Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Leopold Scholtz: Dink maar mooi voor jy praat
Leopold Scholtz

In Suid-Afrika is daar twee elemente wat met mekaar bots: Rassisme en vryheid van spraak. Dít na aanleiding van twee storms wat in die jongste tyd oor neerhalende aanlynkommentaar (deur die Standard Bank-ekonoom Chris Hart en die Durbanse eiendomsagent Penny Sparrow) oor swart mense losgebars het.

Die Suid-Afrikaanse reg beskerm die vryheid van spraak as ’n fundamentele reg. Tereg; in beginsel moet die grens op daardie vryheid so wyd moontlik getrek word.

Dis een van die toetsstene vir ’n volwasse demokrasie: In welke mate word die reg beskerm van mense om dinge te sê wat jou teen die bors stuit of wat jou selfs walg? In diktature matig die regerings hulself die reg aan om die grens baie willekeurig en nou te trek en om mense vir byna enigiets wat die owerheid nie aanstaan nie, in die tronk te smyt of selfs dood te maak.

In die meeste demokrasieë word die reg op spraakvryheid egter begrens.

In lande soos Duitsland mag jy nie Nazi-propaganda maak nie en die Nederlandse reg bevat ’n verbod op “haat saai” – ’n vae bepaling wat egter nie goed verwoord is nie.

Die Suid-Afrikaanse reg bevat twee statute wat “haatspraak” goed definieer. Dit is art. 16(2) van die Grondwet en art. 10(1) van die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onregverdige Diskriminasie (Wet nr. 4 van 2000).

Saamgelees, en effens kortpad gevat, kom dit daarop neer dat die element van geweld en inherente rasse-meerderwaardigheid die grens vorm. Die reg laat jou byvoorbeeld toe om te sê daar is baie diewe onder die swart mense, maar nie dat hulle álmal so is of dat hulle gevolglik aangerand of vermoor mag word nie. Dus is Julius Malema in 2010 aan haatspraak skuldig bevind weens die sing van ’n lied met die woorde “skiet die Boer, skiet die Boere, hulle is verkragters”.

Ek wil my nie uitlaat oor die vraag of Hart en Sparrow hulle tegnies aan haatspraak skuldig gemaak het nie – selfs ’n regter sal lank daaroor moet nadink voordat hy ’n oordeel vel.

In die Suid-Afrikaanse politieke en maatskaplike konteks is daar egter nog ’n beperking op die vryheid van spraak. Dit is in geen wet of hofuitspraak vervat nie, maar behoort tussen elke weldenkende en goed opgevoede mens se ore te sit.

Dit is dat jy mense in ’n dialoog nie beledig nie. As jy ’n openbare gesprek voer, behoort die doel te wees om groter duidelikheid oor die onderwerp te kry, groter wedersydse begrip te kweek en in die gesprek te vorder.

Om bloot beledigings te slinger is nie alleen nutteloos nie, dit getuig van ’n gebrekkige opvoeding.

Nóg belangriker: Dit laat standpunte verhard. Jy kan jou standpunt – en jou verskille met ander – reguit, onomwonde en selfs skerp stel sonder om persoonlik te raak.

Die aard van sosiale media is helaas sodanig dat elke Jan Rap en sy maat nou woorde die wêreld kan inslinger wat vroeër tot die vleisbraaivuur of die kroeg beperk gebly het.

Ons moet leer om ’n wag voor ons mond te plaas en ons in ander se vel te verplaas. As Afrikaner is ek vroeër intens deur Engelssprekendes beledig wat na my en my mense as “hairybacks” en “rockspiders” verwys het. Dus moet ons daarteen waak om soortgelyke beledigings teenoor swart mense en bruin mense te uiter.

Dit beteken nie dat jy beskroomd moet wees om die waarheid, soos jy dit sien, te verkondig nie. Maar daar is ’n grens, bepaal deur gewone en normale wellewendheid, wat ’n mens liefs nie moet oorskry nie.

  • Die skrywer is ’n onafhanklike kommentator.

Meer oor:  Leopold Scholtz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.