Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Liefde: Moeilik te begryp, tog binne bereik
Wilhelm Jordaan

Die digter W.E.G. Louw het geskryf: “Ek het jou liewer as die wind of die water, / liewer as suiwer sonlig en see; / ek het jou lief met die wonderkrag / wat die hart van ’n mens aan mens kan gee . . .”

Maar wat is die “wonderkrag” wat so gegee word nou eintlik? Veral as ’n mens Franz Kafka se segging onthou: Die liefde is soos ’n draaiende spintol wat sy bekoring verloor sodra jy dit stop om te kyk hoe dit werk! Tog, dan, ’n vlugtige stoppie om te kyk hoe die diep liefde van nóú die nog dieper liefde van later kan word:

Miskien heel eerste dat liefdesmaats mekaar liefhet as mense van vlees en bloed en nie illusies oor mekaar opdroom nie. Liefde taan dikwels omdat mense vergesogte opvattings oor die “ware liefde” vertroetel – dat die geliefde sonder foute is, nooit knorrig nie, al jou behoeftes ken en vervul, al jou angste en eensaamheid wegneem en altyd goedkeur wat jy sê en doen.

Hierteenoor die gewilligheid om die geliefde steeds lief te hê, al is hy of sy onvolkome en onafgerond – miskien juis omdat jyself so onvolkome en onafgerond is.

Vir liefdesmaats is hul verhouding nie vanselfsprekend nie.

In die aanvanklike beneweling van die liefdesvuur geniet die verhouding die hoogste voorkeur en baie tyd en energie word daaraan bestee. Maar algaande is daar druk op ’n verhouding weens werkverpligtinge, woelinge in die gesinslewe, rolruilings, onversoenbare waardebeskouings en die ellende van oudword. Juis dan moet tyd en ruimte gemaak word om die verloopte magic van gister met verrassende nuwe bekoring te beklee.

Jou woorde is betroubaar, soos ’n kompasnaald wat noord soek en vind.

Liefdesmaats vertrou mekaar ten volle. Hulle is oortuig hul omgee vir mekaar is ’n werklikheid waarop gereken kan word en dat hulle waarde heg aan die ontdekking van mekaar se ontvouende menswees. Uit dié vertroue groei eerlikheid teenoor mekaar – die gereedheid om volgens jou beste insigte en bedoelings opregte mededelings oor jouself, die ander of oor ’n saak te doen. Jou woorde is betroubaar, soos ’n kompasnaald wat noord soek en vind.

Juis daarom kan liefdesmaats mekaar se teregwysings en vermanings aanhoor én verduur, want elkeen weet wat die ander eerlik sê, soek nie eiebelang nie en is nie daarop gemik om die ander ’n opvoedkundige lessie te leer of te verneder nie.

Uit vertroue en eerlikheid vloei liefdesmaats se onvoorwaardelike agting vir mekaar. Dit maak dat hulle nie net vreugde het aan alles wat hulle deel in die kragveld van erns en lag nie, maar ook begrip het vir mekaar se andersheid – al die verrassende vreemdhede wat mens beurtelings laat lag en slange wil laat vang.

Maar bedink die liefdesding nou weer: Kafka is reg! Die liefde leef nie in paragrawe soos dié hierbo nie; ook nie in gedigte, geleerde tesisse, raadgeeboeke en verhoudingsreseppies nie.

Om ’n ander lief te hê, is belewende “wonderkrag” – moeilik om te begryp, maar binne bereik as jy jou hart daarop sit en verwonderd bly oor hoe die ding wat tol, bly tol.

Dis mos magic.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Smagting  |  Romanse  |  Liefde  |  Troetel  |  Liefwees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.