Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Leopold Scholtz: Koerante dien die samelewing
Leopold Scholtz

Naas die kwessie van Afrikaans op universiteitsvlak – veels te min akademici is bereid om ’n vinger vir die oorlewing van ons taal se hoër funksies te lig – is daar nog ’n belangrike kantelpunt wat op die horison aankom. Dit is die toekoms van ons Afrikaanse koerante.

Koerante wêreldwyd, nie slegs dié wat in Afrikaans publiseer nie, het met gemeenskaplike probleme te make.

Dit is net ’n kwessie van tyd voordat die papierkoerant se tyd verby is. Dis die onafwendbare werklikheid: Die toekoms lê nie in papier nie, dit is digitaal.

’n Tweede werklikheid wat hiermee gepaardgaan, is dat mense oor die hele ontwikkelde wêreld steeds minder lees. Ás hulle lees, soek hulle kort, oppervlakkige stukkies wat hul breinselle nie te veel uitdaag nie. Hulle soek nie diepgaande ontledings wat hulle dwing om na te dink nie.

Daar is ’n derde werklikheid wat oor alle grense heen strek. Dit is dat die gesonde spanning en ewewig wat tradisioneel in die nuusbedryf tussen die joernaliste en die bestuurders geheers het, ten gunste van laasgenoemdes gewysig is. Dit is mense wat te min oog het vir die deurslaggewende rol wat joernaliste in die samelewing speel – om te sorg dat die regering, politici, die private sektor, akademici (noem maar op) hul plig doen, om verantwoordbaarheid en deursigtigheid af te dwing.

Natuurlik maak joernaliste ook foute, soms ernstiges, maar dit is in die geheel genome húlle wat die “eternal vigilance” verskaf wat die Ierse filosoof John Philpot Curran as vereiste vir vryheid beskryf het.

Saam het dié drie werklikhede die nuusbedryf in ’n krisis gedompel.

Die bedryf eksperimenteer interna­sionaal woes, maar kon nog nie werklik ’n bevredigende nuwe bedryfsekonomiese model, geskik vir die digitale era, vind nie. Daarby vereis bestuurders – “boontjietellers”, soos die joernaliste hulle noem – maksimum wins.

Ek het in my latere loopbaan meer as een keer kwaai gebots met ’n boontjieteller wat my wou wysmaak koerante se bestaansrede is wins, wins en nog meer wins. My teenredenasie was altyd: Koerante bestaan nie om wins te maak nie, hulle moet wins maak om te kan bestaan – iets heel anders.

As hulle nie wins maak nie, gaan hulle bankrot. Maar hul bestaansrede is om ’n diens aan die samelewing te lewer, om mense met kennis van die wêreld rondom hulle te bemagtig.

Of hulle dit altyd behoorlik doen – daaroor kan ’n mens gerus debatteer, maar nie oor die rol wat hulle (behoort te) speel nie.

Teen die agtergrond van die drie faktore wat hierbo genoem is, kom ek agter dat (en laat ek dit baie versigtig en presies stel) die Afrikaanse koerante se oorlewing nie vanselfsprekend is nie.

Sommige bestuurders sien koerante as melkkoeie vir kontant. En omdat koerante ’n volwasse mark is, een wat nie vorentoe groot groei en yslike winste gaan vertoon nie, so lees ’n mens tussen die reëls, wen die idee veld om die koerante maar ’n natuurlike dood te laat sterf. Dit is soos om die suurstof na die pa­siënt af te sny omdat dit te veel kos.

Ter wille van die onontbeerlike rol wat koerante speel om die demokrasie te verdedig en Afrikaans te laat oorleef, word dit nodig dat mense ’n kopskuif ondergaan. Dat daar ’n bereidheid moet wees om kruissubsidiëring toe te laat – om ’n deel van die winste wat elders gemaak word, na die koerante te kanaliseer om hulle deur die huidige krisis te trek.

  • Anders gaan almal op lang termyn verloor, ook die bestuurders. Leopold Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.

Meer oor:  Leopold Scholtz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.