Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Leopold Scholtz: As Afrikaners en Biko kon gesels

Toe Soweto op 16 Junie 1976 – vandag 40 jaar gelede – ontplof, het twee ideologieë, wat onder die oppervlak nogal ooreenkomstegetoon het, trompop gebots. Dit was die Swartbewussynsfilosofie en die Afrikanernasionalisme.

Die belangrikste Swartbewussyns­ideoloog in Suid-Afrika was Steve Biko, wat in 1977 deur die veiligheidspolisie vermoor is. Biko se denke is later deur die ANC/SAKP se Marxistiese nierassigheid oorspoel, maar is in die vorm van die EFF aan die terugkom.

Biko was ’n fel swart nasionalis wat bowenal respek en waardigheid vir sy mense geëis het. Beïnvloed deur die Karibiese aktivis Frantz Fanon het hy swart mense opgeroep om hul minderwaardigheidsgevoel te laat vaar en trots op hul identiteit te wees.

Teen dié agtergrond het hy selfs ontken dat wit liberaliste ’n rol in swart mense se politieke, ekonomiese en sielkundige bevryding kan speel. Dié wit mense, het hy geskryf, aanvaar outomaties hulle weet wat goed vir swart mense is, probeer die leiding van die bevrydingsproses arrogant oorneem en is self basies dus ook nie vry van rassisme nie.

Biko was, sover vasgestel kon word, die eerste swart Suid-Afrikaner wat beweer het dat rassisme ’n uiting van mag teenoor dié sonder mag is. Buitensporige reaksies van swart mense kan dus ’n uiting van woede wees, maar swartes kan nie rassiste wees nie omdat hulle geen mag het nie.

Hy het ook gemeen wit mense het swart mense se grond gesteel en die ekonomie só georganiseer dat swart mense tot permanente armoede gedoem is. Dit moet dus ná die bevryding vervang word deur ’n sosialistiese benadering waarin die meeste produksiemiddele aan die staat behoort.

Ná die bevryding sal geen rasse erken word nie en sal almal in wérklike nierassigheid saamleef.

Biko se idees leef in teorie voort in die huidige EFF. Die verskil is dat Biko – al kan ’n mens ook op talle gebiede ernstig met hom verskil – ’n eerlike benadering gehad het. Die moderne EFF word gelei deur ’n magsdronk populis, Julius Malema, wat Biko se denke hoofsaaklik misbruik om ’n Robert Mugabe suid van die Limpopo te word.

Ná die bevryding sal geen rasse erken word nie en sal almal in wérklike nierassigheid saamleef.

’n Mens moet ewenwel versigtig wees om Biko af te skryf. Ons Afrikaners het, sy dit in ligter mate, ook lank onder die hovaardigheid van ons Engelssprekende landgenote deurgeloop.

Die ontwikkeling van die Afrikanernasionalisme het veral op twee terreine uiting gevind. Dit was die doelbewuste uitbou van Afrikaans as volwaardige kultuur-, handels-, owerheids- en akademiese taal, en die bevordering van die Afrikaners se aandeel in die ekonomie. Dis anders as by Biko en sy destydse aanhangers. Hulle het nooit blyke gegee van ’n ernstige strewe om swart tale te ontwikkel nie. En waar die Afrikanernasionaliste net bolangs met die sosialisme geflankeer het, was Biko ’n oortuigde sosialis.

Dit het egter by albei dieselfde bodem gehad. Vir Biko sowel as vir genl. J.B.M. Hertzog het dit ten diepste oor selfrespek en ’n einde aan die eie minderwaardigheidsgevoel gegaan – by Biko teenoor wit mense, by Hertzog teenoor die Engelssprekendes.

Kyk na dié aanhaling van Hertzog oor waarom hy gelyke regte vir Afrikaans eis: “Iemand wat tekort kom in respek vir die taal waarin ek opgegroei het, kom ook tekort in respek vir myself, en solank daar geen respek is nie, kan daar ook geen vriendskaplike samewerking wees nie . . .” (1906).

Dis ’n tragedie dat welwillende Afrikanernasionaliste – van wie daar baie was – in die sewentigs nie die geleentheid gehad het om ’n eerlike gesprek met Biko te voer nie. Dalk sou dit op niks uitgeloop het nie, maar wie weet . . .

Meer oor:  Soweto
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.