Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lesufi se ‘klein basie’-mitologie
Barnard Beukman

En daar trek Panyaza Lesufi en Zindzi Mandela toe weer ongevraagd en uit die bloute los met hul brutale, rasgegronde haatspraak.

Dit is nou formeel. Daar kan nie vrede in Gautengse skoolonderwys wees met Lesufi as LUR nie. Om na hedendaagse wit – en in die konteks van sy tirade – Afrikaanse kinders as “klein basies” te verwys, is opstokende haat-spraak en daar is geen regverdiging voor nie. Dit is belangrik dat daar gou wetlik uitsluitsel daaroor kom, veral in ag genome die pos wat hy beklee.

In ’n twiet die naweek, met klaarblyklike verwysing na Jeugdag, sê hy: “Ek weier om #Apartheid te vergeet. Die haat en geweld was te diepliggend en ondraaglik.”

Dit verklap baie van wat hom dryf. Inderdaad kan daar meermale ’n gebrek aan begrip wees van presies wat apartheid aan swart mense gedoen het. Ook teen ’n sterk vloedgolf van daardie wanbegrip is in dié einste rubriek sterk standpunt ingeneem teen Helen Zille se berugte kolonialisme-twiet. Deur die ontwikkeling van goeie infrastruktuur in Afrika of Nazi-Duitsland as balansering vir die gepaardgaande wrede onderdrukking voor te hou, is die ander kant van die Lesufi-munt. Albei kante sê: “Ek wil jou nie verstaan nie.”

Lesufi dien in ’n provinsiale ANC-regering wat net-net deurgeskraap het met 50,19%.

Lesufi dien in ’n provinsiale ANC-regering wat net-net deurgeskraap het met 50,19%. Die protes- en wegblystem was deels te wyte aan swak regering en dienslewering, asook die berugte Life Esidimeni-voorval, waarin die ware sosialistiese onverdraagsaamheid met die massas deur die selfverrykende elite gemanifesteer het. Dít in die wegry, in gevalle agterop oop bakkies, van psigiatriese pasiënte na hul dood.

’n Netwerk24-verslaggewer het op ’n besoek aan een van die “aanhoudingsplekke” ’n sak appels by haar gehad en ’n pasiënt daarvan gegee. Dié was so verhonger dat sy die sak nie wou teruggee nie.

Dit is weens die skaamkwaad oor waarop hul “beter lewe vir almal” uitgeloop het dat daar opportunisties na die verlede teruggegryp word.

Swak, swakker, swakste dienslewering in skole het ook tot groot ontevredenheid onder Gautengers gelei. Baie inwoners van Soweto het hul kinders begin aanry na tradisioneel wit skole in die noordelike voorstede van Johannesburg – dikwels met skoolgeldhulp van hul werkgewers en ouers van die skole. Dít omdat die chaos wat die ANC en die onderwysvakbond Sadou in vele swart skole agtergelaat het, hul kinders se toekoms begin vernietig het.

Daarom is dit reeds ’n jare lange tegniek van Lesufi om Afrikaanse skole – waar ouers, kinders en onderwysers daagliks baie hard werk en nie in skooltyd rondloop nie – as die bose oorsaak van alles voor te hou.

Swak, swakker, swakste dienslewering in skole het ook tot groot ontevredenheid onder Gautengers gelei.

Maar om nou kinders self met onvanpaste byname te begin teiken, maak sy posisie onhoudbaar. Hy skep vir homself mitologiese “klein basies” wat nie meer bestaan nie.

Hoeveel onthou nog die grap van toe die kamerade hulself deur Kubaanse dokters wou laat behandel? Dit moet erg wees as ’n mens se beste planne en pogings op mislukking uitloop.

Die Nelson Mandela-stigting wil nou met Zindzi Mandela gesprek voer oor haar verwysing na wit Suid-Afrikaners as “ongenooide gaste” en “gronddiewe”.

Dit moet inderdaad frustrerend daar buite in die letterlike en figuurlike koue van Denemarke wees om te sien hoe haar “mede- radikale revolusionêres” nou die staatsgelddiewe is.

Ons kort groter wedersydse begrip vir mekaar se werklikhede en moet met groter gemak daaroor kan praat eerder as om dit as openbare skeltaal te gebruik. Maar oor diegene wat ons pynlike verlede opportunisties wil misbruik, kan daar nie langer stilgebly word nie.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Barnard Beukman  |  Haatspraak  |  Rassisme  |  Onderwys  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.