Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Leser moet self oor Christelike bundel oordeel

’n Christelike gedig het op die mens in al sy of haar lewensfasette betrekking, skryf prof. Cas Vos in reaksie op Joan Hambidge se kritiek jeens ’n Christelike bundel.

Prof. Cas Vos

Ek gaan nie aan die versoeking toegee om te reageer op die sarkastiese en spottende opskrif en slot van Joan Hambidge se reaksie op Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte nie.

Oor die oppervlakkige verskil wat Joan Hambidge tussen “geestelike” en “Christelike” maak, moet sy met die uitgewer in gesprek gaan. Hierdie begrippe is baie meer genuanseerd as wat Hambidge voorgee.

Ek reken, in alle beskeidenheid, myself, net soos T.T. Cloete en I.L. de Villiers, nie as Christelike digters nie. Maar ek oordeel dat ek ’n digter is wat in heelwat gedigte ’n Christelike uitstraling het. Dieselfde geld byvoorbeeld die Nederlandse digter Jan Willem Schulte Nordholt.

Daar is wel nuwe gedigte vir die bloemlesing geskryf. In dié verband kan na Bernard Odendaal, Susan Smith en Daniel Hugo verwys word.

Oor toestemming vir die gebruik van gedigte het Marga Stoffer van NB reeds duidelik geantwoord.

As Hambidge beswaar maak teen D.J. Opperman se gedig 'Paddas', verstaan sy nie die betekenis van die plae in Egipte wat uitloop 'op Hom die groot Hosannas' nie.

Hambidge begryp nie dat Orhan Pamuk se Nobellesing niks, maar niks, met sy geloof te doen het nie. Dit gaan eenvoudig oor sy vader se reistas wat as metafoor gebruik word vir die reis deur die bloemlesing.

Die verwysing na Breyten Breytenbach hou ook geensins met sy geloofsoortuigings verband nie. Daar is in die voorwoord slegs van sy pragtige metafoor gebruik gemaak. Die metafoor kry deur die byvoeging “Boland” ’n nuwe betekenis. Virgilius, die heidense digter, is Dante se gids in sy La Divina Commedia. Dit gee aan Dante se teks ’n nuwe verrassende ontsluiting. Lees ook gerus, met aandag, in die Inferno, Canto XXVI, 112-120 hoe Dante Odýsseus se wekroep gebruik. Nogal merkwaardig en insiggewend.

CUM het besluit om Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte ook nie meer op sy rakke te hou nie. Foto: Verskaf

Elke welwillende leser kan die gedigte lees en self besluit wat die gedigte sê. ’n Gedig kry sy eie lewe as dit die digter verlaat.

Die twee gedigte van M.M. Walters, as voorbeeld, pas uitstekend in die bloemlesing. Sy gedigte “Moses” en “Gebed om leiding” is pragtige satiriese gedigte.

Die twee gedigte van Wilma Stockenström, “Die ballade van die bitterarm dood” en “So ook maar maaksel”, kom ook in Die braambos brand voor.

Voorts vind die leser ook die meeste gedigte van Lina Spies, soos byvoorbeeld “Pinkster” en “Lied van die kinders” in Die braambos brand. Vreemd dat Hambidge dit nie kon opspoor nie.

As Hambidge beswaar maak teen D.J. Opperman se gedig “Paddas”, verstaan sy nie die betekenis van die plae in Egipte wat uitloop “op Hom die groot Hosannas” nie.

Haar verwysing na Olga Kirsch se gedigte slaan die bal heeltemal mis. Kirsch put haar gedigte uit die Ou Testament wat deel van die Christendom se kanon is. Olga Kirsch se gedigte kom ook in Die braambos brand voor. Die verwysing na die uittog en Babel is vir die hedendaagse leser nog steeds aktueel.

Die gebruik van dele uit Ernst van Heerden se “Aan die verhuisingsmanne” kry ’n sinryke betekenis vir die reis. Gedigte kan soms in verskillende kontekste nuwe betekenisse ontsluit.

