dis waar dat Afrikaners in die 1930’s en ’40’s soms met bewondering na Nazi-Duitsland gekyk het, maar dit het meer met hul gevoel teen die Engelse imperialisme (dink aan die Anglo-Boereoorlog) as met simpatie met die nasionaal-sosialisme te make gehad.

Selfs die ideologie van die Ossewa-Brandwag, wat homself as nasionaal-sosialisties beskryf het, het ’n eiesoortige inhoud gehad wat nie identies met Hitler se denke was nie. Dr. Hans van Rensburg, OB-leier, het dit eerder as ’n “volkseie sosialisme” beskryf.

Apartheid het veral drie voedings­bodems gehad. Een van hulle was die invloed van die Duitse romantiese nasionalisme van die 19de en vroeë 20ste eeu, waarvan die Nazisme ’n ekstreme voorbeeld was – die “ontdekking” dat ’n volk ’n organiese geheel met ’n eie “lotsbestemming” vorm.

Dié “ontdekking” is aanvanklik op die Afrikaners van toepassing gemaak, waarna dit na die swart volke uitgebrei is. Dít is waar by ’n groep Afrikanerintellektuele die idee ontstaan het om Suid-Afrika te verdeel en die swart volke elkeen ’n grondgebied te gee waar hulle onafhanklik kon word.

Die tweede bron was meer prakties: die Britse koloniale stelsel. Dit het in talle Britse kolonies daarop neergekom dat die inboorlinge in reservate saamgepers word, dat hul bewegingsvryheid beperk word, dat hulle slegs as tydelike handarbeiders buite die reservate geduld word.

Die Afrikaners het gevrees dat hulle as volk ondergeploeg sou word as hulle nie die swart mense onder hou nie.

Die nuwe ontdekkings oor volke is dus geënt op die bestaande koloniale stelsel. En siedaar: apartheid.

Uiteindelik was daar ook ’n derde bron, naamlik oorlewingsangs. Die Afrikaners het gevrees dat hulle as volk ondergeploeg sou word as hulle nie die swart mense onder hou nie.

Daarom het die nuwe ideologie in ­teorie uitkoms gebied. Vir die eerste keer kon vryheid en menseregte met mekaar versoen word.

Twee struikelblokke het dit verhinder. Eerstens het die politici die altruïsme van die intellektuele gekaap en dit omskep in iets wat in die praktyk ’n voortsetting van wit baasskap was. Veral dr. Hendrik Verwoerd het elke voorwaarde vir die sukses van die tuislandbeleid gekelder. Maar selfs al sou hy dit nie gedoen het nie, met die voordeel van agternakennis weet ons vandag dat die ekonomie en die demografie reeds teen 1948 te gemeng was dat apartheid kon slaag.

Ek verstaan dat Kathrada uit ’n ander hoek as my akademiese ontleding na sake kyk. Hy het immers sy lewe gewy aan die bestryding van wat hy aan eie lyf as ’n immorele stelsel ervaar het. Maar asseblief, vermy dan die herhaling van historiese leuens!

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Sake Van Die Dag  |  Apartheid  |  Nazi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.