Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lewe is meer werd as happie doekvoetvleis
Gerhard Verdoorn

Jupiter en Saturnus hou wag met twee groot oë waar die son tot ruste gekom het. Jakkals sal moet ligloop vir die skerp oë van die prooidiere wat sy gedagtes wyd oor die vlaktes laat loop.

Dit ruik na kankerbos, Karoorot, rooiwangnaguil en gannabos. Nog niks wat regtig sy aandag trek nie. Hy draai stadig sy nat snoet ooste toe. Rol die reuke diep sy wese in.

Skielik vang hy ’n reukie wat sy oerinstinkte prikkel. Beslis nie vlakhaas of kolhaas nie. Amper. Effens anders. Ruik so tussendeur na sanderige grond. Klipkonyn ook nie, want dié skuil hoog tussen die ysterklip by die dassiekoppies. Die geur walm uit die sandsloot op, daar waar die klein jagtertjies vergange dae pylpunte en handmesse uit die oniks gekap het.

Hy sluip laaglyf af sandsloot toe. Elke poot word versigtig gelig, hoog gehou en weer vorentoe in die sand gedruk. Die reuk raak al hoe sterker. Ander konyn? Klipkonyn wat verdwaal het hier in die heldere nag van die Bo-Karoo? Kan nie wees nie.

Skielik vlieg ’n langoor onder ’n kriebos uit en jakkals skrik uit sy drome. Sy agterpote skop sand en hy spaander agter die langoor aan. Die konyn vleg behendig tussen die bosse deur en fnuik die roofdier.

Jakkals gooi anker en sak hangtong voor die holte neer. Soveel moeite vir niks!

Jakkals maak ’n skelm plan en jaag reguit vorentoe om die konyn af te keer. Sy spoed is te hoog en hy tuimel in die sandsloot af. Voordat hy op dreef kan kom, is die langoor weer volspoed verder in die sandsloot af. Stofwolkies vervaag jakkals se visiere, maar hy raak lank en plat soos hy agter die langoor aanjaag.

Om die draai verdwyn die konyn skielik in ’n holte in die sandsloot. Jakkals gooi anker en sak hangtong voor die holte neer. Soveel moeite vir niks! Maar hy skep asem, want geen konyn sal hom uitoorlê nie.

Die oewerkonyn sit diep in haar nes met twee toe-oog-kleintjies wat knus teen haar skuil. Met lang ore platgetrek hoor sy jakkals se gekrap aan die sanderige grond. Vrese pak haar. Daar is net een roete uit en dit is by jakkals verby. Sy druk die twee kleintjies styf onder haar bors in, afwagtend op die wrede finalé van die jaagtog. Jakkals knor en waarsku sy prooi dat haar tyd vinnig op pad einde toe is.

’n Rooi lig dwaal oor die veld, soekend in die nag. Bosse en grasse maak spookskaduwees in die maan se oog en deins voor die rooi oog weg. Die oog sak af sandsloot toe. Skielik huiwer die rooi skynsel op jakkals wat verbete grawe.

“Bliksem! My ooilammers en wragtig nou my doekvoete ook!” Die geweer bulder die nagstilte in en die warm pit slaan ’n sandstorm langs jakkals los.

“Voertsek, gemors!” Nog ’n donderslag tuimel die nagstilte in en oortuig jakkals om sy aandete te vergeet. Die lewe is meer as ’n paar bekke vol doekvoetvleis werd.

As die boer nie so woedend was nie, was jakkals vanaand die ewigheid in.

  • Dr. Verdoorn is ’n natuurliefhebber en bewaarder.
Meer oor:  Gerhard Verdoorn  |  Herinneringe  |  Lewe  |  Natuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.