Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Liefde in die tyd van korona

Die liefde het ’n manier om oorloë, afstand, teenspoed en selfs die koronavirus te oorwin, skryf Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Ek voel stoksielalleen. Dit is Vrydag 27 Maart en die eerste dag van inperking. Ek word wakker sonder die geluid van die verkeer op die N1 wat reg by my huis verbyloop en dit tref my.

Ek is alleen.

Ja, my kind is in die kamer langsaan en daar is drie katte wat al klaar staan en miaau vir kos en aandag, maar daar is niemand in die bed langs my nie.

Niemand wat my hand kan vashou en my kan laat voel dat ons hierdie nagmerrie gaan oorleef nie.

In my ideale dagdroom lê Manlief Superster langs my met sy kaal bolyf (sonder borshare) en bestudeer my lustig en liefdevol. Ek lyk vir hom so mooi met my hare wat reeds begin uitgroei het by die wortels. Hy vertel my dat als oukei sal wees terwyl hy opstaan (hy is kaal) en gou sy joga-oefeninge voor die venster (wat uitkyk oor die see) doen.

Maar nee. Ek is alleen in die bed. En dis net ek wat vir myself kan vertel als gaan oukei wees.

Dis nie net my lot nie.

Daar is miljoene enkellopendes wêreldwyd wat met inperkings gedwing is om op te hou date en nou inperking alleen moet trotseer. Ek self het my dating apps gekanselleer, want wat is die punt? As ek nie mag uitgaan nie, en restaurante is gesluit, waar kan ons ontmoet? Vir vyf minute in die Woolies as ons gaan kos koop? En dit dan nog ook met ’n veilige afstand tussen ons?

Maar die liefde het ’n manier om oorloë, afstand, teenspoed en selfs die koronavirus te oorwin.

Orals begin stories kop uit te steek van romanses tussen woonstelmaats of kamermaats in huise wat onder kwarantyn is en nou gedwing word om mekaar beter te leer ken. Die daaglikse intimiteit van saamleef en huishou saam is reeds in plek, en wat is meer geskik vir romanse om vlam te vat as inperking en verveling?

Liefde op ’n afstand

Die mooiste koronaromanse tans is dié van Jeremy Cohen en Tori Cignarella wat oorkant mekaar bly in Brooklyn, New York. Tydens die inperking het hy een oggend ’n meisie gesien wat op die gebou oorkant hom se dak dans, en hy het vir haar gewaai. Sy het teruggewaai . . .

Hy het net daar besluit om kreatief te wees en het ’n nota met sy telefoonnommer en ’n uitnodiging om hom te bel met ’n hommeltuig na haar gestuur. Sy het hom toe wel ge-WhatsApp en hulle was reeds op ’n ete-afspraak – maar elkeen by sy eie tafel – hy in sy woonstel en sy op die dak. Hul romanse word nou deur miljoene mense gevolg.

Ek is ’n alleenmens wat selde uitgaan, van die huis werk en niks hou van sosialisering nie – hierdie inperking is vir my net nog ’n normale dag.

Verlede week het hy die romanse ’n graad of twee verder geneem deur ’n lugborrel voor haar woonstelgebou op te blaas, daarin te klim en met ’n bos blomme vir haar te wag. Sy het by die deur uitgestap gekom, verbaas en laggend die situasie aanskou en toe vir ’n entjie saam met hom gaan stap – hy in die lugborrel en sy buite!

Maar ek dans nie op geboue nie en leef reeds in isolasie. Ek is ’n alleenmens wat selde uitgaan, van die huis werk en niks hou van sosialisering nie – hierdie inperking is vir my net nog ’n normale dag. Ek bly nou al vier jaar in ’n keeromstraat rondom ’n parkie. My bure en die mense wat saam met my in die sirkelstraat bly, is vir my vreemdelinge.

Ek het nie eens ’n hond wat ek parkie toe kan vat vir ’n stappie en só ander honde-eienaars kan ontmoet nie.

Wat kan ’n krisis nie als doen nie . . .

’n Krisis bring egter mense bymekaar en die ironie van die gedwonge korona-isolasie is dat dit my uit my eie isolasie dwing.

Meteens is ek op ’n WhatsApp-groepie met al my bure en die mense wat in die keeromstraat woon en leer ek mense ken wat ek nie eens geweet saam met my ’n parkie deel nie.

Soos K.

K het gistermiddag meteens begin grappies maak in die WhatsApp-groep oor uitrustings wat hy wil dra sou die aarde vergaan, en ek en hy het gou agtergekom ons het dieselfde verwysingsraamwerk en ken dieselfde rolprente.

Maar almal in die straat is getroud!!!

Of is hulle?

Ek het dadelik ’n private boodskap vir my buurvrou gestuur.

“Wie is K?”

“O dis ’n man wat onlangs hier ingetrek het.”

“Ek weet dis ’n man, maar is hy single!”

“So ver ek weet, ja.”

“Hoekom het jy nie vir my gesê hier het ’n single man ingetrek nie!”

“Want jy sosialiseer nooit met ons nie, Erla!”

Ek en K gesels nou privaat op WhatsApp.

Hy beskryf homself as ’n nerd met ’n sagte hartjie. Hy dink ek het mooi oë. Hy draf glo soms kaal om die parkie in die middel van die straat as niemand kyk nie.

Klink na die ideale man om te bevriend in hierdie vreemde tyd waar enigiets moontlik is.

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  New York  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Liefde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.