Loftus Marais het geen beswaar dat sy eietydse gedig in die bloemlesing opgeneem is nie. Dieselfde geld Charl-Pierre Naudé se gedigte.

Die welwillende leser moet self oor die insluitings oordeel en nie toelaat dat vooroordeel en blinde emosie hom of haar negatief beïnvloed nie.

Op Hambidge se vraag of Bernard Odendaal en Marlies Taljard die finale manuskrip gesien het, is die antwoord ondubbelsinnig “ja”. Hulle het albei ook noukeurig aan die voorwoord aandag gegee en betekenisvolle opmerkings gemaak. Verder het hulle sinryke toevoegings tot die bundel gemaak.

Hambidge oordeel dat daar slordige en oorhaastige keuses gemaak is. Sy mag in haar haas om te reageer wel so dink, maar die bundel gee self die antwoord. Die bloemlesing is met sorg en oor ’n lang tyd saamgestel.

’n Bepaalde ordeningspatroon word in die voorwoord toegelig.

In hierdie bloemlesing is daar talle gedigte wat nie in Die braambos brand voorkom nie. In dié verband kan na gedigte van N.P. van Wyk Louw, (“Die hond van God”, “Ecce homo”), D.J. Opperman (“Negester en stedelig”, “Nuwe Jerusalem”, “Nagmaal”), Ernst van Heerden (“Die wroegende”), Sheila Cussons (“Die Verlosser”, “Flits uit ’n braaipan”, “Spoeg”), Ina Rousseau (“Adam en Eva”, “Die ster”, “Eva 2”), George Weideman (“Homo loquens”), J.C. Steyn (“Glo”) en Petra Müller (“Engel praat met sy maat” en “heiligskennis”) verwys word.

Die noukeurige lesers sal dit opmerk en dié gedigte waardeer.

Verder is daar talle uitstekende gedigte wat ná die verskyning van Die braambos brand gepubliseer is, ingesluit. As voorbeeld hiervan noem ek net George Louw, Fanie Olivier, Eveleen Castelyn, I.L. de Villiers en T.T Cloete se gedigte.

Ek verwys voorts na digters wie se gedigte op meriete ingesluit is: Pirow Bekker, Hans du Plessis, Koos du Plessis, Lucas Malan, Johann Lodewyk Marais, Johan Myburg, H.J. Pieterse, Tom Gouws, Charl-Pierre Naudé, Trienke Laurie, Heilna du Plooy, Martjie Bosman, Susan Smith, Zandra Bezuidenhout, Sarina Dönges, Gilbert Gibson, Kobus Lombard, Ilse van Staden, Ronelda Kamfer, Carina Stander, Bernard Odendaal, Coenie de Villiers, Mellet Moll, Jacobus van der Riet, Nathan Trantraal, Riël Franzen, Erna Jo Kritzinger en Hennie Smith.

Die welwillende leser moet self oor die insluitings oordeel en nie toelaat dat vooroordeel en blinde emosie hom of haar negatief beïnvloed nie.

Hambidge se tweede laaste paragraaf getuig doodgewoon van swak smaak en onprofessionaliteit. Dit is ’n vreemde gebaar.

Ten slotte: ’n Christelike gedig spreek nie net, soos Hambidge reken, sommer geloof aan of kritiseer dit nie. Nee, ’n Christelike gedig het op die mens in al sy of haar lewensfasette betrekking.

Dit vra ook onder meer die vrae wat mense kwel: Waar is God in hierdie wêreld vol nood en verdriet? Hoe kan mense ook genadige naastes wees?

Die gedigte gee nie antwoorde nie, maar dit kan ’n welwillende leser op sy of haar lewensweg help.

Genoeg is genoeg.

* Prof. Vos is ’n teoloog, digter en skrywer en die samesteller van die bloemlesing Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte.

Meer oor:  Joan Hambidge  |  Gedigte  |  Letterkunde  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.