Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lewe kan goed wees, selfs in gebrokenheid

As als goed gaan, gaan vriende van ons se dogter, ná ’n vertraging van sewe maande, dié naweek in die huwelik tree. Wat ’n verligting ná al die gewag en onsekerheid.

Onlangs wys hulle my egter die uitnodigingskaartjie na haar oupagrootjie se huwelik. Die datum is doodgetrek en ’n later datum is ingeskryf. Onder “besonderhede” staan daar op die huweliksertifikaat: “Vanweë die Spaanse Griep is die huwelik in die huis van Ouma Pietjie Uijs bevestig deur ds. D.J. Viljoen.” Die griep van 1918 het toe al huwelikseremonies deurmekaargekrap.

Die geskiedenis het ’n manier om homself te herhaal en soms voel dit na van die min konstantes wat ons het in ’n wêreld van onsekere veranderlikes. Ons hou nie van onsekerheid nie, maar as Covid-19 een ding kom bevestig het, dan is dit die werklikheid van onsekerheid en daarmee saam onvolmaaktheid en gebrokenheid.

Van die grootste lesse wat ons moet leer om ware lewensvreugde te beleef, is dat dit nie noodwendig beteken dat als reg, in plek en volmaak moet wees nie. Onvolmaaktheid en onsekerheid is nie ’n teken van jou ongeloof, of die feit dat God afwesig is nie. Dit is deel van die gebroke wêreld waarin ons leef. Dit beteken egter nie dat die lewe nie sinvol en baie goed kan wees nie.

Die vraag bly egter hoe ons dan kan leer om in die spreekwoordelike reën te dans. Twee maniere staan vir my uit. In die eerste plek vind ons sekerheid in geborgenheid en saamwees. Konflik, verwydering en tweespalt verhoog onsekerheid. Liefde, vriendskap, gemeenskap en sosiale kohesie verhoog sekerheid.

Te dikwels gaan soek ons sekerheid in goed en goud, eer en status.

Te dikwels gaan soek ons sekerheid in goed en goud, eer en status. Dit kan vir ’n oomblik valse sekerheid skep, maar die Bybel waarsku oor en oor dat dit baie vlietend kan wees.

In Suid-Afrika het ons ’n berg om te klim wat die ekonomie betref. Ons skuldlas en werkloosheid laat jou keel toetrek. Ons sal moet besef dat die opbou en herstel van ons land onder meer bepaal gaan word deur verhoogde sosiale kohesie en nuwe sosiale kontrakte wat nuwe vertroue en samehorigheid skep. Ons het dit plaaslik en nasionaal nodig. Daarsonder sal die onsekerheid bly voortduur.

In die tweede plek word ons sekerheid nie in onsself gevind nie. “Selfversekerdheid” kan ’n gevaarlike ding wees. Christen-gelowiges verstaan dat daar onuitspreeklike vrede en sekerheid gevind word in die werking van die Heilige Gees in ons.

Anders gestel: Ons sekerheid lê nie in wat ons doen of gedoen het of selfs ons beloftes aan God nie. Ons sekerheid lê in die beloftes van God aan ons, wat bevestig word deur die werking van die Heilige Gees in ons.

Weet ons wat daardie beloftes is? Herinner ons mekaar genoeg daaraan? Leef ons daaruit? Of laat ons ons gemoed bepaal deur die konstante veranderlikes om ons?

  • Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.
Meer oor:  Braam Hanekom  |  Trou  |  Covid-19  |  Godsdiens  |  Lewe  |  Geloof  |  Huwelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.