Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Les vir Shaun oor belang van suidelike dele
Blouwillem

Wanneer sy by ons kuier, sit ek en my liewe twee jaar oue Oulyfie, Ouliefie, Olivia soggens as almal nog slaap na Shaun the Sheep op televisie en kyk en doop sulke lang wit anysbeskuite in die koffie terwyl Shaun en sy trop droogmaker-skape die arme boer en sy hond se lewe hel maak.

Moet dit nie misloop nie, vriende, dis al hoekom ek nog ’n TV besit. En ek moet erken, ek kyk ook soms na Shaun-hulle as Oulyfie nie by is nie.

Ons verskeurde ou landjie se eie weergawe van die stoute skaap, die nimlike, beginselvaste Shaun Abrahams, nasionale direkgeur van openbare vergewing, staan nou net mooi tussen ons en ’n blink toekoms.

Gaan hy Nommer Een aankla of nie? Dit moet mos eintlik ’n maklike besluit wees, maar glo my, dis nie so eenvoudig nie.

Nee, Shaun moet nog eers die appèlhof se uitspraak bestudeer! Dis dieselfde as sou Toetie Kortsee sê hy gaan eers weer die video van die wedstryd kyk voordat hy kommentaar lewer as die Bokke met 57-0 verloor het.

Wat is daar om te bestudeer of te verstaan, ou Shaun?

En nou gee hy vir Nommer Een tot kort voor Kersfees om vertoë te rig waarom hy nie saam met die Krismiskalkoen geslag behoort te word nie.

Oom Johnny sê jy sal sien, hy wat Oom Jakob is gaan betoog dat daar te veel tyd verloop het en dat die reg binne ’n billike tyd sy loop moes geneem het.

“Met al sy gesloer en gebriek deur die jare sal dit so goed wees soos wanneer ’n laaitie wat sy ouers vermoor het, ter versagting pleit dat hy ’n weeskind is,” reken die oom.

Ja-nee, soos Dik Daan sê, as Nommer Een ’n handperd kan hê, wat’s fout met ’n hanshandskaap?

Ons ou maters het toe sommer ’n vinnige voorlegginkie vir Nommer Een op ’n restaurantservet geskribbel wat hom vir seker van die haak af sal haal en wat ons later die week by Nskandalig sal laat aflewer.

Voorlegging aan Shaun: “Liewe ou Shaun, oom gaan dit maar kort hou, want soos jy weet is ek nie baie lief vir skryf en jy vir voorleggings lees nie. Net ’n kort storietjie om jou te help besluit, Shaunie, ou seun.

“ ’n Man was bitter bang vir sy eerste tandartsbesoek. Die tandekwak stel die stoel toe agteroor en beveel die vreesbevange ou om sy mond oop te maak, waarop laasgenoemde dok aan sy suidelike dele gryp en sê: ‘Dok, ons gaan mos nie mekaar seermaak nie, nè?!’ So, ou Shau­nie, oom hoop jy verstaan die ou storietjie.”

Ja-nee, soos Dik Daan sê, as Nommer Een ’n handperd kan hê, wat’s fout met ’n hanshandskaap?

En nog so by suidelike dele en lastige Amerikaanse fliekbase wie se rokjagtery hulle nou inhaal: Die eerste beskermboks vir Engelse krieketspelers se suidelike dele is in 1874 gebruik en die kopskerm vir hoofbeserings eers in 1974. Honderd jaar vir die Ingelse om te besef dat die brein ook belangrik is!

Meer oor:  Blouwillem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.